top of page

Gedagte vir Vandag

  • Aug 29, 2025
  • 4 min read

Vrydag, 29 Augustus 2025

Koos Espach


Niks kan ons van die liefde van Christus skei nie (6)

 

Ons oortrokke sonderekening is skoon


Rom. 8:35a – “Wie kan ons van die liefde van Christus skei?”

 

Vergelyk ook Joh. 3:16 – “God het die wêreld so lief gehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê.”

 

Paulus bevestig vyfdens met ‘n verdere bewys dat as God vir ons is, kan niks teen ons wees nie. Asemrowend mooi wanneer Paulus vra: “Wie kan ons van die liefde van Christus skei?” Niks wat ek en jy ooit kan beleef – dit maak nie saak hoe verskriklik of pynigend nie – kan ons óóit van die liefde van God skei nie. Ons praat graag oor God se liefde want ons weet Hy het ons lief ter wille van onsself, om seker te maak ons is gered! Ons luister gretig na preke oor die liefde. Ons bely ons ken God: “God is liefde” (1 Joh. 4:8), laat waarlik ons harte juig. Tog bestaan die gevaar dat ons God se liefde as vanselfsprekend aanvaar. Ons weet ook dat die wêreld nie as geheel, positief op die liefde van God reageer het nie, selfs nou nog na al die eeue, positief is daaroor nie.

 

Raak ons regtig nog opgewonde oor die feit dat God ons liefhet? Wek die oorbekende troos- en hartswoorde van ons vergelykende teksvers, Johannes 3:16 nog enige reaksie of effek by ons op? Laat ons nie soms in ons besige skedule die Here se intieme liefdesverklaring by ons verbygaan nie? Ons hoor dit, ons weet dit, maar dit sink nie in nie! En die gevolg? Kort voor lank word ons harte louwarm en begin mens jou eerste liefde verlaat! Angswekkend dan die vrae: “Het God my altyd lief? Ook wanneer ek ander se koppe afbyt; wanneer dieselfde tong waarmee ek God loof, ander vloek wat as beeld van God gemaak is (Jak. 3:9). Het God my dan nog lief?” “Is ons dalk nie dan van die liefde van Christus geskei nie?”

 

Dankie tog! God het hierdie vrae beantwoord voordat ons dit nog gevra het. Want voor ons God geken het, het Hy mens geword en onder ons kom woon (Joh. 1:14). Voordat Hy ons in die moederskoot gevorm het, het Hy ons al geken (Jer. 1:5). Voor ons gebore is, het God ons al gesien, en na ons gekyk. En wat Hy gesien het, het Hom laat sê: “Jy is my kind. Ek het jou lief. Ek het jou oortrokke sonderekening skoongemaak. Kyk net na Christus se kruis.” 

 

As daar nou een ding is wat baie mense slapelose nagte gee, is dit onder andere hulle geldsake. Om in die rooi te beland met jou oortrokke fasiliteite is baie maklik, maar om daaruit te kom is ‘n ander storie. Dit is dieselfde met sonde. Toe God die mens geskep het was sy bedoeling nooit dat ons in die rooi van die sondelas moes beland nie.

 

Maar God het geweet ons sal dikwels ons rug op Hom draai, Hy het geweet dat die oortrokke fasiliteite wat die wêreld bied, so lekker lyk dat ons oop oë in die moeilikheid gaan beland. God sê egter: “Ek wil hê jy moet weet Ek het jou lief. As jy ooit daaraan twyfel, kyk maar net weer na die kruis. Dit is vir My wat jy daar sien hang, jou Skepper, jou God, met spykers deurboor en vol bloed. Bespuug en deurweek van die sonde. Dit is jou sonde wat Ek daar voel. Dit is jou dood wat Ek sterf. Dit is jou opstanding wat Ek leef. Dit is hoe lief Ek jou het. Ek het al jou skuld klaar betaal, jou oortrokke sonderekening is vir altyd afbetaal. Hiervoor het Ek nie ‘n verband op jou huis geneem nie, ook nie ‘n swaar las op jou geplaas nie. Jy is My kind, Ek wil vir jou die beste gee. Ek het die skuldbewys met sy eise teen jou tot niet gemaak. Deur dit aan die kruis te spyker, het Ek dit vir goed weggeneem.”

 

Sal ons dit ooit verstaan? Ons bevind ons in ‘n wêreld waar baie mense nie meer erg het aan die waarheid dat “God die wêreld so lief gehad het dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê.” Tyd word ingeruim vir wêreldsdinge en baie leef asof hulle vir ewig gaan leef. Jesus is in ‘n kompartement geplaas waar Sondae, en in baie gevalle, slegs sommige Sondae, aan Hom afgestaan word in ‘n formele kerkdiens of sommer oor die radio of TV luister. Meeste gelowiges het hulle verhouding met God gebreek.

 

Wat vra God van my en jou? Dat ons Hom sal liefhê met alles wat in ons is en in dankbaarheid sal leef soos iemand wat nie meer deur ‘n sonderekening belas word nie. Hy vra dat ons nóóit moet vergeet: “Niks kan ons van die liefde van Christus skei nie.” Sy nimmereindigende liefde vra van my en jou om in daardie liefdesverhouding met God te bly en só te leef!

 

“Die essensie van liefde is vir alle eeue saamgebundel in daardie eensame, bloeiende figuur aan die kruis. Hy wat skares engele kon beveel om Hom te kom red, het gekies om daar te bly hang om in ons plek vir ons skuld te betaal. Omdat Hy ons liefhet!” (Philip Yancey).

 

Gebed: Hemel Vader, dankie dat U my só liefhet dat U vir Jesus aan my as geskenk gegee het. Daardeur het U agteroor gebuig om my volmaak te red, my hele sondelas kom wegneem het. Ek wil dit uitjubel: U het die wêreld lief en ek is deel daarvan! U het my nie oorgegee aan my sonde en die ewige dood nie. Nee, “niks kan my skei van die liefde van God wat daar in Christus is nie.” Laat hierdie nalatenskap van U, die deel wees van almal wat met onrus en ongeloof in hulle harte worstel. Amen.

 
 
 

Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page