Gedagte vir Vandag
Woensdag, 2 Augustus 2023
Koos Espach
Paulus se Tweede Sendingreis (4)
Timoteus sluit by Paulus aan (1)
Wie volg jou voorbeeld?
Hand. 16:1-3 – “Paulus het in Derbe gekom en daarna in Listra. Dáár was ‘n gelowige met die naam Timoteus. Sy ma, ook ‘n gelowige, was ‘n Joodse vrou en sy pa ‘n Griek. 2 Die gelowiges in Listra en Ikonium het net goed van hom gepraat. 3 Omdat Paulus vir Timoteus met hom wou saamneem, het hy hom besny. Dit het hy gedoen ter wille van die Jode wat in daardie gebied gewoon het, want hulle het almal geweet sy pa is ‘n Griek.”
Paulus en Silas begin nou met ‘n reis wat tradisioneel bekend staan as Paulus se tweede sendingreis. Hierdie keer besoek hy weer die nuutgestigde gemeentes in Klein Asië. Hulle reis nie per skip nie, maar oor land. Tydens die eerste besoek het Paulus in Listra ’n gemeente gestig en is gestenig; by sy tweede besoek het hy die gemeente se geloof versterk en ouderlinge aangestel; by die derde, pluk hy die vrug van sy arbeid. Hy ontmoet ’n jongman, Timoteus (’n Griekse naam, wat “om God te vereer” beteken), wat reeds ’n gelowige was en vermoedelik saam met sy moeder, Eunice, by geleentheid van Paulus se eerste besoek aan Listra, tot bekering gekom het. Hy was die seun van ’n Joodse moeder en ’n Griekse vader. Sy moeder, Eunice, en sy grootmoeder, Loïs, was vroom Jodinne, wat Timoteus opgevoed het in die Joodse godsdiens. Paulus besluit om Timoteus saam met hom te neem.
Paulus doen dan iets wat dadelik ‘n vraag by ons ontlok, hy laat Timoteus besny. Paulus het immers hewig teen die besnydenis beswaar gemaak. Dit is daarna onlangs in Jerusalem besluit dat die besnydenis glad nie verpligtend was vir die nie-Joodse gelowiges nie. Maar Paulus wou nie onnodig ‘n struikelblok veroorsaak deur ‘n onbesnede Timoteus, wat aan die Jode in die gebiede wat hulle gaan besoek bekend was, in hulle sinagoges inbring nie. Dan sou die stoere Jode byvoorbaat nie na Paulus luister nie. Timoteus word dus nie besny ter inlywing van ‘n gemeente nie, maar omdat Paulus sensitief is vir die Jode se gevoelens asook om hulle sienings te respekteer. Hy doen m.a.w. alles in sy vermoë om die evangelie by hulle te laat tuiskom, eerder as om op sy eie regte te staan. (Ons kan gerus hier by Paulus leer om sensitief te wees vir ander se standpunte en gevoelens.)
Ons moet ook soms gewillig wees om iets prys te gee ter wille van die evangelie, soos byvoorbeeld die jong Timoteus. Hy was baie bevoorreg, want sy ouma en ma het voor in die paadjie van geloof gestap. Hy hoef hulle net te volg. Paulus skryf in 2 Tim. 1:5: “Ek dink nogal baie aan jou en hoe opreg jy op die Here vertrou. Jy aard so reg na jou ouma Loïs en jou ma Eunice. Ek weet dat jy ook op die Here vertrou soos hulle” (Die Boodskap). Ek wonder of Timoteus op dié pad sou wees as sy ouma en ma nie vir hom gewys het waar hy moet loop nie? Loïs en Eunice was dalk nie groot predikers en mense wat ander mense na die Here kon lei nie, maar die gevolg van hulle dade is dat hulle gehelp het dat een van die begaafde jong predikers van daardie tyd op die regte pad begin loop het. Die manier waarop die twee vroue hulle geloof uitgeleef het, het verrykende gevolge tot die Christendom gehad. Sy opoffering om besny te word was dus maar klein.
Hoe lyk die paadjie wat ons vandag loop? Loop ons voor omdat ons ouers of grootouers voorgeloop het? As ons so na ons eie lewe kyk, in watter rigting help ek en jy ons kinders en selfs kleinkinders om te volg? Sal hulle eendag ’n dankie-sê briefie vir ons skryf en ons bedank vir alles wat ons vir hulle gewys en geleer het, omdat dit hulle gehelp het om op God se spore te loop? En nou praat ek sommer van al die klein goedjies ook. Hoeveel maal het hulle my en jou gesien waar ons met die Bybel oop en ons oë toe sit? Om die lewe reg te leef, is ’n groot verantwoordelikheid. Of ons dit nou wil weet of nie, ons kinders, ander mense se kinders en ander mense gebruik dalk ons optredes as riglyne. Hulle weet nie altyd hoe om te maak nie. Hulle weet nie altyd eers watter vrae om te vra nie. Daarom kyk hulle maar. Dit is makliker en dan doen hulle so.
Paulus beveel aan “dieselfde gesindheid moet in (ons) wees wat daar ook in Christus Jesus was” (Fil. 2:5). Hy beperk hierdie oproep nie net tot die gelowiges van destyds nie, dit word gerig tot dieselfde wêreld van vandag. Die Jesus Christus van Paulus se destydse gemeente is vandag steeds dieselfde Jesus Christus vir elke gelowige, en daarom is en sal Hy altyd die Volmaakte Voorbeeld wees wie se gesindheid gevolg kan word. Jesus is nie net vir ons gelowiges die Volmaakte Voorbeeld nie, ons het ook die unieke voorreg dat ons deur die geloof alreeds deel van Christus is. Daarom moet ons, deur die Heilige Gees, Sy gesindheid wat Hy daardeur afgedwing het, oorneem.
Jesus Christus was nederig en gewillig om Sy regte prys te gee om ons Vader te gehoorsaam en mense te dien. Omdat ons daardie unieke deel van Christus is, kan Sy gedagtes ons gedagtes word en Sy gesindheid, ons gesindheid. Christus moet nie net aanbid word vir alles wat Hy is nie, ons moet soos Christus word! Ons behoort Sy nederigheid, sagmoedigheid, ootmoed, beskeidenheid, bedagsaamheid, minsaamheid, teerheid en lieftalligheid uitstraal – alles kenmerke wat as volgelinge van Jesus Christus, deur ander herken en erken sal word. Dalk is daar ‘n paar aanpassings wat ek en jy behoort te maak!
“Daar is maar net een oortuigende argument vir die evangelie van God se liefde: die krag van sy kinders se voorbeeld” (William Barclay).
Gebed: Almagtige Vader, neem die illusie dat ek enigiets sonder U kan doen weg, en skenk my ‘n nederige hart. Leer my die grense van my vermoëns dat ek Ú krag sal soek. Help my om al agter U aan te stap, want dan weet ek die ander kan maar net volg. Amen.
Comentarios