Gedagte vir Vandag
Maandag, 10 Julie 2023
Koos Espach
Eerste sendingreis: Barnabas en Saulus word uitgestuur (52)
Paulus en Barnabas keer na Antiogië in Sirië terug (1)
Tree as oorwinnaars uit die stryd
Hand. 14:21-22 – “Paulus en Barnabas het die evangelie ook in Derbe verkondig, en baie mense het daar gelowig geword. Daarna het hulle na Listra, Ikonium en Antiogië toe teruggegaan. 22 Hulle het die gelowiges geestelik versterk en hulle aangespoor om getrou te bly in die geloof. ‘Ons sal eers deur baie verdrukking moet gaan voordat ons in die koninkryk van God kom,’ het hulle gesê.”
Die gelowiges in Listra gaan staan rondom Paulus wat vir dood agtergelaat is na hy gestenig is, en beleef die wonder dat hy opstaan en dadelik in die stad weer ingaan. Die volgende dag vertrek hy en Barnabas na Derbe, ook ‘n stad van Likaonië, 75 km oos van Listra. Lukas vertel nie veel van hulle werk in Derbe nie. Waarskynlik het daar niks opspraakwekkends gebeur nie, behalwe dat “baie mense daar gelowig geword het.” Dit is ook die enigste stad in Klein-Asië waarvolgens oorlewering, daar geen vervolging van Paulus en Barnabas was nie. Dit moes vir hulle waarskynlik ’n vreemde ondervinding gewees het om die evangelie daar te verkondig en geen teenstand te ondervind het nie.
Dit is ook die omdraaipunt vir Paulus en Barnabas op hierdie eerste sendingreis. Hulle begin terugkeer, min of meer op dieselfde roete waarmee hulle gekom het. ‘n Mens moet Paulus en Barnabas se moed bewonder dat hulle so gou teruggegaan het na Listra, Ikonium en Antiogië in Pisidië waaruit hulle verdryf was. Maar, hulle moes eenvoudig terugkeer want hulle werk was nog nie afgehandel nie. Hulle gaan terug om die gelowiges geestelik te versterk en hulle aan te spoor om in die geloof getrou te bly en te herinner dat “hulle eers deur baie verdrukking moes gaan voordat hulle in die koninkryk van God kan kom.”
Paulus se boodskap van destyds dat die gelowiges geestelik sterk moet staan, geld vandag steeds. Die boodskap is ongelukkig nie een van sukses, oorvloed, rykdom en mag nie, maar een van “baie verdrukking.” Soos die mens al hoe vryer word en al hoe meer kan sê en doen wat hulle wil omdat hulle sogenaamde menseregte dit toelaat, sal ons wat in God glo al hoe meer druk ervaar. Mense sal bewustelik probeer om ons uit die pad te kry. Ons moet bid vir God om ons te help. Die stryd is nie teen vlees en bloed nie, maar ook teen die geesteswêreld rondom ons (Ef. 6:12).
Op ons eie is ons te swak in hierdie “geestelike oorlogvoering.” Paulus stel voor ons moet die “volle wapenrusting aantrek wat God ons gee, sodat ons weerstand kan bied wanneer onheil ons tref” (Ef. 6:13). Ons kan nie net met ’n paar gewere die vyand uithaal nie. Ons is gewikkel teen ‘n gedugte vyand, naamlik satan en sy trawante. Henry verduidelik in sy kommentaar op e-Sword wie ons teenstanders is. Hy sê hulle is onredelik en eenvoudig kwaaddoeners. Hulle tree teen die reëls op en is onmenslik. Hulle het nie ’n saak met al die ander wat graag Christelike beginsels wil uitleef nie.
Henry gaan voort en sê: “Hulle tree op teen al die reëls en wette van rede en godsdiens en is skuldig aan die grootste absurditeit en goddeloosheid.” En om met sulke mense te redeneer, is nie ’n goeie idee nie. Hulle is dikwels nie oop vir ’n ander oortuiging nie. Kom ons wees eerlik en sê vir mekaar dat die mense wat teen God opstaan, nie skoon gaan baklei nie. Hulle gaan enige truuk op die rak probeer om ons van die pad af te kry.
Wat is die bottom line? Hebreërs 11 sê in die wedloop van die lewe moet ons oog gevestig wees op Jesus. Hy het klaar die heel moeilikste deel van die pad geloop. Ons moet op Hom fokus vir krag om nie moeg te raak en uitsak wanneer “verdrukking” erg raak nie. Paulus se raad om die “vyand” teen te staan is om ons aandag aan God te wy, en nie die heel dag aan satan en sy trawante dink nie. Ons kan ook op die regte manier “oorlog maak” om verdrukking te weerstaan, sonder enige weermag opleiding. Kom ons kyk hóé, volgens Paulus se aanbeveling in Efesiërs 6:10-18.
Wapen 1: “Waarheid as gordel” – Aanvaar Jesus as die weg en die waarheid. Wapen 2: “God se vryspraak as borsharnas” – Glo God het ons vrygespreek van sonde. Wapen 3: “Evangelieverkondiging as skoene” – Getuig oor Jesus as Verlosser en maak só satan se grondgebied kleiner. Wapen 4: “Geloof as skild” – Vertrou op God se woord en Sy beloftes. Wapen 5: “Verlossing as helm” – Glo elke dag dat ons verlos is deur Jesus en nuwe mense is. Wapen 6: “Bybel as swaard van die Gees” – Ken die Bybel en gebruik dit om satan terug te dryf. Wapen 7: “Gebed” – Volhardende en gereelde gebede gee die duiwel geen vashouplek in ons lewe nie!
Geestelike oorlogvoering beteken om met die Here besig te wees. Sodoende word ons tot die tande toe bewapen en word ons goeie soldate in die Here se weermag. Ek en jy moet egter ons Aanvoerder ken, die omvang van Sy verlossing, krag en genade aanneem. Ons moet elke dag tyd spandeer met Hom in gebed en Sy woord lees en toepas, vir ander ook van Jesus as ons Verlosser vertel, en só sal ons as goeie soldate op ons pos bly in Sy koninkryk tot die einde.
“As die Bose jou in God se geselskap sien, sal hy nooit rus sonder om jou met allerlei verleidelikhede daar te probeer weglok nie” (CS Lewis).
Gebed: Here, dankie dat U my tot die tande toe bewapen sodat ek kan staande bly teen die bose. Maak my ‘n goeie soldaat tot eer van U Naam. Amen.
Comments