top of page

Gedagte vir Vandag

  • ngfochvillenoord
  • 2 days ago
  • 4 min read

Maandag, 1 September 2025

Koos Espach


Niks kan ons van die liefde van Christus skei nie (7)

 

God se logika staan vas: God het ons lief


Rom. 8:35-36 – “Wie kan ons van die liefde van Christus skei? Lyding of benoudheid of vervolging, honger of naaktheid, gevaar of swaard? 36Daar staan immers geskrywe: ‘Dit is oor U dat die dood ons dag vir dag bedreig, dat ons soos slagskape behandel word.”

 

God weet dat ons uitgelewer voel aan die impak wat die sonde op hierdie wêreld het. Hy weet dat ons magteloos voel en buite beheer is. Hy weet dat ons baie bewus is van ons nietigheid en verganklikheid. Dit is waarom God ons wil oortuig dat sy liefde vir ons onwrikbaar vasstaan. Hy is ook nie skaam om dit te sê nie – Hy praat met ons deur Paulus se brief. Hy laat Paulus dit duidelik hier neerskryf sodat ek en jy dit met ons eie oë kan lees.

 

In die lig van al hierdie dinge is dit asof Paulus hierdie vraag uitdagend stel! Dalk wonder hy tog of daar nog êrens iets of iemand is “wat ons van Christus se liefde kan skei?” En ook nie sonder rede nie. Paulus haal uit Psalm 44:23 aan: “Dit is oor U dat die dood ons dag vir dag bedreig, dat ons soos slagskape behandel word.” Die wêreld is vir ons ’n plek van lyding en vervolging, hoofsaaklik vanweë die vyandskap van die wêreld teen Christus. Dit is om Christus ontwil dat Christen-gelowiges voortdurend met die dood gedreig word.

 

Die werklikheid is dat God se kinders nie immuun is teen probleme nie. Paulus het eeue gelede al gewonder: “Sal lyding …?” Lyding is beslis nie iets wat met oop arms verwelkom word nie. Maar wat dit ook al mag wees – uitputting, pyn, irritasie of selfs iets wat ons gesondheid affekteer en swakheid veroorsaak – is dit nie in staat om ons van die “liefde van Christus (sal) skei nie.” Wanneer dit gebeur, weet ek van baie dapper mense om my, wat klein treetjies gegee het na die aanvaarding van hulle lyding na die pad van God se vrede. Elkeen van daardie treetjies is soos ‘n kersie wat in die donker skyn. Dit neem nie die donkerte weg nie, maar lei ons daardeur, al met die pad van vrede langs.

 

“Sal … benoudheid of vervolging …?” Kan God se liefde aanhou om ons vas te hou wanneer dit lyk asof alles en almal om ons sê dat God se liefde ‘n klug is? Maar dan is daar die getuienis van mede-gelowiges wat ons moed gee om die werklikheid van God se teenwoordigheid in ons swaarkry bevestig – gelowiges wat bevestig dat God hulle in hul oomblikke van pyn en benoudheid juis ontmoet en geseën het. Gelowiges wat onthou het dat God die versekering gee het dat “Hy ons nooit sal los nie, nooit in die steek sal laat nie” (Heb. 13:5).

 

“Sal … honger of naaktheid …?” Uit God, die Bron van die liefde, gaan die werking van die liefde uit na die wêreld, en hier is sprake van die hoogste en heerlikste openbaring van die liefde in die een daad: “God het sy enigste Seun gegee!” God se liefde is onbeperk – ver, wyd, hoog en diep strek dit – met ander woorde dit is allesdeurdringend en allesomvattend! Dit klee ons. Dit voed ons, selfs al voel dit asof ons sterf van die honger.

 

“Sal ... gevaar of swaard ...?” God gee ons die versekering dat Hy in ons nood by ons sal wees (Ps. 91:15). Dit maak nie saak hoe tasbaar of intens die aanvegtinge is nie, niks kan ooit skeiding bring tussen ons en God nie. Jesus is óf ‘n bedrieër, wat selfs daarin geslaag het om vir Paulus te bedrieg, óf iets buitengewoon gebeur met ons wat aan die liefde van God vashou wanneer dit lyk asof alles anders teen ons gedraai het.

 

Ja, daar is seker ‘n paar dinge in God se Woord wat ons bevraagteken. Wanneer ons voor al hierdie dinge te staan kom, het ons menslike logika geen antwoord nie. Maar God se logika bly vasstaan. Hy het belowe dat “niks ons van die liefde van Christus sal skei nie!” Hy het nie gesê dat ons nooit swaarkry, vervolging, armoede of gevaar die hoof sal moet bied nie. Ons mag nie in God se liefde twyfel nie, al gaan dit nie goed met ons nie. Feit bly staan: God het sy volmaakte liefde aan ons uitgedruk – kyk na die kruis! Ek en jy moet nooit God se liefde op grond van ons omstandighede beoordeel nie. Beoordeel liewer ons omstandighede uit die perspektief van God se liefde.

 

“God het elkeen van ons só lief asof daar net een van ons is om lief te hê” (Augustine).

 

Gebed: My God van liefde, dankie Here dat U ‘n God van omgee is, ‘n God wat nie net ‘n enkeling of ‘n nasie liefhet nie, maar ‘n God wat die wêreld so lief gehad het dat U vir elkeen wat glo, die ewige lewe gee. Here, dit is onbeskryflik om te dink: Ek maak ook vir U saak! Dankie Here! Amen.

 
 
 

Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page