top of page

Gedagte vir Vandag

Donderdag, 13 Julie 2023

Koos Espach


Eerste sendingreis: Barnabas en Saulus word uitgestuur (55)

Paulus en Barnabas keer na Antiogië in Sirië terug (4)


Die Heilige Gees; God in ons


Hand. 14:27-28 – “By hulle aankoms het hulle die gemeente bymekaargeroep en vir hulle vertel wat God alles deur hulle gedoen het en dat Hy vir die heidene die deur van die geloof oopgemaak het. 28 Die apostels het ‘n geruime tyd daar by die gelowiges deurgebring.”


Ná hulle aankoms in Antiogië in Sirië, het Paulus en Barnabas die gemeente bymekaargeroep en alles aan hulle vertel wat God deur hulle gedoen het. Hulle het vertel dat God deurentyd met hulle was, en vir die heidene die deur van die geloof oopgemaak het. Hulle was maar net die nederige instrumente wat God in sy diens gebruik het. Jesus het mos gesê “Hy het Paulus gekies as sy werktuig om sy Naam uit te dra onder die heidennasies en hulle konings en ook onder Israel” (9:15). Voorheen was daar enkele heidene wat tot bekering gekom het, maar nou was dit duidelik dat God gemeentes in die groot heidenwêreld tot stand wou bring.

Daarna het hulle ’n tyd lank in Antiogië in Sirië gebly, moontlik om nuwe kragte op te bou want Paulus was nog nie klaar met sy roeping wat Jesus in Handelinge 9:15 aan hom opgedra het nie. Dit was tydelik die afsluiting van ’n periode, ‘n periode wat ons weet wat alles gebeur het. Ons was sedert 12 April elke tree van die reis saam met Paulus en Barnabas. Saam met hulle het ons die wonder beleef dat mense wat nie van die lewende God geweet het nie, in Hom begin glo het. Toe God hierdie “deur van geloof vir die heidene destyds oopgemaak het,” het Hy dit ook vir ons oopgemaak. Is dit nie wonderlik nie? Ons kan nie anders as om te besef, dat na 2 000 jaar, God steeds aan die werk is, dat God se Gees steeds in die harte van mense werk om in Hom te glo en Hom te vertrou!


Ons is geneig om die krag en die werking van die Heilige Gees te onderskat. Ek sluit myself hierby in. Ek het altyd gedink dat my geloof in God afhang van hoe hard ek sy Woord moet bestudeer en soveel as moontlik van die waarheid indrink om my geloof in Hom sterker te maak. Maar ek weet nou dat dit nie net van my afhang nie: “Ons is gered deurdat die Gees ons vir Hom afgesonder het en deurdat ons die waarheid glo” sê Paulus (2 Tess. 2:13b). Dankie tog, want op my eie sal ek dit nie maak nie.


Die Heilige Gees is God se geskenk aan ons. Die Here het geweet ons gaan sukkel om tussen die gejaagdheid van die lewe ons fokus op Hom te hou. Daarom word die Gees aan ons gegee as Helper. Dis juis Hy wat reeds, nog voor ons na God uitgereik het, daar was. Dit is juis Hy wat ons gehelp het om God aan te neem: “Dit is regtig net aan die Gees te danke dat julle nou glo. Toe ons die goeie nuus aan julle bekend gemaak het, het julle Sy roepstem gehoor. Daarom sal julle ook deelhê aan ons Here Jesus Christus se heerlikheid. Julle sal eendag by Hom in al Sy hemelse glans en glorie gaan bly” (2 Tess. 2:14 – Die Boodskap).


Ek en jy is opsy gesit vir God. Ons moet ook onthou God is ’n jaloerse God en Hy wil ons nie deel met iets of iemand anders nie. Die duiwel weet dit ook. Daarom dat hy sy bes probeer om goeters in te druk om God se spasie in ons lewe oor te neem. Hy prop karre in. Huise. Geld. Roem. Klere. Besigheid. Vriende. Familie. Blieng. Werk. Partytjies. Noem maar op. Dis nie verkeerd om dit alles te hê nie, maar wanneer alles ingeprop word om ons al hoe minder afgesonder te maak vir God, is dit verkeerd. Die vyand probeer ons heiligheid steel.


Die Heilige Gees daarenteen, wil ons help dat ons reg is die dag as ons by die hemel instap. Hy wil seker maak dat ons pas by wat ons gaan ontvang. Daarom wil Hy help dat ons al die gemors van die wêreld sal afskud. Hy wil elke deel van ons gedagtes, woorde, bedoelings en dade in lyn kry met God se wil vir ons lewe. Dis ’n lang proses waardeur ons moet gaan. Gelukkig, wanneer ons die Gees innooi in ons lewe, vra Hy nie vrae oor die toestand van Sy blyplek nie. Die gemors daar binne sal Hy mettertyd uitsorteer. Skoonmaak, afstof, uitvee, weggooi en regpak. Dit is wat ons die heiligmakingsproses noem. ’n Proses waar ons geleer word om ontslae te raak van die wêreldse dinge totdat ons al hoe meer tot eer van God begin leef.


Dis nie altyd so maklik nie en baie keer maak dit seer. Ons moet soms dinge opgee waaraan ons al lankal gewoond geraak het. Maar, en dit is nou wanneer die menslike “maar” van my en jou teenoor die Goddelike “maar” te staan kom, moet ons moeite maak om tyd vir die Heilige Gees te gee. Dit werk só: Wanneer Hy ingryp, my en jou reddend vasgryp, draai ons om en loop weg van die dinge waaraan ons gewoond geraak het. God wil nie hê ons moet ons te pletter loop saam met die duiwel nie, Hy het ons te lief! Kom ons laat toe dat die Heilige Gees Sy werk in ons lewe doen. Kom ons maak dit maklik vir Hom om ons te help. Ons hoef dit nie alleen te doen nie. As ons Vennoot sal Hy ons blinde kant bedek en die vyand namens ons beveg.


“Daar is geen menslike krag wat die krag van die Heilige Gees kan vervang nie” (Lewi Pethrus).


Gebed: Here Gees, hou my asseblief vas in U hande. Klem U vingers om my. Klou styf vas en moet asseblief nie U steur aan my wanneer ek halsstarrig probeer om myself los te wikkel nie. Ek pleit dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page