top of page

Gedagte vir Vandag

  • ngfochvillenoord
  • 11 minutes ago
  • 4 min read

Woensdag, 27 Augustus 2025

Koos Espach


Niks kan ons van die liefde van Christus skei nie (5)


God verplaas ons sonde op Jesus


Rom 8:34 – “Wie kan ons veroordeel? Christus Jesus het gesterf, maar meer as dit: Hy is uit die dood opgewek, Hy sit aan die regterhand van God, Hy pleit vir ons.” (2)

 

Vergelyk ook Luk. 23:34 – “Toe sê Jesus: ‘Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie!”

 

Paulus vra “wie kan ons veroordeel?” en ons het Maandag geantwoord ons sal nie bang wees vir enigiemand se veroordeling nie. Jesus het al voor sy dood, opwekking en hemelvaart, vir ons begin pleit! Terwyl Hy vir die verskriklikste ses ure op daardie Goeie Vrydag, wat eintlik ‘n Swart Vrydag was, aan die kruis gehang het, het Jesus sewe keer gepraat. Vir die godsdiensleiers van die Jode was die kruisiging van Jesus ‘n simbool van oorwinning en hulle het probeer om vir oulaas Hom te verkleineer: “Die priesterhoofde en skrifgeleerdes het spottend vir mekaar gesê: ‘Ander het hy gered; homself kan hy nie red nie! Laat die Christus, die koning van Israel, nou van die kruis af kom, sodat ons dit kan sien en in hom glo!” (Mark. 15:31-32). 

 

Jesus se reaksie hierop is nie woede en verbittering nie, inteendeel, in hierdie oomblikke van diepste smart, is sy hart vol vergifnis. Jesus bid in sy bittere lyding eers vir ander, nie vir Homself nie. Hy het vergifnis gepreek en nou leef Hy dit uit terwyl Hy vir ons aan die vloekhout pleit: “Vader, vergeef hulle ...” 

 

Wie is die “hulle” vir wie Jesus pleit? Die maklike antwoord is hulle wat saam geskreeu het “kruisig Hom!”; of miskien die Romeinse soldate wat Hom met ‘n doringkroon verneder het en vasgespyker het aan die kruis; dalk Pilatus, Herodus, Kajafas en die Joodse Raad wat Hom ter dood veroordeel het; of Judas Iskariot wat Hom verraai het; dalk Petrus wat Hom verloën het; nee, eerder almal wat Hom verneder, geslaan en gespot het. Gerieflikheidshalwe word die vinger na hulle gewys, hulle is die “hulle” vir wie Jesus vra sy Vader moet vergewe “want hulle weet nie wat hulle doen nie.”

 

Jesaja profeteer egter: “Hy het die sondes van baie op Hom geneem en vir oortreders gebid” (Jes. 53:12c). Paulus sê: “Ons het almal gesondig en is ver van God af” (Rom. 3:23). Jesus vra: “Vader vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie!” So stel Hy vir ons ‘n voorbeeld van die gebed wat Hy ons geleer het: Vader vergeef ons ons sondes, soos ons ook dié vergewe wat teen ons oortree (Matt. 6:12). Daarom pleit Jesus vandag nog vir ons ook by sý Vader in die hemel, en deur sy offer het dit ook óns Vader geword (Rom. 8:34). Ons is dus deel van die “hulle”. 

 

Die kruis op Golgota is ‘n simbool van “vergifnis.” Dit is waaroor die kruis gaan. Ons het vergifnis nodig, want ons het almal gesondig en daar is ’n kloof tussen God en ons as gevolg van ons sonde wat ons nie op ons eie kan oorsteek nie. Jesus het die prys kom betaal met sy lewe, met sy liggaam en sy bloed, sodat ons vry kan wees, sodat ons verhouding met God herstel kan wees: “Want dit is My bloed, die bloed waardeur die verbond beseël word en wat vir baie vergiet word tot vergewing van sondes” (Matt. 26:28).

 

Die regop paal van die kruis simboliseer God se vergifnis aan ons, (vertikaal van “Bo” na onder), en die dwarsbalk simboliseer ons vergifnis aan mekaar. Jesus as die middelpunt aan die kruis roep uit: “Vader vergeef hulle … .” Eintlik sê Jesus aan ons in die eerste plek dat ons ‘n gesindheid van liefde en genade moet hê, “Wees goedgesind en hartlik teenoor mekaar, en vergewe mekaar soos God julle ook in Christus vergewe het” (Ef. 4:32).

 

Tweedens sê Jesus dat vergifnis, vryspraak is wat ek en jy teenoor ander moet verleen: “Moenie oordeel nie, en oor julle sal nie geoordeel word nie. Moenie veroordeel nie, en julle sal nie veroordeel word nie” (Luk. 6:37). Waarom sou Jesus ‘n beroep op ons doen om nie ‘n ander te oordeel nie? Eerstens ken ons nie al die feite van ‘n ander se lewensomstandighede nie en is dit nodig om onsself in ‘n ander se skoene te plaas om dalk te besef wat daardie persoon se behoeftes en versoekings is.

 

Mag ons vra “wie kan ons veroordeel” as ons ander veroordeel? Ons eie lewe kan met so dik laag stof bedek wees dat die bietjie vuilgoed wat ons van ‘n ander wil afstof, nie raakgesien word nie. Die gevolglike probleem daarvan is dat mens geneig is om jou eie sondetjies met verkleinwoordjies te spel en uit te spreek terwyl ons na ander, met ‘n vergrootglas kyk. Ons het genoeg om te doen om ons eie lewensfoute te kritiseer as om vitterige regstellings by ander te soek, ander uitmekaar te trek en lekker te kry oor hulle foute.


Wanneer ál die feite bekend is van ‘n ander, is dit moontlik om selfs goeie dinge in ‘n slegte mens waar te neem. ‘n Kristal lyk aanvanklik dof maar wanneer dit gedraai word sodat die son op ‘n sekere hoek daarop skyn, word die mooiste kleure opgetower. Soek die onderliggende skoonheid in ander en verwag dan dat hulle dieselfde aan ons doen.

 

“The world is full of people who claim the right to be extremely vocal in criticism and totally exempt from action” (William Barclay).

 

Gebed: Ag Here, vergewe my kritiese en beoordelende gees. Help my om met meer takt en ‘n vergewingsgesindheid met ander om te gaan. U het om my ontwil uit liefde uit, U lewe as ‘n offergawe gegee by Golgota, laat ek dus U voorbeeld volg en mense liefhê ten spyte van hul houding teenoor my. Amen.

 
 
 

Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page