Gedagte vir Vandag
- ngfochvillenoord
- 11 minutes ago
- 3 min read
Woensdag, 3 September 2025
Koos Espach
Niks kan ons van die liefde van Christus skei nie (8)
Meer as oorwinnaars
Rom. 8:37 – “Maar in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat vir ons liefhet.”
Vergelyk ook Gal. 5:22-23 en 25 – “Die vrug van die Gees, daarteenoor, is liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, 23nederigheid en selfbeheersing ... . 25Ons lewe deur die Gees; laat die Gees nou ook ons gedrag bepaal.”
Desondanks al hierdie dinge wat ons moontlik van die liefde van God kan skei, is ons gelowiges, “meer as oorwinnaars.” Ons behaal hierdie oorwinning nie eens naelskraap nie, dit is ‘n klinkende sege. Dit is egter nie in ons eie krag of prestasie dat ons so oor alle dinge triomfeer nie, maar wel omdat God so baie van ons hou. Hy staan deur dik en dun by ons. Ons is ‘superwenners’ wat gevul is met vreugde wanneer ons juis daardie dinge beleef wat lyk asof dit ons gaan oorweldig, “deur Hom wat vir ons liefhet.”
Van die liefde van Christus kan niemand ons skei nie. Die werklikheid van sy liefde dra ons, wat ook al met ons mag gebeur. Hierdie oorwinnende liefde is vir almal bedoel. Die liefde van God open die deur tot redding vir álle mense. Maar wie egter daardie liefde nie met geloof in Jesus Christus beantwoord nie, gaan verlore! God het ons eerste liefgehad. Hy het die liefdesverhouding met ons begin, ongeag ons omstandighede. Onbeantwoorde liefde is gefrustreerde liefde, halfpad liefde, liefde wat nie sy doel bereik het nie.
Donald Barnhouse, ‘n Amerikaanse predikant, het gesê om lief te hê soos Christus vir ons liefhet, is om kwesbaar te wees. As ons wil seker maak dat ons “oorwinnaars bly deur Hom wat vir ons liefhet,” moet ek en jy ons deur die Heilige Gees laat lei. Ons moet ons toespits op die profiel wat Paulus vir ons skets as vrygemaakte mense – mense wie se lewe gekenmerk word deur die vrugte van die Gees (Gal. 5:22-24).
“Ons lewe (immers) deur die Gees, laat die Gees ons gedrag bepaal.” Liefde is die sleutel. Vreugde is liefde wat sing. Vrede is liefde wat rus. Geduld is liefde wat volhard. Vriendelikheid is liefde wat aanraak. Goedhartigheid is die karakter van liefde. Getrouheid is liefde se gewoonte. Nederigheid is liefde se selfopoffering. Selfbeheersing is liefde wat die teuels vashou. Hopelik het Donald Barnhouse deur Paulus ‘n verstandige opmerking in ons midde gelaat met die “nege vrugte van die Gees!”
“Ons is meer as oorwinnaars in Christus wat ons liefhet.” Hy het die kettings van die sonde in ons gebreek! Dit geskied deur die toedoen van die Heilige Gees wat ons lewe onder sy beheer neem. In die plek van haat kom vul Hy ons met liefde. Teenoor jaloesie en afguns kom maak Hy ons vol met nederigheid. Teenoor bakleiery en rusies kom vul Hy ons met kalmte en tevredenheid. Die Gees verander ons hele ingesteldheid. Hy doen dit deur ons van ons troon van self-liefde in die middel van ons lewe te verwyder en dit aan God af te staan.
Baie mense in ons dag vind dit steeds moeilik om te aanvaar dat God nié ‘n gevreesde Regter is wat in die hemel sit en wag dat die mens ‘n fout moet maak, sodat Hy daardie oortredings op allerlei maniere kan straf nie. Ons moet eerder onthou dat hierdie “gevreesde God”, dieselfde God van liefde is wat sy enigste Seun aarde toe gestuur het en onder ons kom woon het (Joh. 1:14). Deur Jesus se lewe, dood en opstanding, het Hy die liefde van God na die mensdom gebring om die vrees te verdryf en op dié wyse ‘n nuwe pad gebaan tot ‘n nuwe verhouding met God.
“Ons is meer as oorwinnaars deur Hom wat vir ons liefhet” want God is liefde. Ek en jy wat in die liefde bly, bly in God en God in ons. Ons wat leef in ‘n wêreld wat liefdeloos en selfsugtig, vol bitterheid en haat is, kan skuiling soek onder die vleuels van God se ewige liefde. Hierdie loflied van triomf en sekerheid dat ons oorwinnaars is deur Hom wat vir ons liefhet, behoort ons elke dag te sing; dis ‘n loflied wat elke gelowige ouer aan elkeen van hul kinders moet leer. Ek en jy as kinders van God, moet leer om Christus se liefde aan te neem, nie net vir onsself nie, maar ook vir die lewe van ander.
“As Christus met ons is, kan ons enige geveg met vertroue veg en seker wees van ‘n oorwinning; met Christus en vir Christus is die oorwinning verseker” (Bernard van Clairvaux).
Gebed: Hemel Vader, laat my elke dag lewe in gemeenskap met die drie-enige liefde van die Vader, Seun en Heilige Gees. Amen.
Comments