top of page

Gedagte vir Vandag

Dinsdag, 11 Julie 2023

Koos Espach


Eerste sendingreis: Barnabas en Saulus word uitgestuur (53)

Paulus en Barnabas keer na Antiogië in Sirië terug (2)


Praat en doen die regte dinge


Hand. 14:23 – “In elke gemeente het hulle ouderlinge gekies. Nadat die gemeente gebid en gevas het, het die apostels hulle opgedra aan die Here, in wie hulle nou geglo het.”


Paulus en Barnabas moes eenvoudig gou terugkeer na Listra, Ikonium en Antiogië in Pisidië waaruit hulle verdryf was. Hulle werk was nog nie afgehandel nie en die gelowiges daar kon nie aan hulle eie genade oorgelaat word nie. By hulle eerste besoek kon Paulus en Barnabas die godsdienstige lewe van die gemeente nie na behore reël nie, daarom moes daar manne gekies word om die leiding te neem. Hulle gaan terug om die gelowiges geestelik te versterk en hulle aan te spoor om in die geloof getrou te bly. Die fokus in hulle versterking was nie net om te preek en die evangelie te verkondig nie, maar om die “onderlinge gemeenskap te versterk” en spesifiek “ouderlinge te laat kies.” Dit was die sisteem wat reeds in Jerusalemgemeente gevestig was (Hand. 11:30; 21:18), en word nou in al die nuutgestigte gemeentes nagevolg.

In elke gemeente het die gelowiges onder leiding van Paulus en Barnabas manne aangewys, en die apostels het hulle deur ’n bepaalde gebaar of handeling, bv. handoplegging in die amp van ouderling gestel. Ná die kiesing van die ampsdraers het die apostels en die gemeente gebid en gevas om die seën van die Here te vra oor wat hulle gedoen het. Die apostels draai nie doekies om oor wat getrouheid gaan kos nie. Soos die gelowiges dit grafies in Barnabas en Paulus se lewe geïllustreer gesien het – in Paulus se geval selfs deur die gewelddadige steniging – leer die apostels hulle dat “ons eers deur baie verdrukking (sal) moet gaan voordat ons in die koninkryk van God kom” (v. 22b).


Ek het dit al voorheen gesê, maar gun my asseblief die geleentheid om dit weer te sê: Ons is ontsettend bevoorreg om te kan en te mag glo – dis ’n groot wonderwerk. Dit kon soveel anders gewees het. Dink net hoeveel mense in die wêreld nie die kans kry om die keuse te maak nie. Dit is hartverskeurend. Ja, daar is mense wat nooit die kans sal kry om vir Jesus te kies nie. Bloot weens die feit dat hulle nooit die goeie nuus gehoor het nie. Dan is ek nog meer dankbaar vir, onder andere Paulus en Barnabas destyds, en die mense van vandag wat bereid is om alles net so te los en in die verre vreemde Jesus se Naam te gaan uitdra. Dankie tog vir hulle!


Ag, en ons hoef nie alles net so te los en die verre vreemde gaan aandurf nie. Ons kan net daar waar die Here ons geplaas het, Jesus se Naam uitdra. Jacques sal my vergewe dat ek vandag na hom verwys. Hy is tans ‘n afgetrede mynbestuurder en was ook ouderling, wat ‘n groot voorbeeld was om sy werkers “geestelik te versterk en hulle aangespoor het om getrou te bly in die geloof.” Hy het regtig probeer om vir God by die werk te getuig. Net soos hy is, met al sy swakheid, maar gelei deur die wonderlike Heilige Gees wat in hom woon en werk. Hy het die eerste tree geneem om vir sy werkers een oggend voor hulle ondergronds in die myn na hulle onderskeie werksplekke toe gaan, van God se grootheid en goedheid vertel.


Toe hy wou omdraai en wegstap, begin hulle vir hom hande klap en bedank hom vir wat hy daardie oggend gedoen en gesê het. Net daar vra hulle of hulle almal saam ’n groot kring kan maak, mekaar vashou en saam te bid. Van daar af het hulle elke oggend hul kring gemaak en die Heilige Gees as hulle eregas uitgenooi. Hulle het vir mekaar gebid, vir veiligheid in hulle werksplekke, vir hulle omgewing en vir mynbestuur. En hulle verkondig in Sý Naam dat Hy en Hy alleen God en Here is.


Jacques was stom van verbasing oor hoe God intree as ons vir Hom optree. Daarom getuig hy dat as ons die eerste stap vir Jesus neem, (wat ons nogal partykeer ongemaklik kan laat voel, omdat ons nie weet hoe die ander se gesindheid gaan wees nie), Hy al die asemrowende wonderwerke laat gebeur. Hy het daarna elke oggend en aand vir daardie werkers van hom gebid dat hulle sal vashou aan die ewige hoop en ’n groter en dieper honger en dors vir Hom en Sy woord sal hê. Nodeloos om dit te noem, maar die gesindheid onder almal het verander in ‘n geloofsgemeenskap. Werksverhoudinge, veiligheid en produksie het verbeter en ons kon nie anders as om die eggo van Paulus se woorde te hoor nie: “Mag God en Christus julle geloof sterk maak en julle help om die hele tyd die regte dinge te sê en te doen” (2 Tess. 2:7 – Die Boodskap).


Sjoe, watter mooi voorbeeld van God se Gees wat werk, omdat een persoon die regte dinge sê en doen. Maar só is Hy, die God van weerbegin. Hy is die herskrywer van die krom en skewe verhale wat Sy kinders oor hulle lewe skryf. Ons mag nie begeer nie maar, ek hoop daar kan eendag sulke stories van my geskryf word. Ek bid dat daar eendag sulke stories ook van jou vertel sal word. Daarom bid ek graag: “... mag God jou help om die hele tyd net die regte dinge te sê en te doen.”


“Daar kom ‘n spesiale oomblik in elke mens se lewe, ‘n geleentheid waarvoor jy gebore is ... en indien jy sou waag om dit aan te gryp ... is dit jou grootste uur” (Winston Churchill).


Gebed: Here, ek wil ook graag die vrymoedigheid hê om oor U en U wil met ander te gesels. Laat U liefde my dring om U koninkryk in my huis en by my werksplek te bring. Ek vra dit in Jesus se Naam. Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page