Gedagte vir Vandag
Dinsdag, 18 Julie 2023
Koos Espach
Die Kerkvergadering in Jerusalem (3)
Die vraag oor die besnydenis word verwys na ‘n vergadering in Jerusalem (3)
God reinig deur die geloof in Jesus Christus
Hand. 15:7-11 – “Na ‘n lang bespreking het Petrus opgestaan en vir hulle gesê: ‘Broers, julle weet dat God my lankal uit julle geledere gekies het om die evangelie aan die heidennasies te verkondig sodat hulle kan glo. 8 En God, wat die harte ken, het dit bevestig deur die Heilige Gees aan hulle te gee net soos aan ons. 9 Hy het geen onderskeid tussen ons en hulle gemaak nie: Hy het ook hulle harte deur die geloof gereinig. 10 Waarom wil julle dan nou God se geduld op die proef stel deur op die nek van die gelowiges uit die heidennasies ‘n juk te lê wat ons voorvaders nie in staat was om te dra nie en ons ook nie? 11 Nee! Ons, en ook hierdie gelowiges, glo dat ons net deur die genade van die Here Jesus gered word.”
Lukas beskryf nie vir ons hoe die debat begin het nie. Dit is egter duidelik dat daar ’n lang en lewendige bespreking plaasgevind het. Die gesprek in die gemeente handel oor alles wat God gedoen het. Die tema is die lewe van geloof, en die wyse waarop gelowiges beleef dat God handel. Op ’n beslissende oomblik in die debat het Petrus as leier en woordvoerder van die apostels wat in Jerusalem teenwoordig was, opgestaan. Hy herinner die vergadering ook eers oor wat God doen en gedoen het en dat hy ook geroep is om die evangelie aan die heidennasies te bring. Trouens, hy het onlangs van ’n eie sendingreis teruggekeer. En hy het self beleef hoedat God sy Gees aan heidense gelowiges gee, met die bekering van Kornelius en sy mense, net soos aan Joodse gelowiges (Hand. 10).
Petrus het gesien dat hierdie heidene (Kornelius en sy hele huisgesin in Sesarea), se harte deur geloof gereinig is, nie deur die nakoming van die Joodse wet nie, wat beteken dat die besnydenis nie noodsaaklik is nie. Dit is nie alleen onnodig nie maar ook onhoudbaar om nie-Jode te verplig om die wet van Moses te onderhou. Petrus se punt is dus dat hulle Joodse-gelowiges nie in die regte verhouding met God gekom het omdat hulle die wet gehoorsaam het nie. Nee, hulle is slegs gered omdat hulle in Jesus Christus glo, en dit geld dus ook vir nie-Jode (tot vandag toe.) Dit maak nie sin om van die nie-Jode te verwag om godsdienstige reëls en Joodse rituele na te kom wat hulle in elk geval nie kan red nie. Buitendien, sedert die dae van hulle voorvaders het die Jode onophoudelik die wet oortree en so die reg verbeur om dit as eis aan ander voor te skryf.
Alhoewel party van die gelowiges wat vroeër Fariseërs was, hulself tans beskou het as deel van die Christene, het hulle steeds na vore gekom en gesê: “Die bekeerlinge moet besny word en aangesê word om die wet van Moses te onderhou” (v. 5). Die skrifgeleerdes en Fariseërs het een beginsel onvolmaak aangegryp: God se wil moes in alles gesoek word en Sy volk moet hulle hele lewe daaraan toewy om dit toe te pas. Hulle getrouheid het gepaard gegaan met hulle uiterlike optrede – hulle het gedink hoe méér hulle kon dóén van die wet, hoe meer sal hulle vir God kan beïndruk – kwantiteit in plaas van kwaliteit! Hulle leerboeke van reëls en regulasies, volgens húlle interpretasie, het dikker en belangriker geword as die Woord van God – Jesus Christus! Hulle keuse was die regte een maar waar hulle verkeerd gegaan het was om die wil van God tussen húlle magdom mensgemaakte reëls en regulasies te vind.
Wat is dan die regte beginsel? Waarom al die reëls as dit nie vir ons die saligheid inhou nie? Nee, die saligheid het ons reeds in Christus. Die regte beginsel is vir ons die reël van ons dankbaarheidslewe – dié een wat Jesus voor gekom het om “volle betekenis te laat kry” (Matt. 5:17). Daarom kan die wet veeleer as ‘n blye boodskap gesien word en die bedoeling daarvan eerbiedig: Eerbied vir God; eerbied vir God se dag; eerbied vir ouers – vir lewe – vir eiendom – vir ander mense – vir die waarheid – vir onsself sodat verkeerde begeertes nie beheer van ons neem nie. Jesus het nie die wet kom vervang nie, maar sekere aspekte daarvan wat glad nie by die wet gehoort het nie en later bygevoeg is deur die destydse skrifgeleerdes, wat die wet verwring het.
God se wet is nie bedoel om neerdrukkend en knellend of selfs beperkend te wees nie. Die wet van God is die “padkaart” wat ons help om die lewe met vreugde te geniet, ‘n riglyn vir ‘n lewe wat vir God aanneemlik is en wat tot voordeel en geluk van ons as Sy verbondskinders is. Dit is nie die eer en respek wat aan ‘n magdom reëls en regulasies, moets en moenies en behoorts, gekoppel is nie, maar liefde, liefde vir God en liefde vir ons naaste. Dit is egter nie so maklik nie! Ons worstel telkens opnuut om in geloof na al die gebooie van God te leef. Saam met Paulus erken ons dat die sonde ‘n vastrapplek in ons lewe gekry het: ”Diep in my wese vind ek vreugde in die wet van God, maar ek vind in my doen en late ‘n ander wet, wat stryd voer met die wet van my gees. Dit maak my ‘n gevangene van die wet van die sonde wat in my doen en late aan die werk is” (Rom. 7:21-23).
Goddank, daar is geen plusse by die evangelie nie. Net Jesus red ons. Geen doopwater, gereelde kerkbesoek, groot kerkbydraes, geloofsrituele, of wat ook al, kan my en jou in die regte verhouding met God bring nie. Nee, net geloof kan. Dit is al wat by Hom saak maak, die anders goeters is bysaak! God ken ons harte en ons bedoelings en daarom het ons as Christene ‘n groot verantwoordelikheid. As nuwe mense moet ons leef met ‘n nuwe styl en dit is net moontlik deur die leiding van die Heilige Gees.
“Godsdiens en geloof verskil radikaal. Godsdiens word gebou op eie ervaring. Geloof vertrou op God, al sê jou ervaring dat daar geen rede is om Hom te vertrou nie” (Louis Berkhof).
Gebed: Hemel Vader, U het my geskape om hier op aarde as U verteenwoordiger op te tree. U wil en wet bepaal my sedes. Dankie, dankie, dankie, vir U genadegawe van die ewige lewe wat U aan my gee in Christus Jesus, ons Here. Amen.
コメント