top of page

Gedagte vir Vandag

  • Sep 28, 2023
  • 4 min read

Donderdag, 28 September 2023

Koos Espach


Paulus in Atene (8)


Die stabiliteit van ons enigste God


Hand. 17:28-29 – “Want deur Hom lewe ons, beweeg ons en bestaan ons. Of soos party van julle digters ook gesê het: ‘Ons stam ook van Hom af.’ 29 Aangesien ons dan self van God afstam, moet ons nie dink dat die Godheid aan beelde van goud, silwer of klip gelyk is nie. Dit is bloot skeppinge van menslike vaardigheid en verbeelding.”


Namate Paulus aangaan om aan sy hoorders die verskille tussen die lewende God en hulle gode uit te wys, redeneer hy hulle afgodsbeelde van hulle voetstukke af! Die lewende God staan nie êrens op ‘n voetstuk soos hulle gode nie. God se staanplek is hoër as die Areopagus en ook groter as die 15m hoë beeld van die antieke godin Atena Promachus naby die Parthenon! God is ook nie afhanklik van mense nie. Inteendeel, deur ons God lewe ons, beweeg ons en bestaan ons. Om te bevestig wat hy sê, haal Paulus een van hulle digters, Epimenedes uit die sesde eeu aan, wat die presiese drievoudige verwysing – lewe, beweeg en bestaan – gebruik het in sy gedigte. Om die spyker dieper in die Ateners se siele in te dryf, haal hy nog een van hulle digters, Aratus wat ongeveer 315-240 vC geleef het, ook aan: “Ons stam ook van Hom af.”


Beweeg Paulus nie nou op dun ys nie, ek meen, hy spaar hulle glad nie hulle fyngevoeligheid nie? Nee, dis waarheid wat hy verkondig! Op ’n baie taktvolle manier sinspeel hy daarop dat ’n volk wie se digters so ’n diepe insig in die wese van die godheid gehad het, hulleself nie moet verlaag tot aanbidding van afgode en afgodsbeelde (v. 16), of tot ’n minderwaardige begrip van ’n god wat deur mensehande bedien word asof hy aan iets behoefte sou hê nie. Die feit dat ons as mense van God afstam, beteken nie dat ons goddelike wesens is nie. Ons kan dus saam met die Ateners hoor dat God nie in mensgemaakte “beelde van goud, silwer of klip,” sigbaar gemaak kan word nie. Ons as mense is God se nageslag omdat ons na Sy beeld geskep is (Gen. 1:27). Ons is dus Sy verteenwoordigers hier op aarde.


Dat die mens deur God leef, beweeg en bestaan, was nie ’n onbekende begrip vir Paulus se gehoor nie. Tog was daar ‘n verskil. Die Grieke het dit op Zeus van toepassing gemaak, terwyl Paulus egter van die God van die Bybel praat: “God het al wat lewe in sy mag, die asem van elke mens” (Job 12:10); in Kol. 1:16-17 sê Paulus: “Alles is in Christus geskep … deur Hom en tot Hom … en in Hom hang alles saam” en in Rom. 11:36: “Want uit God en deur Hom en tot Hom is alle dinge. Aan Hom behoort die heerlikheid tot in ewigheid! Amen.” God se plan vir die redding van die wêreld is nie net bedoel vir ‘n eksklusiewe groepie mense, soos wat baie godsdienste dit aan hulle wil toeëien nie, dis belowe vir alle mense: “Die genade van God wat verlossing bring, het immers aan alle mense verskyn” (Titus 2:11). Saam, as gemeenskap van gelowiges, kan ons dan in aanbidding en lofprysing voor God jubel.


God het met elke mens ’n doel dat die mens Hom sal soek om Sy wil te doen. Wanneer God ons Sy genade bewys, is dit louter ‘n geskenk uit liefde uit! Aangrypend! Gee dit ons nie gemoedsrus sodat ons dit in lofprysing voor God behoort uit te jubel nie? “Uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge”“Uit” God is die grondslag van die uitverkiesing gelê; Hy het nie geskroom om Sy eie Seun te gee om ons weer met Hom te versoen en “deur” Hom het die Heilige Gees die verlossing vervolmaak. Niemand, geen mens het enige hand bygesit om God te help met Sy verlossingswerk nie, alles is “tot Hom” gerig. God alleen het alles beskik soos dit geskied het. Ons kan maar net saam met Paulus dit bevestig met ‘n lofprysende “amen”.


Die toppunt van dwaasheid is om die standaarde van Christus te ken, maar dit te ignoreer (my eie opinie). Paulus het sy hoorders en ons, diep onder die besef gebring hoe God die wêreldgeskiedenis en die lewensgang van elke mens beheer. Vir gemoedsrus en kalmte van gees in hierdie onstuimige wêreld waarin ons leef, kán ons nie anders as om net op ons lewende Verlosser te fokus nie. Daar was, en is en sal altyd net een ware pad tot die lewe wees – God se pad, want “uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge.”


Ten spyte van al die verklarings en verskillende teorieë van die mens, is Jesus Christus, die vleesgeworde Woord van God, nog steeds die enigste “Weg, die Waarheid en die Lewe. Niemand kom na die Vader behalwe deur Hom nie” (Joh. 14:6). Mense wat nie in Jesus Christus glo nie, wandel op die pad wat hulle eie blinde hart beplan het. Hulle gee hulle eie interpretasie aan die lewe. Hulle vergeet “aan Hom behoort die heerlikheid tot in ewigheid.” Wie is God vir jou?

“Mense verwerp nie die Bybel omdat dit homself weerspreek nie, maar omdat dit hulle weerspreek”

(E Paul Hovey).


Gebed: Vleesgeworde Woord, help my om onlosmaaklik vas te hou aan U Woord sodat ek in U, die lewe kan vind. Enigste God van alle dinge, aan U kom toe die eer en die heerlikheid tot in alle ewigheid! Amen.


 
 
 

Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page