top of page

Gedagte vir Vandag

  • ngfochvillenoord
  • 16 minutes ago
  • 4 min read

Vrydag, 5 September 2025

Koos Espach


Niks kan ons van die liefde van Christus skei nie (9)

 

Die regte adres

 

Rom. 8:38-39 – “Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe of engele of bose magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte 39of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here.” (1)

 

In vers 31 het Paulus al tot die gevolgtrekking gekom dat God baie partydig is – God het klaar kant gekies: ons s’n. “God is vir ons, wie kan dan teen ons wees?” vra Paulus. Na verskeie bewyse en bespreking tot dusver, wil hy nou seker maak ons verstaan dat absoluut niks ons van die liefde van God kan skei nie. Hy bevestig met ‘n onwrikbare “oortuiging” dat geen enkele mag, wat dit ook al mag wees “in die (ganse) skepping”, ons gelowiges sal kan skei van “God se liefde wat in Christus” geopenbaar is nie.

 

Dalk, net dalk het hy iets vergeet, daarom voeg hy nog tien moontlike sake by wat ons gelowiges sou kon bedreig of benadeel en ons van Christus se liefde kon probeer skei. Ons kan ook al die ander dinge wat onsself bedreig, dinge wat selfs ons selfvertroue soms knak, byvoeg by Paulus se lys, die eindresultaat sal steeds dieselfde bly. Selfs die duiwel kan ons probeer aankla (v. 33), hy gaan hom vasloop teen God wat ons klaar vrygespreek het.

 

Ons is bestand teen alle gevaar, omdat “die liefde van God ... in Christus Jesus ons Here” ons ondeurdringbare skild is. Jesus Christus se kruis op Golgota is die “adres” waar God sy liefde aan ons bewys het. By Jesus Christus se “adres” is ook die enigste plek waar ons God se bewarende liefde kan ervaar! Enige ander plek of enigiemand anders, is die verkeerde adres!

 

Géén menslike óf bomenslike instansie kan ons van die liefde van Christus skei nie. Ons moet egter nie die fout maak om te dink dat dit ons eie voortreflikheid of ons briljantheid of standvastigheid of die oulike ek of jy is, wat aan ons hierdie oorwinning besorg nie. Sou ons so dink, maak ons ‘n paar foute. ‘n Mens wil mos altyd ook ‘n aandeel in jou eie redding hê, God so bietjie help net vir ingeval Hy dalk iets vergeet. Ons kan nie, of wil nie glo dat Christus Jesus klaar alles vermag het nie.


Mense het steeds vrae oor God se liefde – meestal is dit omdat hulle God se liefde by die verkeerde adres soek – erkenning van mense, ‘n stewige bankbalans, goeie oeste, verhouding wat sal uitwerk, ideale wat verwesenlik sal word, enigiets wat jou sal help om ‘n vrypas hemel toe te kry. Dit bly steeds soeke by die verkeerde adres!

 

Ons moet ook nie die fout maak om te ontken dat Christene in ‘n brose posisie in hierdie wêreld is nie, dit is om die waarheid te ontken. Om lyding en swaarkry, moedeloosheid en vrees te ontken, is om die wese van ons bestaan as Christene te ontken. Ons moet erken dat die bestaan van Christene op aarde ‘n bestaan van versoeking en lyding is, alle pogings wat aangewend word om ons weg te hou van “die Weg, die Waarheid en die Lewe” (Joh. 14:6). “Die Gees sê uitdruklik dat in die eindtyd sommige afvallig sal word van die geloof. Hulle sal misleidende geeste navolg en die leerstellings van duiwels aanhang. Hierdie dwaalleraars is skynheilige leuenaars wie se gewete toegeskroei is. Hulle verbied mense om te trou en om bepaalde soorte kos te eet” (1 Tim. 4:1-3). 

 

Maar ons moet ook erken dat God ‘n plan met ons lewens het. Ons bely dat Christus en die Heilige Gees vir ons intree by God en daarom beteken dit dat ons ons lewens volkome in God se hand kan plaas. En as ons dit doen, kan ons die toekoms met optimisme en moed aanpak. Ons weet nou dat wat ook al mag gebeur – in Christus is ons meer as oorwinnaars. Die lyding en gevare van die wêreld gaan nie ophou nie. Mense gaan nog steeds aanklagte teen ons as Christene inbring. Mense gaan nog steeds oordele oor ons uitspreek. Maar niks, absoluut niks, kan ons van die liefde van Christus skei nie!  

 

As ons leef soos mense wat reeds oorwinnaars is, hoe kan ons nog moedeloos word, hoe kan ons ons laat meevoer deur enige ander leringe of enigiets anders? Die Hebreërskrywer sê: “Jesus Christus is gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid. Moet julle nie laat meevoer deur allerhande vreemde leringe nie” (Heb. 13:8-9). As ons weet dat niks ons van die liefde van Christus kan skei nie, moet hierdie liefde mos in ons lewens sigbaar wees. Goddank dat God in die chaos van elkeen van ons se lewe met ‘n plan werk, ‘n verlossingsplan wat lewe gee – selfs aan die mees doodse bestaan of situasie – orals blink sy Naam in majesteit (Ps. 8).

 

“My lewe is onbenullig; die rede vir my bestaan is onduidelik; my belangrikheid in God se oë moet nul wees. My gebede is doods, my hart is dood, my liefde vir God is flou. Maar Hy, die lewende Here, het my lief, en gee daarom betekenis selfs aan my powere bestaan” (William Bridge).

 

Gebed: Dankie Vader dat ek deel is van U heilsplan en dat niks of niemand my van “die liefde van God ... in Christus Jesus ons Here” kan skei nie. Here, gee dat ek nooit so dwaas sal wees om te dink dat ek sonder U sal kan regkom nie. Amen.

 
 
 

Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page