Gedagte vir Vandag
- ngfochvillenoord
- Sep 12
- 4 min read
Vrydag, 12 September 2025
Koos Espach
God se verkiesing van Israel (1)
Droefheid oor ongelowigheid
Rom. 9:1-3 – “In my verbondenheid met Christus praat ek die waarheid, ek lieg nie; en my gewete, wat deur die Heilige Gees gelei word, getuig saam met my 2dat daar by my groot droefheid en voortdurende hartseer is 3oor my broers, my eie volksgenote. Ek sou self vervloek wou wees, afgesny van Christus, as dit tot hulle voordeel kon wees.”
Vergelyk ook 1 Tess. 2:15-16 – “Dit is die Jode deur wie die Here Jesus en die profete doodgemaak en ons vervolg is. Wat God wil, doen hulle nie, en hulle is vyandig teenoor alle mense; 16hulle probeer verhoed dat ons aan die heidene die boodskap bring waardeur hulle gered kan word.”
Vanaf Romeine 3:21 tot Romeine 8:39, het Paulus die nuwe bedeling wat in Christus Jesus gekom het, verduidelik. Dit is ‘n bedeling waarin ‘n nuwe volk van God uit álmal bestaan, almal wat God se genade in geloof aanvaar – Jood en nie-Jood – en dit sluit ons as gelowiges in. Die bevoorregte posisie van die Joodse volk wat daarin geroem het dat hulle die uitverkore volk van God is, was dus nou verby.
Na sy vreugdevolle woorde in Romeine 8:31-39 dat ons gelowiges, “meer as oorwinnaars is in God wat ons liefhet en dat niks of niemand ons van die liefde van God kan skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here”, vind ons nou skielik ‘n ‘ander’ Paulus met “groot droefheid en voortdurende hartseer.” Die rede daarvoor: sommige Jode, sy volksgenote, het wel deur die geloof lede van die nuwe volk van God geword, maar die oorgrote meerderheid het nie.
Paulus het sy volk steeds liefgehad, deels omdat hulle Gód se volk was, en daarom was dit vir hom nodig om as’t ware drie getuies in te roep om die waarheid van sy droefheid oor hulle te bevestig: “Jesus Christus, die Heilige Gees en sy gewete.” Wat méér merkwaardiger is van sy liefde vir sy volksgenote, is dat hy bereid was om “self vervloek te wou wees, afgesny van Christus, as dit tot hulle voordeel kon wees.” Dít terwyl dit juis húlle was wat telkens sy werk in die wiele gery het op sy sendingreise en veroorsaak het dat hy baie ontberinge moes verduur (2 Kor. 11:23-29). In 1 Tessalonisense 2:14-16 klink hy verbitterd daaroor maar dit is moontlik as gevolg van sy ontstelde liefde in plaas van haat, wat hom só laat praat.
Paulus se bereidheid om vir sy volksgenote alles op te offer, klink totaal onbegryplik en onlogies. Maar sedert Golgota geld daar ‘n ander logika in die wêreld – die logika wat Paulus in geglo het, naamlik God se liefde. Paulus se bekommernis oor mense se geloofsekerheid bestaan vandag steeds. Om toegewy te wees aan Jesus Christus is duur – dit beteken dalk om pyn, skande, vervolging en vals beskuldigings deur die wêreld, te beleef. Dit beteken dat ons lewenswandel omvergewerp word. Christenskap kan ons sosiale lewe uiteenskeur. Selfs families leef in ‘vyandskap’ teenoor mekaar omdat sommiges van hulle lojaal aan Jesus Christus is, en ander nie.
Die Christus wat ons volg, word verwerp en gehaat deur die wêreld wat in konflik is met die verkondiging van die ware evangelie. Gelowiges met hul getuienisse word verag want hulle het die groot leuen oor ongelowigheid ontbloot. “En so kom die skeiding: die lig het na die wêreld toe gekom, en tog het die mense eerder die duisternis as die lig liefgehad, want hul dade was sleg. Elkeen wat kwaad doen, haat immers die lig en kom nie na die lig toe nie, sodat sy dade nie aan die kaak gestel moet word nie” (Joh. 3:19-20).
Paulus het gesê hy weet wat dit is om ‘n “vloermat” te wees, sonder om ‘n weersin daarin te hê, want sy toegewydheid aan Christus was die motivering vir sy lewe. Hy het inderwaarheid gesê: “Ek sou self vervloek wou wees, afgesny van Christus, as dit tot hulle voordeel kon wees.” Het hy dan nou sy vermoë om te redeneer verloor? Glad nie! Vir iemand wat liefhet, is hierdie geen oordrywing nie. En Paulus het Christus liefgehad!
En ons? Jesus Christus het die volle prys vir ons aan die kruis betaal, dan behoort ons seker só te leef dat ander God se liefde, en Paulus se logika, in ons lewe ook waar te neem.“Kom ons wy ons aan Hom toe, kom ons streef daarna om ons aan die Here toe te wy. Die Here sal verskyn, so seker as die son opkom, Hy sal na ons toe kom soos stortreën, Hy sal ons verkwik soos lentereëns die grond verkwik” (Hos. 6:3). Glo dit! Leef dit!
“Mense wat leef as mense van die lig, weet dat hulle net hulle hande in die donker kan uitsteek na die enigste ware Bron van die lig” (Eberhardt Arnoldt).
Gebed: Ewige God, ek aanbid U as die Bron van die Lig. Laat U lig in my wees sodat ek as ligdraer eerlik en opreg sal wees. Laat U liefde in my wees om my te dring tot wederliefde. Ek bid dit in die Naam van Jesus die Lewende Christus. Amen.

Comments