top of page

Gedagte vir Vandag

Vrydag, 29 September 2023

Koos Espach


Ons vertrek DV Maandag, 2 Oktober op ‘n kort vakansie en sal DV weer Maandag, 16 Oktober die dagstukkies versend. Shalom.

Paulus se Tweede Sendingreis (44)

Paulus in Atene (9)


Ervaar die God van liefde se genade


Hand. 17:28-29 – “Want deur Hom lewe ons, beweeg ons en bestaan ons. Of soos party van julle digters ook gesê het: ‘Ons stam ook van Hom af.’ 29 Aangesien ons dan self van God afstam, moet ons nie dink dat die Godheid aan beelde van goud, silwer of klip gelyk is nie. Dit is bloot skeppinge van menslike vaardigheid en verbeelding.” (2)


Op grond van die feit dat die mens van God afstam, maak Paulus nou die gevolgtrekking dat die diens van afgode en afgodsbeelde te veroordeel is. Wanneer die mens God se geslag is, mag hy nie aanneem dat God aan beelde van goud, silwer of klip gelyk is nie. Alle beelde immers, van watter materiaal ook gemaak, is slegs die skepping van menslike vaardigheid en verbeelding. As die mens van God afstam, kan so iets soos ’n lewelose beeld nie die lewende God voorstel nie. As ’n mens die Gees van God besit, moet ’n mens insien dat God Gees is en nie deur tasbare dinge voorgestel kan word nie.


God wat groot is en alleen gevrees moet word, is die Skepper van alle dinge. Niks of niemand kan met Hom vergelyk word nie. Vir ons is daar net één God, die Vader, uit wie alles is en ons vir Hom, en één Here, Jesus Christus, deur wie alles is en ons deur Hom. Die Heilige Gees wie in ons gelowiges woon, verbind ons aan die Seun van God sodat ons deur ons band aan Christus, kinders van God word (Rom. 8:14-17). God leef en kan nie vergelyk word met heidense afgode wat met mensehande gemaak is nie. Afgode wat nie kan praat, nie sien, nie hoor, nie ruik, nie voel of nie kan loop nie (Ps. 115:4-8).


Paulus beklemtoon in Romeine 11:33-36 met ‘n aangrypende lofprysing van hoe God die gang van die wêreldgeskiedenis en die lewensgang van elke mens beheer: “O diepte van die rykdom en wysheid en kennis van God! Hoe ondeurgrondelik is sy oordele, hoe onnaspeurlik sy weë! ‘Wie ken die bedoeling van die Here? Wie gee Hom raad? Wie bewys Hom ‘n guns, sodat Hy verplig is om iets terug te doen?’ Uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge. Aan Hom behoort die heerlikheid tot in ewigheid! Amen.”


Ons het gister se dagstuk geëindig met die vraag wie God vir jou is? Wie is God regtig? Daar is duisende beskrywings, teorieë en feite oor wie God regtig is, maar ek dink een van die beste beskrywings wat ek van weet, is dat God liefde is! (1 Joh. 4:8). Deur Sy allesomvattende en allesdeurdringende (ver, wyd, hoog en diep) liefde en genade, is God die Een wat stukkende mense, met sy Seun se arms wat uitgestrek aan die kruis gehang het, uit die modder van die sonde uittel en hulle Koningskinders maak! God begin elke keer weer heeltemal van voor af met ons met nuwe hoop, want daar is ‘n ander weg, ‘n beter weg as die weg van die sonde.


“Wie ken die bedoeling van die Here? God spesialiseer daarin om sondaarmense soos ek en jy, wat werklik niks het om Hom aan te bied nie, behalwe ‘n sak vol sonde wat ons skouers al krom getrek het deur al die swaar dra, terug te vat. En om te dink dat God bereid was om Sy allerbeste te gee om ons sondaars met Hom weer te versoen. Niemand het Hom ‘n “guns bewys, sodat Hy verplig is om iets terug te doen nie,” dit was deur God se onbeskryflike genade en liefde, dat Hy op daardie verskriklike Vrydag, sy Seun tot op die bitter einde laat koers hou het op die genadepad, vanaf Getsemane op die Via Dolorosa, tot by Golgota.


Ons het al só gewoond geraak om wanneer mense ons vra hoe dit gaan, te antwoord: “Nee wat, uitgespaar deur die genade.” Maar ervaar ons regtig God se genade? Besef ons regtig hoe onbeskryflik groot God se genade is? Philip Yancey vra ‘n ontsettende belangrike vraag in sy boek “What’s so amazing about grace? – glo ons werklik in genade ... en gee ons lewe dit net so kragtig te kenne as ons woorde?” Geen mens, maak nie saak hoe belangrik hulle is of hoe goed hulle ook al leef, kan iets doen “sodat God verplig is om iets terug te doen” nie. God skuld ons niks nie, maar het tog duur betaal om Sy genade vir ons verniet te skenk!


Philip Yancey vra ook hoe ons die God van liefde se genade kan meet? Leer die wêreld iets, deur óns, Sy gelowige verteenwoordigers op aarde dop te hou? Onverwyld kom die antwoord dat ons nie Sy genade verdien nie want ons tree nie op soos begenadigdes nie. Maar Goddank, “Uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge.” Ek kan nie as sondaar God behaag, deur énige metode, om myself te verbeter nie, maar ek kan my tot Hom wend vir genade. En dan vind ek uit dat ek vir altyd ‘n begenadigde is want deur in Jesus Christus te glo, het ek genade uit God se hand ontvang. As onvolmaakte sondaar kyk ek nou deur lense wat met genade getint is, lense wat gekraak is, sodat God se genade daardeur kan skyn – “aan God behoort die heerlikheid tot in ewigheid! Amen.”


“Man is broken. He lives by mending. The grace and love of God is the glue” (Eugene O’Neill).


Gebed: Hemelse Vader, U genade en liefde het al só vanselfsprekend geword, dat ek nie eers meer opgewonde raak daaroor nie. Gees van Waarheid, herinner my asseblief elke oomblik daaraan dat God se genade en liefde, ‘n kosbare skat is en dat ek niks daarvan verdien het nie. Dat dit die enigste kans was, om my ‘n nuwe mens te kon maak. Amen.

 

Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page