top of page

Gedagte vir Vandag

  • ngfochvillenoord
  • Aug 25
  • 4 min read

Maandag, 25 Augustus 2025

Koos Espach


Niks kan ons van die liefde van Christus skei nie (4)


Glo in Christus en leef


Rom 8:34 – “Wie kan ons veroordeel? Christus Jesus het gesterf, maar meer as dit: Hy is uit die dood opgewek, Hy sit aan die regterhand van God, Hy pleit vir ons.” (1)

 

Vergelyk ook Joh. 3:17-18 – “God het nie sy Seun na die wêreld toe gestuur om die wêreld te veroordeel nie, maar sodat die wêreld deur Hom gered kan word. 18Wie in Hom glo, word nie veroordeel nie; maar wie nie glo nie, is reeds veroordeel omdat hy nie in die enigste Seun van God glo nie.

 

‘n Vierde bewys dat “as God vir ons is ...”, vra Paulus: “wie kan ons veroordeel?” Dit is onteenseglik dat niemand teen God se regverdigverklaring (v. 33), enige appèl teen ons kan aanteken nie. Niemand kan met ander woorde, ons uitverkorenes veroordeel nie. Hoe skuldig ons ook in onsself mag wees, glo ons tog opreg dat Christus Jesus vir ons gesterf het. Daar is dus geen veroordeling meer moontlik nie. Trouens, Christus het deur sy kruisdood, ons van alle skuld bevry. En dis nie al nie: Hy, die magtige Oorwinnaar “is uit die dood opgewek en Hy sit aan die regterhand van God, waar Hy vir ons pleit.”

 

Deurdat God vir Jesus Christus opgewek en in die hemel opgeneem het, het God aan sy volgelinge bewys dat die reg aan Jesus se kant is, en dat alles wat Jesus verkondig het, die werklike geregtigheid was. Die voordeel lê daarin dat Jesus verheerlik is in die hemel om heerskappy te voer oor álle dinge. Hy is die Maghebber van tyd en ewigheid. Aan Hóm is alle mag gegee in hemel en op aarde. “Hy sit aan die regterhand van God.” Hy is God se regterhand. Hy en God is één! Óns Here het nou die finale sê. Niemand “kan ons veroordeel nie.” Jesus stel dit pertinent dat almal “wie in Hom glo, nie veroordeel sal word nie; maar wie nie glo nie, is reeds veroordeel omdat (hulle) nie in die enigste Seun van God glo nie.

 

Elke mens word voor ’n keuse gestel. Elkeen kry die geleentheid om te glo in Jesus Christus of om Hom te verwerp. Die mens se keuse word gegrond op sy of haar geloof. Wat is geloof? Die Hebreërskrywer het ‘n poging aangewend om geloof te definieer in Hebreërs 11:1; Oswald Chambers het in die 19de eeu al gesê: “Geloof kan nie gedefinieer word nie, dit is ‘n geskenk van God self, waarvan ek net kan sê dat dit my die vermoë gee om God agter alles te sien, en wat my vul met die verwondering van ‘n kind”; Martin Luther se weergawe: “Geloof is om te sien wat jy nie sien nie, en nie te sien nie, wat jy wel sien”. Daar is ook al duisende boeke deur die eeue oor geloof geskryf – soveel boeke, soveel menings, soveel definisies!

 

Om te glo is nie 'n lekker gevoel of 'n werk wat ons moet doen nie. Geloof is om die geskenk van God se genade met leë hande te ontvang. Ek en jy kan niks tot ons verlossing bydra nie. Dit werk nie so dat hoe meer ons glo, hoe meer sal Christus vir ons aan die kruis sterf nie. Sy kruis staan klaar bo-oor ons sondes geskryf! En dit is nie maar sommer iets om nou net van kennis te dra of van akademiese belang nie, dis ons geloofsbelydenis. Dit is ‘n manier om te sê dat die lewe die moeite werd is. Die daaglikse lyding, die noodlottige ongeluk, die terminale siekte, die dood, is nie die einde van alles nie.

 

Hoekom nie? Want in die hemel, “aan die regterhand van God,” sit ons Broer – Hy het ons weer saam met Hom, kinders van die Vader gemaak. Hy is daar en Hy lewe en Hy pleit vir my en jou as die Groot Advokaat. Hy maak vir ons ruimte. En Hy het gesê “wie in Hom glo, word nie veroordeel nie ... sal lewe, al sterwe hy of sy ook.” Ons gló Here, ons gló! Daarom sal ons nie bang wees vir enigiemand “wie ons wil veroordeel” nie. Ons wat in Christus glo kan uitsien na die oordeelsdag, want die oordeel oor sondes is reeds deur Christus gedra. Wat ‘n blye weersiens!

 

"You think of Jesus as the Judge who is there to condemn; and well He might be for He has won the right. But you are wrong; He is not there to be our prosecuting counsel but to be the Advocate to plead our cause" (William Barclay).

 

Gebed: Dankie Here, ek hoor die genadeverkondiging: Daar is nou geen veroordeling meer vir dié wat in Christus Jesus is nie. Dankie Gees van God dat U my in die waarheid lei sodat ek my geloof in Jesus Christus kan lééf en dóén, al maak ek foute. Amen.

 
 
 

Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page