Gedagte vir Vandag
Donderdag, 7 September 2023
Koos Espach
Paulus in Tessalonika (3)
Die oproer in Tessalonika (3)
Keer die wêreld op sy kop
Hand. 17:6-7 – “Toe die Jode hulle nie kry nie, sleep hulle vir Jason en ‘n paar ander gelowiges na die stadsbestuur toe en skreeu: ‘Dit is die mense wat die hele wêreld in beroering bring. Hulle is nou hier in ons stad, 7 en Jason het vir hulle huisvesting gegee. Hulle handel almal in stryd met die keiser se wette en sê dat daar ‘n ander koning is, Jesus!”
Waarskynlik omdat Paulus en Silas elders in die stad besig was met preek, of omdat hulle gewaarsku is, kon die Jode hulle nie in die hande kry nie. Ons weet nie wie Jason was nie en hoor ook nie weer van hom ná hierdie konfrontasie nie, maar hý moes dit toe ontgeld. Hy is medepligtig. Hy het die oproermakers gehuisves en so aan hulle die geleentheid gegee om hulle boodskap te verkondig. Die aanklag word voorts teen alle Christene ingebring dat hulle in direkte stryd met die keiser se wette handel deur te sê dat daar ’n ander koning as die keiser is, naamlik Jesus.
Die wette waarna hier verwys word, is die wet waardeur die persoonlike eer en regte van die keiser beskerm en gehandhaaf is. Wie die keiser in sy keiserlike eer aangetas het, is met die dood gestraf. Ironies is dit hier die Jode wat die keiser se eer in beskerming neem, waarvoor hulle self nie ’n te groot liefde gehad het nie. Dit herinner aan dieselfde houding wat die Jode teenoor Jesus ingeneem het (vgl. Luk. 23:2; Joh. 19:12).
Dit klink onwerklik om te dink dat die evangelie die oorsaak is van ‘n betoging. Maar as ons mooi daaroor nadink, dan is die klomp leeglêers reg toe hulle gesê het dat die boodskap wat Paulus verkondig, “die hele wêreld in beroering bring.” Tot vandag toe is dit nog so. Die evangelie lei steeds tot betogings en bakleiery en selfs tronkstraf. Die evangelie laat geen mens op aarde onaangeraak nie. Elkeen het ‘n keuse: Of ons gaan staan aan Jesus se kant en dra ons kruis soos Hy gevra het – “Hy wat nie sy kruis dra en My volg nie, is nie werd om aan My te behoort nie” (Matt. 10:38) – of ons kies kant téén Hom en doen ons bes om die evangelie te betwyfel.
Ons Christene van vandag is steeds nie populêr nie. Die teenstanders van die evangelie gebruik net meer gesofistikeerde rookskerms soos byvoorbeeld ‘godsdiensvryheid’, om die Christendom te ondergrawe. Volgens hierdie teenstanders is alle godsdienste gelyk en almal se ‘goeie’ eienskappe moet van die skoolbanke tot in die politiek ontgin word. So, niks is nuut nie. As Paulus dit bly glo het, sou hy as Fariseër wat hy was, rustig aangekarring het en almal in Tessalonika, die opruiende Jode inkluis, toegelaat het om elkeen sy of haar eie godsdiens te beoefen. Maar Paulus moes eers blind word op die Damaskus-pad om weer te kon sien, óns Christene dien ‘n lewende Here. Hy ís Koning, en sy Naam ís Jesus! Ons kan nie oor Hom swyg nie, al keer dit die wêreld onderstebo!
Watter getuienis vir die krag van die evangelie wanneer ander mense in 2023 begin sê dat ons Christene die wêreld onderstebo keer, ons gelowiges in Jesus Christus “bring die hele wêreld in beroering” soos in Paulus se tyd. Nee, ons kerkmense kan nie dit doen nie. Ons is te ordentlik en wil nie ander mense aanstoot gee nie. En buitendien, wanneer ons Christene hard en duidelik sê waarin ons glo, dan dweep ons, dan loop ons ‘skynheiliges’ met die Bybel onder die arm. Daarom bly ons eerder stil.
Wel, ek weet nie van jou wat hier lees nie, maar ek dweep dan maar as ek opstaan vir die lewende Jesus Christus waarin ek glo. Die doodsvonnis is oor Jesus uitgespreek in die openbaar, én Hy moes Sy kruis dra in die openbaar, én Hy is gekruisig in die openbaar, én Hy het gesterf in die openbaar as gevolg van my sondes. Én Hy leef! Net so sal ek in die openbaar Hom loof en dank vir wat Hy vir my gedoen het. Ek kán nie ‘n geheime volgeling van Hom wees nie! Niemand het gesê ons gelowiges gaan ooit maklik inpas in die samelewing nie. Dit kos ‘n prys om ‘n volgeling van Jesus Christus te wees. Ek dink dis ‘n kompliment as iemand sou sê ons Christene “bring die hele wêreld in beroering.” Dit wys immers ons is op die regte pad!
Jesus stel ‘n ope uitnodiging aan álle mense om dissipels van Hom te wees. Maar Sy toelatingsvereiste is “om ons kruis op te neem en Hom te volg.” En dit geld vir álmal – arm en ryk, konings en verdruktes, selfs hulle wat dink die lewe skuld hulle iets. Jesus maak geen onderskeid nie. Hy gaan ook nie in hierdie geval selektief te werk nie. Dit gaan dus nie help om daaroor te toi-toi en bande te brand nie. Hy gaan niks verander nie – dis óf alles, óf niks.
Om suksesvolle kruisdraers te wil wees, sal ek en jy sekere dinge wat eens op ‘n tyd “prioriteite” in ons lewe was, moet laat staan. Om kruis te dra het ons krag van albei arms nodig, ‘n stewige sterk rug en albei bene om te kan bly voortbeweeg. Daar is nie nog reserwe krag oor, om iets anders saam te dra nie. Ons moet ook bereid wees om die kruis in die openbaar te dra, ten spyte van moontlike bespotting en vervolging. Al beteken dit ook om “die hele wêreld in beroering te bring.” Ons moet ook besef, daar is nie omdraai kans nie. As Christene is ons nou deel van die Liggaam van Christus en dit behels nie ‘n tydelike kamma-kamma of so-nou-en-dan, deel nie. Ons kan nie kamma-kamma of net-wanneer-die-tyd-my-toelaat, of eers eendag-wanneer-ek-oud-is, “aan Jesus behoort nie!” As “gesante van Christus” (2 Kor. 5:20), tree ons elke dag dan op soos kruisdraers wat God lief het; kruisdraers wat deel van Sy familie is! Kruisdraers van die énigste Koning, Jesus!
“Daar is geen kroondraers in die hemel wat nie op aarde kruisdraers was nie” (Charles H. Spurgeon).
Gebed: Here, help my om vreesloos in U te glo! Dierbare Here Jesus, skenk my die genade om die versoening wat U vir mý by God bewerk het, nie kamma-kamma of net-wanneer-ek-tyd-het, of eers eendag, toe te pas nie, maar dit nou reeds ten volle te aanvaar en uit te leef. Amen.
Comments