Gedagte vir Vandag
Donderdag, 6 Julie 2023
Koos Espach
Eerste sendingreis: Barnabas en Saulus word uitgestuur (50)
Paulus en Barnabas in Listra (7)
Vertrou God met ons hele lewe
Hand. 14:19 – “Toe het daar Jode van Antiogië en Ikonium af gekom en die mense na hulle kant toe oorgehaal. Hulle het Paulus met klippe gegooi en hom uit die stad gesleep onder die indruk dat hy dood is.”
Die Jode wat Paulus en Barnabas se werk in Antiogië in Pisidië en Ikonium onmoontlik gemaak het, kom ook nou na Listra en slaag daarin om die mense na hulle kant toe oor te haal. Die omswaai van die mense van Listra is verrassend en skokkend. Die een oomblik wil hulle Paulus en Barnabas as gode vereer, net om Paulus, die woordvoerder, die volgende oomblik te stenig. Dit is presies wat vroeër met Jesus in Jerusalem gebeur het: Op Palmsondag is Hy feestelik ontvang terwyl Hy op ’n donkie onder swaaiende palms Jerusalem binnery, en Vrydag strompel Hy met sy kruis uit die stad op die via dolorosa na Golgota! Dieselfde mense wat Hom geëer het, het lustig saam geskree: “Kruisig hom!”
Ek wonder wat het Paulus gedink terwyl die klippe op hom neerplof? Word Jesus se woorde aan Ananias vervul dat “Hyself vir Paulus sal wys hoeveel hy vir Sy Naam sal moet ly?” (Hand. 9:16). Ja, goed, voor sy bekering het hy gedink en ook aanvaar dat hy regverdig voor God opgetree het deur Christene gevange te neem en tereg te laat stel. Hy het miskien homself herinner dat hy só verblind was terwyl hy toegekyk het hoe Stefanus gruwelik vir sy geloof vermoor is. Tref dieselfde lot hom nou om, nes Stefanus, te sterf deur steniging? Dit kan tog nie wees nie, want daar op die Damaskus pad het Jesus immers sy Verlosser en Heer geword.
Die Bybel leer nêrens dat Christene beproewinge sal vryspring nie. Dit leer wel dat ons beproewing, krisisse en persoonlike lyding sal kan verduur met ‘n bonatuurlike krag wat nie beskikbaar is vir iemand wat nie in Christus is nie. Wees gewaarsku, hoe meer erns ek en jy met God se dinge maak, hoe meer sal ons aangeval word. Dit is deel van die pakkie en niemand kan dit vryspring nie. Dalk speel die storie van my en jou lewe anders af as wat ons dit voorgestel of beplan het. Dalk het daar êrens dinge gebeur waar ons nie die regte keuses gemaak het nie, soos Paulus. Dalk was dit iemand anders se keuses wat ons nou met die gebakte pere laat sit.
Wanneer ons wiele afkom, wonder ons vinnig waar God is. As dit seer is en die pyn loop orals uit, wil ons weet wat van God geword het. Maar Hy is daar. Hy is altyd daar. Dis dalk juis die seer en pyn se skuld wat ons verblind vir God se teenwoordigheid in ons lewe. Stefan Joubert sê die evangelie is nie ‘n kitspakket wat met maklike instruksies na ons toe kom wat ons sagweg hemel toe neem nie. Die evangelie vra ‘n hoë prys, maar bied tog ook baie vreugde.
Gedurende moeilike tye moet ons juis aan ons geloof in God vashou. Ons moet aanhou om op Hom te vertrou. Al voel dit nie altyd so nie en al lyk dit vir seker nie so nie, moet ons glo dat God getrou is. Gelukkig hoef ons nie bang te wees nie, want Jesus het klaar die bose ore aangesit by die kruis. Hulle is klaar oorwin. Ten spyte van al ons foute en verkeerde keuses, God is regverdig. Hy het ons lief en Hy vergewe ons. Hy sal ons weer op koers kry om by Sy droom vir my en jou lewe uit te kom. Jesus hoef nie weer aan die kruis te gaan hang om ons geloof uit die stof op te tel nie.
Hoor baie mooi die beloftes wat in God se Woord staan: “Die Here is altyd getrou. Hy sal julle geloof sterk maak. Hy sal julle ook teen die Bose se aanvalle beskerm” (2 Tess. 3:3 – Die Boodskap). In hierdie kort versie is daar drie beloftes: God is altyd getrou. Hy is altyd presies dieselfde. Sy liefde vir ons sal nooit ophou nie. Hy sal ons altyd bystaan. Hy sal altyd die omstandighede waarin ons nou is, gebruik om ons te vorm sodat ons dit in Sy Koninkryk kan gebruik.
God los ons nooit alleen nie. Hy weet ons gaan droogmaak. Soos pasgebore babas ‘n mamma nodig het om hulle te voed en by te staan in die groeiproses, só sal God ons ook help met ons geloof. God sal ons ook beskerm teen die aanvalle van die bose. Om elke hoek en draai gaan die bose probeer om ons van God se pad weg te lok. Ongelukkig gaan hulle dit dalk regkry dat ons nou en dan struikel, maar God sal ons wéér ophelp, ons geloof versterk en weer terug op die pad kry. Helaas, ek en jy kan weet met ons hele hart dat God getrou is. Ons kán ons harte met die hulp van die Gees versterk met geloof. Ons kán baklei met alles in ons om nie in die wip van die bose te val nie. God sal ons al die pad beskerm.
“Ons kan God met ons hele lewe vertrou, al verstaan ons Hom nie” (Ferdinand Deist).
Gebed: Vader, dankie dat ons ten alle tye kan glo dat U getrou is. Dankie dat U sonder uitsondering altyd U beloftes nakom en dat ek U kan vertrou met alles in my lewe. Jammer dat my geloof soms in die hek duik. Help my om standvastig te bly in U. Ek vra dit in die kosbare Naam van Jesus. Amen.
Comments