Gedagte vir Vandag
Vrydag, 18 Augustus 2023
Koos Espach
WEENS ONVERMYDELIKE OMSTANDIGHEDE KON ONS NIE DIE DAGSTUK VAN GISTER VERSEND NIE. JAMMER VIR DIE TELEURSTELLING.
Die Verblyf in Filippi (6)
In die tronk in Filippi (3)
Die wortel van allerlei kwaad
Hand. 16:19-22 – “Toe haar eienaars sien dat sy nie meer geld vir hulle kan inbring nie, het hulle vir Paulus en Silas gegryp en hulle na die owerheid toe op die stadsplein gesleep. 20 Hulle het hulle voor die stadsbestuur gebring en gesê: ‘Hierdie mense is Jode wat moeilikheid maak in ons stad. 21 Hulle wil vir ons gebruike leer wat ons as Romeine nie kan aanvaar of navolg nie.’ 22 Die skare het ook teen hulle gekant geraak. Die stadsbestuur het toe hulle klere van hulle laat afskeur en beveel dat hulle lyfstraf moet kry.”
Paulus se goeie daad om die slavin van haar waarsêersgees te bevry, het nie haar eienaars beïndruk nie. Inteendeel, sy moeilikheid was geboek. Die gebeure vat aan húlle besigheid, húlle beursies én húlle vaste inkomste. Die eienaars van die slavin sien hoe hulle hoop op inkomste uit haar verdwyn. Hulle gryp Paulus en Silas en sleep hulle na die owerhede op die stadsplein waar die regbank was. Alleen Paulus en Silas word gegryp, moontlik omdat hulle die leiers was en verder ook ‘Jode’, terwyl Timoteus ’n half-Jood was en Lukas geen Jood nie.
Die klaers voor die owerheid maak nie eens melding van hulle verlies in inkomste nie. Daar word aangevoer dat die beskuldigdes die stad in opskudding gebring het omdat hulle Jode was en gebruike vir die mense wou aanleer, wat nie vir die Romeinse aanklaers geoorloof was om na te volg nie. Die skare het ook toegetree tot die aanval teen Paulus en Silas. Dit gaan nie oor die verlossing van die slavin uit die bande van die afgode nie, maar omdat die besigheidsmanne die Jode beskuldig dat hulle besig is om Romeine uit hulle lewenswyse weg te rokkel.
Die stadsbestuur gee, sonder verdere ondersoek, toe aan hulle eise. Dit word ‘n boendoehof. Paulus en Silas se klere word van hulle afgeskeur. Hulle word verneder en soos gevaarlike misdadigers behandel. Die enigste misdaad wat hulle gepleeg het, was om ‘n bose gees in die Naam van Jesus, uit ‘n slavin te verdryf en sy daarmee, op geen onsekere wyse, gedemonstreer het dat God sterker is as die magte van die duisternis. Maar die oorlog het natuurlik daar begin. Die Satan gebruik haar eienaars se geldsug om die evangelie te stuit. Vernedering, lyfstraf en tronkstraf was die gevolg vir Paulus en Silas omdat “geldgierigheid die wortel is van allerlei kwaad” (1 Tim. 6:10).
Jakobus beaam dit in Jakobus 2:5-7 – “Luister my liewe broers (en susters)! Kies God nie juis dié uit wat in die oë van die wêreld arm is, om ryk te wees in die geloof en om die koninkryk in besit te neem wat Hy belowe het aan dié wat Hom liefhet nie? Maar julle behandel die arm man met minagting. Is dit nie die rykes deur wie julle uitgebuit word nie, en is dit nie hulle deur wie julle voor die hof gesleep word nie? Is dit nie hulle wat die goeie Naam skend van Hom aan wie julle behoort nie?” Jakobus maak natuurlik nie die geloofsdeur vir die rykes toe nie. Inteendeel, hy verduidelik juis dat God heeltemal anders oordeel oor die armes “wat Hom liefhet” – Hy vereer hulle juis deur hulle sy “koninkryk” waardig te ag.
Ons ingebore versugting na mag, rykdom en besittings is nie die sondaar nie, die materialistiese hantering daarvan veroorsaak dat wêreldse waardes die verhouding met God vervang. Hoe minder aardse goed daar is om aan vas te hou, hoe stewiger raak ons greep op God. MateriëIe oorwegings mag nie ons verhouding met God vervang nie! Ons weet ook mos dat die doodskleed nie sakke het nie, maar steeds maak ons só baie van aardse rykdom. Geld is dié ding waaroor baie van ons elke dag dink. As ek maar net ’n klein bietjie meer kan kry om dit of daai te koop. Vra maar vir die persoon langs jou: “Hoeveel geld is genoeg?” Die antwoord glip soms vinnig uit: “Net nóg ’n bietjie meer!”
Geld maak die lewe soms makliker, maar dit het niks uit te waai met ware vrede en vreugde nie. Ons moet ons lewe so leef dat ons skatte in die hemelse bank is. Dis die enigste plek waar daar ware rykdom is. “Eintlik kán godsdiens ’n mens baie ryk maak. Aardse rykdom is nie so baie werd nie, want ons het sonder ’n sent in die wêreld gekom en eendag wanneer ons doodgaan, sal ons ook niks van die wêreldse rykdom kan saamvat nie” (1 Tim. 6:6-7 – Die Boodskap). Ons elkeen se ware rykdom begin waar ons besef hoe geseënd ons is om kinders van God genoem te word. Ons is ryk in genade. Genade hou nie op om oor ons te reën nie. Ja, dit gaan dalk nie elke dag so maklik nie en ons moet ons finansiële sommetjies oor en oor maak om die einde van die maand te haal, maar dit het niks te doen met hoe ryk ons is nie.
Ons is skatryk aan hemelse seëninge. Ons moenie toelaat dat die soeke na rykdom ons koppe oorheers nie. Ons kan eerder ons lewe vul met God se minsaamheid. Ek en jy moet dit gaan leef en wys vir die mense wat so verstrengel is in wêreldsgoed. Ons moet hulle jaloers maak op dié dinge wat geld nie kan koop nie en vertel dat hulle óók deel kan hê aan die skatte in die hemelse bank. Dis immers die beste plek om in te belê!
“Hy wat nie geld het nie, is arm. Hy wat nét geld het, is nog armer” (Onbekend).
Gebed: Here, alles wat ek het, kom van U af. Help my om tevrede te wees met wat ek het. Rig my gedagtes eerder op die skatte in die hemelse bank as die geld in die bank van die wêreld. Amen.
Comments