top of page

Gedagte vir Vandag

Vrydag, 23 Junie 2023

Koos Espach


Eerste sendingreis: Barnabas en Saulus word uitgestuur (41)

Paulus en Barnabas in Ikonium (1)


Onbeskaamde getuies!


Hand. 14:1-3a – “In Ikonium het Paulus en Barnabas op dieselfde manier opgetree. Hulle het weer na die Joodse sinagoge toe gegaan en daar gepreek, met die gevolg dat ‘n groot aantal Jode en Grieke gelowig geword het. 2 Maar die Jode wat nie die boodskap wou aanneem nie, het die gemoedere van die heidene opgesweep en hulle teen die gelowiges aangehits. 3 Ten spyte hiervan het die apostels ‘n geruime tyd in die stad gebly en in vertroue op die Here onbevrees gepreek.”


Van Antiogië in Pisidië het Paulus en Barnabas, na Ikonium, ‘n stad in die gebied van Frigië in die Romeinse provinsie Galasië, gegaan en daar op dieselfde wyse as tevore opgetree. Die eerste punt van ontmoeting was weer om te preek in die sinagoge op ’n sabbatdag. Die gevolg was weereens tweërlei: ’n groot aantal Jode en Grieke word gelowig, maar die Jode wat nie die boodskap wou aanneem nie, het hulle teëgestaan en tree baie slinks op deur die stad se mense teen die apostels op te sweep. So was dit ook in Antiogië in Pisidië, en sou die patroon homself herhaal op baie plekke (Listra, Tessalonika, Berea, Korinte). Dieselfde pad wat Jesus vroeër in Jerusalem moes loop – die Joodse Raad beroep op Herodes en Pilatus om teen Jesus op te tree.


Iemand het gesê ‘n gegewe situasie kan vir een mens ‘n nagmerrie wees maar vir ‘n ander ‘n Godgegewe geleentheid. Vir Paulus en Barnabas was dit ‘n voorreg om elke Godgegewe geleentheid te benut om hulle geloof uit te leef. “Ten spyte van die teenstand het hulle ‘n geruime tyd in Ikonium gebly en in vertroue op die Here onbevrees gepreek.” Die vrymoedigheid om onbevrees met woord en daad te getuig, ontvang hulle van die Heilige Gees. Die Gees het van hulle onverskrokke getuies gemaak want hulle getuienis was nie uit hoorsê nie, maar persoonlike waarneming – hulle is deur die Gees uitgestuur om die woord van God te verkondig (13:4). Daarom kon Paulus op ‘n later stadium in sy bediening met vrymoedigheid bevestig: “Ek skaam my nie oor die evangelie nie, want dit is ‘n krag van God tot redding van elkeen wat glo ...” (Rom. 1:16).


Ons is nie verlos van sonde om geheime Christene te wees nie. Ek en jy kan nie skaam wees oor die evangelie nie – “Ons moenie skaam wees om die boodskap van die Here te verkondig nie” (2 Tim. 1:8). Ons geloof behoort nie iets te wees wat privaat is nie. Jesus het nie vir my en jou in die geheim of privaat aan die kruis gesterf nie, maar daar waar almal Hom kon sien! Gelowige dissipels se “lig moet voor die mense skyn” (Matt. 5:36), in hul woorde en werke buite die kerkgebou se mure, oral waar ons ons bevind. Ons taalgebruik moet ‘n lig wees wat donkerte verplaas en nie inpas by die donkerte wat ons omhul nie.


Ons moet aan die wêreld wys dat God se Woord ‘n verskil in ons maak. Die wêreld van ongeredde mense het lig nodig en ons as “ligdraers” van Christus, moet daardie lig wees. Jesus het ons verlos om die wêreld te belig met die evangelie. Die moeilikste is om dit woordeliks oor te dra, veral aan diegene wat dit onwelkom vind. Ons moet egter getrou bly aan ons opdrag en Jesus het belowe dat “ons krag sal ontvang wanneer die Heilige Gees oor ons kom en ons Sy getuies in die wêreld is” (Hand. 1:8).


Ons goeie werke moet gesien kan word, sê Jesus. Dit moet nie net goed wees nie, maar iets wat ander bekoor. Dit moet “ons Vader wat in die hemel is, verheerlik” (Matt. 5:16b). Christenskap moet gedemonstreer word met essensiële dade van geloof. Ek en jy is “glo-mense” anders kan ons nie gered word nie. Ons Christene is “doen-mense” omdat ons gered is! Om ons Christen-ligte te laat skyn, moet ons woorde deur ons dade bevestig word. Die belangrikste is egter dat ons getuienis alleen sal strek tot eer en verheerliking van God en deur sy Gees besiel sal word.


“Getuienis is om die verskillende struikelblokke van ons selfliefde te verwyder, sodat Christus wat in ons woon, Homself aan ons medemens kan vertoon” (Paul Frost).


Gebed: Here Jesus, help my deur U krag en genade om U ambassadeur te wees in hierdie wêreld. Mag my selfliefde plek maak sodat die Heilige Gees my kan voorgaan om ‘n onbeskaamde getuie van U te kan wees. Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page