top of page

Gedagte vir Vandag

  • ngfochvillenoord
  • 1 day ago
  • 4 min read

Maandag, 8 September 2025

Koos Espach


Niks kan ons van die liefde van Christus skei nie (10)

 

Vereer met die Dekorasie: “VRIEND VAN JESUS”

 

Rom. 8:38-39 – “Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe of engele of bose magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte 39of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here.” (2)

 

Vergelyk ook 1 Kor. 1:30 – “Aan God is dit te danke dat julle met Christus Jesus verenig is. Hy het vir ons geword die wysheid wat van God kom: die vryspraak, die heiliging en die verlossing.”

 

Paulus sluit hierdie gedeelte af in die vorm van ‘n oorwinningslied gevul met ‘n oorweldige oortuiging – absoluut niks kan ons Christene van die “liefde van God wat daar is in Christus Jesus ons Here is, skei nie!” Die “dood,” daardie somber ‘saboteur’ wat op ons almal lê en wag, maar ook die “lewe” met al sy skyn en versoekings, plaas Paulus eerste op die tafel; daarna die “goeie én die bose bonatuurlike wesens”, naamlik “engele of bose magte”; vervolgens die “hede en die toekoms” met alles wat dit inhou; daarna allerlei “kragte” of invloede wat op ons Christene kan inwerk. Selfs dinge in die “hoogte” van die hemelse wêreld en in die “diepte” waar die duiwel en sy trawante hulle bevind, is daar niks wat tussen ons en God kan kom nie.

 

Paulus maak dan doodseker hy het niks uitgelaat nie, en beklemtoon dat ons bestand is teen “enigiets anders in die skepping”, wat dalk skeiding kan bring. Die sterkste mag wat daar in die hele skepping kan wees, is in elk geval net ‘n stoffie in vergelyking met God se almag! Geen bedreiging van watter aard ook al, sal kan keer dat God sy plan met ons as sy kinders uitvoer nie. Calvyn sluit by Paulus aan deur te bevestig dat dit moeilik sal wees om ‘n ander vers in die Bybel te kry wat die drie opeenvolgende fases van Jesus Christus se werk só duidelik kan uitdruk soos ons vergelykende teksvers 1 Korintiërs 1:30.

 

Ons gelowiges in Christus kan dus die toekoms met optimisme en met moed aanpak want ons weet: wat ook al gebeur, in Christus is ek en jy meer as oorwinnaars en niks in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie! Deur God se genadegawe is Christus ons álles! Christus sê “(ons) is sy vriende” (Joh. 15:14), en het ons as’t ware gedekoreer met ‘n oorwinningsmedalje: “Vriend van Jesus”. En wat die oorwinning nog meer triomfanteliker maak, is nie omdat ons enigsins oulik is om Christus se vriendskap te wen nie. Nee, dit kom alles van Hom af – Hy het dit moontlik gemaak – om my en jou sy vriende te maak, moes Hy sy lewe vir ons aflê, daar aan die kruis op Golgota.

 

Jesus, alleen aan die kruis, praat vir die laaste keer: “Jesus het hard uitgeroep: ‘Vader, in U hande gee Ek my gees oor.’ Na hierdie woorde het Hy die laaste asem uitgeblaas” (Luk. 23:46). Dit is die einde van sy verskriklike marteling! Eintlik was dit nie nodig om te praat nie, sy Vader weet mos wat Hy dink! Maar, hierdie woorde was nie net vir God bedoel nie. Almal wat daar by die kruis gestaan het en alle gelowiges van alle eeue, moes dit ook hoor. Dit is ‘n vaste wete en waarborg wat ons het om, soos Jesus, berusting en vrede te vind by God. Met ’n enkele paar woorde sluit Jesus sy aardse bediening af. Daardie sterwenswoorde is oorwinningswoorde wat sal bly ego tot aan die voleinding van die wêreld.

 

Ons Meester en Heiland hang doodstil aan die kruis. Jesus se dood was die dieptepunt van die vervloeking. Al het Hy teen die einde gesê “dit is volbring” (Joh. 19:30) – wat Ek moes doen, het Ek gedoen, dis afgehandel” – was die sonderekening nie ten volle betaal voor Hy nie gesterf het nie. Toe Hy sy laaste asem uitblaas, het die hemelse ‘kasregister’ eers gelui – Paid in Full! Vandag bely ons: “Ek glo in Jesus Christus ... wat gesterf het en begrawe is en ter helle neergedaal het ... ! Maar Goddank, dit staan in ons belydenisskrif, nie in ‘n grafskrif nie! Ek en jy kan saam met Paulus bely: “Hiervan is ek oortuig: geen dood ...(nie Jesus of ons s’n), kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here.”

 

“As jy glo in Christus, glo jy in oorwinning, dink jy oorwinning, bely jy oorwinning en leef jy oorwinning – oorwinning in Jesus Christus – en daarom kan niks of niemand ons van hierdie liefdevolle oorwinning ontneem of skei nie!” (Onbekende oorsprong aantekening in “The Protestant Standard”).

 

Gebed: Here, in ‘n wêreld waar daar soveel boosheid, haat, pyn en geweld, is, dank ek U vir die weelde van vryheid deur die oorwinning wat U vir my behaal het. Dankie dat U my ook met die “Orde van Vriend Jesus” beklee het. Amen.

 
 
 

Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page