top of page

Gedagte vir Vandag

Maandag, 6 November 2023

Koos Espach


Hoofstuk 18 – Paulus in Korinte (Hand. 18:1-28)


Paulus keer terug na Antiogië toe (4)


God se wil is tot ons beswil


Hand. 18:21 – “Paulus het van hulle afskeid geneem en gesê: ‘As God wil, kom ek na julle toe terug.”


Ons het Vrydag gesê ons moet ook waak dat ‘as die Here wil’ of die gebruiklike ‘DV’, nie ‘n byvoeging word wat uit gewoonte of bygeloof gebruik word nie. Dit kan ook maklik ‘n vroom gewoonte raak om DV te gebruik om ons gewete te sus. Die Latynse vertaling vir ‘as die Here wil’ is Deo Volente, waar ons DV vandaan kom. Dit is ook interessant om te weet dat, ‘as God wil’, woorde is wat Socrates meer as 400 jaar vC reeds gebruik het.


Wat bedoel ons daarmee wanneer ons DV gebruik? Bedoel ons dalk dat God se wil ‘n soort bloudruk is wat reeds bepaal is en net wag om uitgevoer te word? Of is dit dalk erkenning dat God ‘n rooi streep deur ons planne gaan trek indien ons Hom nie geken het in die beplanning nie? Dit is duidelik dat Jakobus van ons vra om deeglik rekening te hou met die werklikheid dat God wel ‘n streep deur ons planne kán trek ... “Julle wat nie eers weet hoe julle lewe môre sal wees nie!” (Jak. 4:14). God is egter nie spiteful nie, inteendeel, Hy wil nie hê ons moet planne maak ter wille van onsself nie. Hy weet dit is die pad na ondergang en Hy wil ons waarsku daarteen. Ons planne moet Sy koers volg anders kom ons nie by die regte adres uit nie.


Die Spreukeskrywer beaam ook: “Moenie roem oor wat jy môre verwag nie; jy weet nie wat die dag sal oplewer nie” (Spr. 27:1). Ons kyk na onsself in die spieël en sien ‘n trotse beeld van onsself met die voorstelling dat wat ook al beplan word, so te sê reeds uitgevoer is. Die wanneer en waarheen is ook reeds selfversekerd vasgemaak. Alles gaan glad en volgens plan verloop! Óns plan! Jakobus bederf egter ons “grootpratery” en bring ons hard terug na die realiteit van die lewe toe. Hy maak dit baie duidelik dat die mens nie in beheer van sy eie lewe is nie: “Julle wat nie eers weet hoe julle lewe môre sal wees nie!


Geen mens kan met sekerheid weet wat selfs die volgende minuut of uur gaan inhou nie, wat nog te sê wat die volgende dag gaan inhou, en nog minder hoe dit benut gaan word. Dit is soos om ‘n damp op dieselfde spieël waarin ons kyk, te blaas – die wasem op die spieël verskyn ‘n oomblik en verdwyn sommer weer. Die realiteit van die lewe is dat die verganklikheid van ons aardse bestaan, ‘n werklikheid is.

Dit is natuurlik nie verkeerd om vooruit te beplan nie. Om passief deur die lewe te gaan is ook verkeerd. Dit is wel verkeerd wanneer dit ‘n saak van eie willekeur is. Selfs Paulus het dit uitgevind toe God sy reisplanne gewysig het (Hand. 16:6-10). Wanneer ons God nie ken in ons beplanning nie, erken ons eintlik ons selfversekerdheid. Maar ongelukkig kan geen mens met sekerheid weet wat die hoedanigheid van môre gaan wees nie. Die onsekerheid van ons aardse leeftydperk is ongelukkig ‘n feit. Daarom is die woorde “as die Here wil” nie woorde van ‘n passiewe mens nie, maar eerder dié van iemand wat aktief soek na planne wat God deur hom of haar wil doen. Dis goed om my en jou planne aan te pas saam met God. Begin by God, Hy is héél Bo – “as die Here wil” – sal Hy, want Hy kan waar ek en jy nie kan nie! Hy het reeds gegaan waarheen ons nog op pad is! Volg Hom “soos Hy wil!”


“Gebruik jou tyd nóú want elke oomblik is ‘n wonderwerk wat nie weer gaan gebeur nie” (Herb Montgomery).


Gebed: Hemel Vader, ek maak planne vir die toekoms asof ek vir ewig op aarde gaan lewe. Eintlik is ek onkundig oor die brose aard van my menslike bestaan. Maar die situasie is nog erger, ek kan geen sekerheid hê dat ek self hoegenaamd nog daar sal wees of in staat sal wees om die dag van môre te benut nie! Die regte ding sou wees dat my planne U koers volg. Help my om dit so in te sien, elke keer voor ek DV gebruik. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page