top of page

Gedagte vir Vandag

Vrydag, 28 Julie 2023

Koos Espach


Paulus se Tweede Sendingreis (1)

Paulus en Barnabas skei van mekaar (1)


I am a fool for Christ


Hand. 15:36-39 – “’n Tydjie later het Paulus vir Barnabas gesê: ‘Kom ons gaan kyk hoe gaan dit met die gelowiges in al die stede waar ons die woord van die Here verkondig het.’ 37 Barnabas wou vir Johannes, wat ook Markus genoem is, met hulle saamneem. 38 Maar Paulus het gedink dit is nie reg om die man saam te neem wat hulle in Pamfilië verlaat het en nie end-uit die werk saam met hulle gedoen het nie. 39 Hieroor het hulle so skerp verskil dat hulle van mekaar geskei het. Barnabas het toe vir Markus geneem en met ‘n skip na Siprus toe vertrek.”


Paulus en Barnabas spandeer na die vergadering in Jerusalem, nog ‘n tyd aan die bediening in Antiogië en dan besluit Paulus dis tyd om te gaan “kyk hoe dit gaan met die gelowiges in al die stede waar hulle die woord van die Here verkondig het.” (Wanneer ons die Briewe van Paulus lees, spreek dit verskeie kere duidelik dat Paulus hom voortdurend bekommer het oor die geestelike toestand van die jong gemeentes wat deur hom gestig is.) Paulus bespreek die saak met Barnabas en stel voor hulle gaan weer saam op reis – retracing their steps. Barnabas was onmiddellik daartoe bereid, maar met die voorwaarde dat sy neef, Johannes Markus, saamgaan. Paulus weier egter, omdat hy blykbaar nie vertroue gehad het in Johannes Markus nie. Waarskynlik weens die feit dat Markus hulle op die vorige sendingreis in Pamfilië verlaat het en dalk weer sal doen.


Hierdie ongelukkige kwessie het ’n verbittering tussen Paulus en Barnabas veroorsaak en hulle paaie skei. God het egter hierdie voorval ten goede aangewend, want in plaas van een sendingreis, is twee reisplanne nou uitgevoer. Ons fokus eers op Barnabas. Barnabas was vredeliewend van geaardheid (9:27), maar in hierdie geval wou hy nie toegee nie. Hy het Markus saam met hom geneem en na Siprus, sy geboorteland, vertrek om daar vrugbare arbeid te verrig. Barnabas is vir ons ‘n voorbeeld van iemand wat sy arsenaal van gawes – bemoediging, vrygewigheid, gasvryheid, begeleiding – tot voordeel van die kerk en in diens aan die Here aangewend het. Hy illustreer vir ons hoe ‘n Christelike lewenstyl werk.


Barnabas was dus bereid om aan Johannes Markus 'n tweede kans te gee. En hy demonstreer daardeur aan Johannes Markus dat hy die moeite werd is, en van waarde in die uitbreiding van die evangelie sal wees. Dit is immers die hart van die evangelie dat ons ander moet vergewe omdat God ons nooit verstoot nie, maar aan ons elkeen verskeie geleenthede vir skuldbelydenis en vergifnis gee. Dit is ironies genoeg immers wat ook met Paulus gebeur het. God het hom die geleentheid gegee om van vervolger na verkondiger te verander. En Barnabas se bediening het gesorg dat Paulus deel van die hoofstroom bedienaars geword het.


Barnabas is iemand wat wys hoe ’n geseënde lewenstyl gevorm word deur die geestelike gewoontes wat ons beoefen. Sy lewensverhaal was dié van ’n gewone mens, soos ek en jy. Deur die Here se genade kan elkeen van ons só ’n lewensverloop hê. Hy was ’n brugbouer juis omdat hy met ’n been weerskante van die groot kulturele grense van die antieke wêreld gestaan het. Só het hy ’n stigterspionier van die kerk geword wat ’n beslissende invloed op die wêreldwye gestalte van die kerk, tot vandag toe, uitgeoefen het. Hy verdien ’n plek in die harte van Christene oor die wêreld as ’n man wat uitnemend daarin geslaag het om sy gawes in diens van sy roeping in die kerk en koninkryk van God in te span.


Die kern van die konflik tussen hom en Paulus was die belangrike vraag: hoe maak mens met mense wat nie end-uit volhou nie? Mense wat terugdeins of afdwaal? Enige godsdiens het die probleem van mense wat hulself as “free riders” beskou. Dit is mense wat deel wil wees van die kerk, en in die voorregte deel, maar nie bereid is om die prys van dissipelskap wil betaal nie – name op die lidmaatregister maar daar eindig dit.


Ons het almal sekere lewensreëls: “doen jou bes” of “aanhouer wen”. Dit druk ons lewenshouding en keuse van lewenstyl uit. Dit gee struktuur en doelgerigtheid aan ons lewens. Die storie word vertel van ‘n man wat in die hoofstraat van ‘n besige stad gestap het met ‘n plakkaat om sy nek. So in die verbygaan het baie mense allerhande aanmerkings gemaak. Party mense het hom gestop en gevra of hy mal is om ‘n plakkaat te dra wat sê: I AM A FOOL FOR CHRIST. Dieselfde mense met die snedige aanmerkings het egter hulle koppe in skaamte laat sak. So in die verbygaan het hulle nog ‘n plakkaat agter op sy rug gesien wat lees: WHOSE FOOL ARE YOU? Hoe lyk dit, wie se fool is ek en jy? Ek weet nie van jou nie, maar ek deins nie terug nie en ek beskou myself nie as ‘n free rider nie. Dit gaan egter nie oor my nie. As Jesus se Naam geëer word, gee ek nie om om ‘n fool vir Hom te wees nie. Dit is deel van ‘n Christelike lewenstyl.


“In die koninkryk van God word alle aardse waardes omgekeer. Wat die wêreld dwaasheid noem, is eintlik ‘n Christen se wysheid wat die verskil uitwys tussen God se ewige waarheid en die 'gesonde verstand' van die wêreld” (GP Fedof).


Gebed: Here, niemand hou daarvan om ‘n dwaas te wees nie, maar as u Naam daardeur geëer word, is ek bereid om ‘n fool vir U te wees. Amen.

Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page