top of page

Gedagte vir Vandag

Maandag, 17 Julie 2023

Koos Espach


Die Kerkvergadering in Jerusalem (2)

Die vraag oor die besnydenis word verwys na ‘n vergadering in Jerusalem (2)


Gelowiges is almal dissipels in dieselfde saailand


Hand. 15:4-6 – “Toe hulle in Jerusalem aankom, is hulle deur die gemeente, die apostels en die ouderlinge verwelkom. Hulle het vertel wat God alles deur hulle gedoen het, 5 maar party van die gelowiges wat vroeër Fariseërs was, het na vore gekom en gesê: ‘Die bekeerlinge moet besny word en aangesê word om die wet van Moses te onderhou.’ 6 Die apostels en die ouderlinge het toe bymekaargekom om hierdie vraagstuk te bespreek.”


Mense van Judea het in Antiogië die gelowiges probeer wysmaak dat die besnydenis noodsaaklik was vir hulle redding. Hoewel Petrus reeds met die bekering van Kornelius dit duidelik laat blyk het dat die besnydenis nie belangrik was nie (Hand. 10:46) en die gemeente in Jerusalem daarmee saamgestem het (11:15-18). Die gemeente in Antiogië besluit om die apostels en ’n paar ander na die apostels en ouderlinge van Jerusalem te stuur vir klaarheid oor die saak. Met hulle aankoms in Jerusalem, is hulle deur die gemeente, die apostels en ouderlinge verwelkom. Die afgevaardigdes is dus op ’n amptelike wyse ontvang en as verteenwoordigers van die gemeente van Antiogië erken en aanvaar, waaruit blyk dat die gemeente te Jerusalem waardering gehad het vir die eerste en vernaamste Christelike gemeente uit die heidene.

Eers doen Paulus en Barnabas in ’n gemeentevergadering verslag oor wat plaasgevind het van die welslae van hulle werk onder die heidene; van wat God alles deur hulle gedoen het en beklemtoon só die feit dat dit God is wat die werk deur hulle gedoen het. (As die Here werk, kan niemand, geen mens, keer nie.) Maar, by die verwelkoming kom ’n mens egter agter die kap van die byl. Veral gelowiges wat vroeër Fariseërs was het sterk gevoel dat alle nuwe gelowiges Jode moet word. As noodsaaklike lewenspraktyk moet die nuwe gelowiges uit die heidendom besny word en die wet van Moses onderhou.


Terwyl ek die teks gelees het en die Fariseërs wat ’n ekstra juk op nie-Jode wou plaas, daar raakloop, het ek aanvanklik negatief daarna gekyk. Die versoeking was om dié “beswaardes” te ignoreer of hulle standpunte van die tafel te vee. Alternatiewelik kan mens te vinnig soek na ’n kompromis, om die konflik uit die weg te kry, en so die waarheid afwater. Daarom moet ’n mens nie altyd probeer om konflik te vermy nie, en ook nie om dié wat anders dink aan te val nie. Hoekom? Die hantering van hierdie konflik het vir ons ’n model gegee wat die toets van die tye deurstaan het. Die voordeel van hierdie hantering, is dat hierdie besoek aan Jerusalem ’n baie belangrike openbaring sou word van hoe ’n mens geloofsonderskeiding doen. Hulle beoefening van hierdie geestelike gewoonte het die standaard geword wat vir die kerk van alle eeue gewys het hoe ’n mens die wil van God onderskei.


Paulus het per geleentheid aan die Korintiërs die volgende voorgehou: “As ek die evangelie verkondig, is dit nie vir my ‘n rede om te roem nie. Ek verkondig die evangelie omdat ek móét! En wee my as ek dit nie doen nie!” (1 Kor. 9:17). Hy het ‘n verantwoordelikheid gehad wat hy end-uit moes uitvoer. Dit is nie dat ‘n verpligting op hom afgedwing was nie. Hy wóú dit nie anders gehad het nie, want hy was oortuig dat die Heilige Gees dit in sy hart gelê het! Daar is niks wat Paulus meer verheug het as om te sien hoe die evangelie by die regte adres aankom nie; hoe mense hulle rykdom in Christus besef en daaruit lewe nie; hoe mense in geloof onwrikbaar daaraan vashou; hoe hulle vrugdraende dienaars van God word, veral uit die geledere van die heidene, wat vroeër nie God geken het nie.


Arbeiders in diens van die Here verskil van mekaar in oorleg en opdrag, maar saam werk ons vir dieselfde groot saak, naamlik die koninkryk van God. Ons beoordeel mekaar dikwels op die uiterlike en menslike vlak; ons kyk na geografiese afkoms of bloedlyn. Ons plaas mense in groepe op grond van uiterlike of ander gewoontes en volgens my keuse en mý keurlysie, en dit bring dan ook skeiding. Dit veroorsaak konflik, dit maak dat mense soortgenote opsoek – dié wat soos ek is en lyk en selfs doen. En eintlik is ons gelowiges wie almal dissipels is in dieselfde saailand. As die Here werk, kan niemand, geen mens, keer nie.


Ons moet leer om met heeltemal ander oë na mekaar te kyk, ‘n Jesus gesindheid openbaar. Nie uit watter volk kom hy of sy nie, maar uit watter Bron drink hulle? Nie watter familiebloed stroom deur hulle are nie, maar watter Water stroom deur hul lewe? Nie hoe lyk hulle uiterlike nie, maar is hy of sy ’n kanaal van die Gees? En dan kom daar ware herkenning, dán vind ons mekaar by die gesamentlike Bron waar geen onderskeid is nie: Jesus Christus. Ons is saamgebind deur gemeenskaplike blydskap en aangespoor om elkeen op sy eie terrein getrou aan die werk te bly. In die proses saai sommige en ander oes, tog bly dit dieselfde oes van die Here. Die koninkryk van God is mos ons prioriteit. Dis hoe maklik dit is. En bowenal, dis ons verantwoordelikheid!


"He has no hands but our hands to do His work today. He has no feet but our feet to lead men in His way. He has no voice but our voice to tell men how He died. He has no help but our help to lead them to His side" (William Barclay).


Gebed: Jesus Christus, hier is ek, sondaarmens. Maak my betrokke in U saailand. Stuur my om dissipels te gaan maak, ander en myself te leer om alles te onderhou wat U ons beveel het (Matt. 28:19-20). Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page