top of page

Gedagte vir Vandag

  • ngfochvillenoord
  • Sep 10
  • 4 min read

Woensdag, 10 September 2025

Koos Espach


Niks kan ons van die liefde van Christus skei nie (11)

 

Onbetwyfelbare versekering


Rom. 8:35-39 – “Wie kan ons van die liefde van Christus skei? Lyding of benoudheid of vervolging, honger of naaktheid, gevaar of swaard? Daar staan immers geskrywe: ‘Dit is oor U dat die dood ons dag vir dag bedreig, dat ons soos slagskape behandel word. 37Maar in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat vir ons liefhet. 38Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe of engele of bose magte of teenswoordige of toekomstige ding of kragte of 39hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here.”

 

Paulus het begin deur die vraag te stel of daar dalk êrens iets is wat ons van Christus se liefde kan skei. Sy gevolgtrekking was dat niks van al die wesens en dinge wat hy meld, hoegenaamd ons van God se liefde kan skei nie. Ons is ‘bestand’ teen alle gevaar, “omdat die liefde van God ... in Christus Jesus ons Here” ons ondeurdringbare skild is.

 

Dit word vertel van ‘n ongelowige soldaat wat na nog ‘n fel aanval deur die vyand, hardop geskree het dat hy nie daar as deel van die oorlog wil wees nie. Honger, koud, bang en moedeloos het hy gesnik dat al waarna hy verlang, is om vrede te hê en tuis by sy familie te wees. Een van die ander soldate het geantwoord: “Vriend, die enigste vrede wat jy op aarde ooit sal hê is om vrede met God te beleef, om te besef dat jy ‘n oorwinnaar is in Christus. Dit beteken nie dat jy nooit sal swaarkry nie maar in jou swaarkry kan jy verseker wees dat die Heilige Gees en Jesus Christus vir jou by God pleit.” Daarna het hy Romeine 8:35-39 vir die ongelowige gelees.

 

Later het die ongelowige erken dat indien dit waar is, daar selfs vir hom ook hoop is. Daar het vir hierdie ongelowige soldaat ‘n nuwe dag aangebreek: die lamp van die Woord het in sy donker hart en lewe ingeskyn en hy is uit sy sondenag waarin hy as ongelowige sondaar verkeer het, gered. Nuuskierigheid het hom gedwing om meer te wil weet en onwetend het hy uit Daniël aangehaal: “Ek het dit al gehoor maar nie verstaan nie, waarop gaan dit alles uitloop?” (Dan. 12:8).

 

Dikwels kla ons dat ons dit soms moeilik vind om te bly glo en te vertrou op God, veral wanneer die lewe teen ons draai, wanneer ons in wanhoop geen doel vir ons omstandighede kan vind nie. Dit is dan wanneer ons in die versoeking kom om God se dade te bevraagteken. Dit is een ding om sterk in ons geloof te staan wanneer alles net goed gaan en die son, spreekwoordelik, onafgebroke op ons skyn. Die toets van ons geloof kom egter wanneer die pyn en lyding van die wêreld, die dood ons dag vir dag bedreig!

 

Die essensie dan, is om met ‘n sterk geloof God te bly vertrou. God het ons gelowiges vrygespreek van al ons sondes. My en jou skuldbriewe is aan die kruis vasgespyker, ons het amnestie gekry. Christus het hierdie vryspraak vir ons ‘n werklikheid gemaak, “niemand kan ons van die liefde van God skei nie.” Ja, dit is maklik om soos die soldaat in ons storie, moedeloos te raak, veral wanneer swaarkry en lyding en selfs die dood, ons in die gesig staar. Maar in plaas daarvan dat ons van God se liefde geskei word, is ons eerder daarvan verseker. Want God is naaste aan ons, sy kinders, wanneer ons swaarkry, wanneer die lewe ons druk!

 

Niks wat nie op die basis van God se liefde deur die Heilige Gees geopenbaar word, “kan ons van die liefde van Christus skei nie.” God is lief vir die wêreld. God het ook ‘n droom vir die wêreld. Hy wil ‘n wêreld hê waar mense in vriendskap met Hom, met mekaar en met die hele skepping lewe. In alles moet die eer van God gesoek en sy liefde geopenbaar word. Indien dit nie die geval is nie, kan ons seker wees dat dit nie leringe van die Heilige Gees is nie.

 

Die Heilige Gees getuig nie alleen dat ons kinders van God is nie, Hy getuig ook dat ons erfgename van God en erfgename saam met Christus is. Ons wat seker is dat ons aan God behoort; ons wat deur sy Gees versterk word wanneer ons swak is; ons wat in verbondenheid met Hom lewe; ons wat deel het aan Christus se lyding, sal ook deel hê aan sy heerlikheid. Wat ’n heerlike vooruitsig!

 

“Welke teenstand ons ook al vandag sien of ervaar, ons moet nie daaraan twyfel dat ons Here weer sal kom en deur al die ondernemings van die mens breek om ‘n pad vir sy Woord oop te maak” (Johannes Calvyn).

 

Gebed: God van liefde, ek kniel in stomme verwondering voor U neer oor U onpeilbare liefde, “die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here.” Dankie dat U liefde nie van verdienste afhang, of dat ek eers U liefde waardig moet wees nie. Dankie vir die belofte dat heeltemal niks my van U liefde kan skei nie. Amen.

 
 
 

Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page