Gedagte vir Vandag
Donderdag, 2 November 2023
Koos Espach
Paulus se Tweede Sendingreis (58)
Paulus keer terug na Antiogië toe (2)
In die voetspore van Jesus
Hand. 18:18 – “Nadat Paulus nog ‘n tyd lank daar by die gelowiges in Korinte gebly het, het hy van hulle afskeid geneem en saam met Priscilla en Akwila na Sirië toe vertrek. Voordat hy in Kenchreë aan boord gegaan het, het hy sy hare laat afsny, omdat ‘n gelofte wat hy afgelê het, vervul was.”
Paulus het Korinte nie dadelik verlaat nadat Gallio sy uitspraak gegee het nie, en nog ’n paar maande langer in Korinte gebly soos Jesus in die visioen vir hom gesê het om te doen (18:9). Langer kon hy nie bly nie, maar die gelowiges in Korinte wat hy agterlaat, kon die vrugte van sy arbeid daar pluk – die heerlike ‘banier’ van Jesus Christus wapper ook in Korinte – ‘n Christelike gemeente reg langs die beledigende Jode se sinagoge! Voordat hy te Kenchreë aan boord gegaan het, het hy sy kop laat kaal skeer as teken van die vervulling van ’n gelofte wat hy aan God afgelê het, ‘n handeling wat gewoonlik by die tempel in Jerusalem plaasgevind het.
Dis vreemd dat Paulus op hierdie wyse feitlik ’n ‘kontrak’ met die Here aangegaan het, maar daar moet onthou word dat Paulus sy dankbaarheid jeens God volgens die gebruik van sy tyd te kenne gegee het. Hy was gewillig om ’n Jood vir die Jode te word (1 Kor. 9:20). Daarom was sy optrede histories moontlik. Die enigste gelofte waarvan ons lees, was dit eintlik die Here wat in ‘n visioen aan hom verskyn het en hom belowe het dat niemand hom sou aanval of kwaad aandoen nie (18:9-10). Nadat die Here hom vir die agtien maande in Korinte so goed teen die Jode bewaar het en hom gelei het in die stigting van die gemeente, het hy nou sy hare laat afskeer, volgens die voorskrifte van die ‘nasireërgelofte’ (Num. 6:5). Waarlik, God is ‘n waarmaker van Sy woord en belofte.
Ter agtergrond is dit miskien nodig om te besef dat die nasireërgelofte ‘n persoonlike wyding aan God is, daarom die uiterlike kenteken van die lang hare. (Ander nasireërs: Simson, Samuel, Johannes die Doper). Dit was asof die nasireërs die voorbeeld moes stel van hoe die volk ‘n lewe van gehoorsaamheid en toewyding aan die Here moes leef. Paulus wil hiermee vir ons wys dat God ook wil hê ons moet in sy Seun, Jesus Christus se voetspore volg (Fil. 3:7-14). Omdat ons in Hom glo, is ons familie van Hom en daarom moet ons soos Sy kinders optree (Joh. 1:12). En die beste manier om dit reg te kry is om soos Paulus, voluit agter Jesus aan te stap. Uiteraard het dit heelwat gevolge vir Paulus ingehou.
Sal ek en jy byvoorbeeld bereid wees om ter wille van Christus, alles wat eens vir ons belangrik was, weg te gee? Wel, Paulus het. Trouens, hy het dit as ‘n klomp gemors beskou wat uit sy lewe verwyder moes word: “Wat eers vir my ‘n bate was, beskou ek nou as waardeloos ter wille van Christus ... want om Christus Jesus, my Here te ken, oortref alles in waarde ... Ek het alles prysgegee en beskou dit as verwerplik sodat ek Christus as enigste bate kan verkry en een met Hom kan wees ...” (Fil. 3:7-9a).
Sal ons bereid wees om ter wille van Christus, vervolging en baie lyding verduur? Paulus het! Tronkstraf, lyfstraf, met klippe gegooi en vir dood agtergelaat, beledigings en nog baie meer. Ongemak, was sy voorland. Hy het egter nie omgegee nie: “Al wat ek wens, is om Christus te ken, die krag van sy opstanding te ondervind en deel te hê aan sy lyding deur aan Hom gelyk te word in sy dood, in die verwagting dat ek self deel sal hê aan die opstanding uit die dood” (Fil. 3:10-11).
Ek glo dat baie van ons gelowiges daarvan hou dat ons kinders in ons voetspore moet volg, of selfs beter doen as wat ons gedoen het, afhangende natuurlik van elkeen se unieke omstandighede. Die meeste van ons wil hê dat ons kinders soos ons moet dink, leef en optree, die nakoming van dit wat ons met hulle doopbelofte afgelê het om ons kinders groot te maak volgens die Bybel en om hulle in die kerk op te voed (onderrig en te laat onderrig in die weë van Christus). Dit is ook aangenaam om te hoor wanneer mense sê ons kinders aard na ons.
In die meeste susterskerke lê jongmense hierdie tyd van die jaar, hulle Belydenis van geloof af waar hulle o.a. bely dat die Here Jesus Christus hulle persoonlike Verlosser is, dat hulle Hom liefhet en dat hulle beloof om Hom tot aan die einde van hul lewe te dien en sy Naam getrou te bely voor mense. Hierdie geloofspad is egter nie altyd so maklik nie en baie raak moeg en val uit langs die pad. Daarom is dit belangrik dat ek en jy as ouers en selfs grootouers, gedurig vir ons kinders moet bid dat hulle soos Paulus, hulle dag en nag soos ‘n atleet inspan om volspoed na die eindstreep te hardloop, sodat hulle die hemelse prys kan behaal waartoe God hulle geroep het in Christus Jesus (Fil. 3:14).
En ons? Ek en jy as ouers, en selfs grootouers? Paulus roep vir my en jou in Filippense 3:17 om sy navolgers te wees. Niks minder nie as sy allerbeste was genoeg vir ons Here. As ons bereid is om sy voorbeeld te volg, “ons losmaak van wat agter ons is en uitstrek na wat voor is; in te span om by die wenstreep te kom, wag daar vir ons ook ‘n groot hemelse prys” (Fil. 3:14). Ek en jy het ‘n toekomsverwagting. Ons sien uit na Jesus se wederkoms en die maaltyd saam met Hom, wat ons nou reeds met elke nagmaal geniet. Geniet dit!
“Mense verstaan net soveel van God se liefde en genade as wat hulle in óns lewe sien. Die eerste Bybel wat baie mense sal lees, is my en jou lewe” (Rebecca Manley Pippert).
Gebed: Hemel Vader, dis net deur U genade wat ek deel kan wees in Christus en die krag ontvang om as gelowige te volhard. Help my en my gesin, my familie en vriende om in Jesus se spore te bly loop en verkeerde idees, opinies en gedagtes wat in stryd is met dit wat ons glo, te verwerp. Stel my in staat om staande te bly in die geloof in die mooiste Naam wat ek ken, Jesus Christus ons Here. Amen.
Comments