top of page

Gedagte vir Vandag

1 Februarie 2021

Koos Espach


JESUS ONDERWEG NA SY LYDING, DOOD EN OPSTANDING (39)

(Matt. 16:21–25:46)


Jesus spel koninkrykswaardes vir huwelike, kinders en welvaart uit (6).

(Matt. 19:1-30)

Die ryk jongman (1)

(Mark. 10:17-31; Luk. 18:18-30)

Dissipelskap is nie so duur nie … dis duurder!


Matt. 19:16-22 – “Daar het iemand na Hom toe gekom en gesê: ‘Meneer, watter goeie daad moet ek doen om die ewige lewe te verkry?’ Hy het vir hom gesê: ‘Waarom vra jy My uit oor wat goed is? Daar is net Een wat goed is. Maar as jy die ewige lewe wil ingaan, onderhou die gebooie.’ ‘Watter gebooie bedoel u?’ het hy vir Hom gevra. Jesus het gesê: ‘Dit: Jy mag nie moord pleeg nie, jy mag nie egbreuk pleeg nie, jy mag nie steel nie, jy mag nie vals getuienis aflê nie, eer jou vader en jou Moeder en: jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’ ‘Dit alles het ek nagekom,’ het die jongman gesê. ‘In watter opsig skiet ek nog te kort?’ Jesus het hom geantwoord: ‘As jy volmaak wil wees, gaan verkoop jou besittings en gee die geld vir die armes, en jy sal ‘n skat in die hemel hê. Kom dan terug en volg My.’ Toe die jongman dit hoor, het hy bedruk weggegaan, want hy het baie besittings gehad.”


Nadat“Jesus die kindertjies die hande opgelê het” (v. 15), het Hy die huis verlaat om Sy reis verder na Jerusalem voort te sit. Anders as die Fariseërs en skrifgeleerdes, kom ‘n jongman na Jesus en probeer nie om Jesus met strikvrae vas te vra nie. Hy kom aangehardloop, val op sy knieë voor Jesus neer, smekend met ’n vraag (Mark. 10:10). Sy nood is nie ’n liggaamlike nie, maar ’n geestelike – hy verlang om toegang te verkry tot die koninkryk van God. In alle opregtheid vra hy “watter prestasie hy moet lewer om die ewige lewe te verkry?” Jesus se eerste woord aan hom is ‘n stukkie kritiek. Aangesien Jesus gekom het om God te verheerlik onder die mense, wys Hy die jongman met beslistheid tereg: “Jy praat so oor die goeie asof dit binne die mens se bereik lê. "Daar is net Een wat goed is, naamlik God." Hy het bepaal wat goed is in Sy wet, gaan doen dit dan.”


Maar watter gebooie bedoel Jesus? Die Jode het meer as ses honderd “moets, moenies en behoorts” gehad om na te kom. Jesus som dan die tweede tafel van die wet op en voeg naasteliefde daarby. Hiermee neem Jesus nie iets weg van die wet nie, maar wel die droom dat ons dit volmaak kan nakom. Terwyl die jongman meen dat hy alles onderhou het, besef hy dat sy aanspraak miskien oppervlakkig is omdat Jesus beklemtoon het dat “net God goed is”, daarom vra hy “waarin hy nog tekort skiet.” Die feit dat hy dit alles nagekom het, dui daarop dat hy tog vroom en nougeset geleef het en dit was vir hom belangrik. Jesus wil egter weet hóé hy dit uitgeleef het en onderwerp hom aan 'n toets. As hy die ewige lewe wil ingaan (nie bedoelende 'n volmaakte mens wees nie), moet “hy al sy besittings verkoop, die geld aan die armes gee en Jesus dan volg.” Dit sal hom al die genadegoed van die hemele laat bekom.


Jesus sê nie hiermee dat slegs materieel armes die koninkryk kan ingaan nie. (Dink net hoe ryk was Abraham en Job.) Die ryk jongman se besondere toegewydheid het daartoe bygedra dat “Jesus hom liefgekry het” (Mark. 10:21) maar ten spyte van sy nougesette toegewydheid het Jesus geweet daar is iets wat hy kortgekom het. Jesus skok hom met Sy antwoord, Hy ruk eintlik die spreekwoordelike mat onder die jongman uit. En hieroor was hy baie bedruk, want sy besittings was nog altyd vir hom sy hele lewe. Die eis wat Jesus aan hom stel, is dat hy bereid moet wees om van enigiets wat vir hom belangriker is as sy verhouding met die Here, afstand te doen. Dit sou beteken dat hy daarmee saam, afstand doen van sy aansien in die samelewing.


Volgens die Joodse opvatting was dit noodsaaklik vir hulle om sekere werke te verrig ter wille van die verkryging van die saligheid. Daarom antwoord Jesus dat wat “gedoen” moet word, voorgeskryf is in die wet van Moses. Die feit dat Jesus die tweede tafel van die gebooie aan hom voorhou, is asof Jesus die verhoudinge in die huisgesin, die hegtheid van die huwelik, die gesag van die ouers en naasteliefde wil stel as die “arms” wat die onderhouding van die ander gebooie insluit.


Jesus se “voorwaarde” was vir hom te hoog – Jesus konfronteer hom met ‘n totaal “ander soort godsdiens.” Hy moet nou ontslae raak van ál sy aardse sekuriteit en dit nét om deel te kan hê aan die koninkryk van God. Hy moes ophou staatmaak op sy eie prestasies – al het hy dit ook hóé goed bedoel. Hy moes leer dat verlossing ‘n geskenk is wat God uit genade gee aan dié wat nie net op hulleself vertrou nie, maar volledig van Hom afhanklik is. Hy moes leer dat die “genadegawe wat God gee, die ewige lewe is in Jesus Christus ons Here” (Rom. 6:23).


Die jongman het “geskrik toe hy dit hoor, en het bedruk weggegaan” (Mark. 10:22). Hy het omgedraai en treurig weggegaan. Sy hardlopende opgewondenheid met sy aankoms, het kontrasterend verander in ‘n wegdrentel met ‘n kop wat laag hang. Sy reaksie verklap wat hy agter sy goeie dade probeer wegsteek het. Hy het nie kans gesien vir Jesus se “elfde gebod” nie. Sy keuse van materiële gemak was hoër as om Jesus se liefde aan hom, te beantwoord. Mammon het hierdie rondte gewen – en ons hoor nooit weer van die ryk jongman nie!


Waar staan ek en jy as gelowiges, sou Jesus ons lewe moes beoordeel en sê daar is “een ding wat jy kortkom” (Mark. 10:21). Wat sal dit wees? Lê ons geloofsekerheid om die ewige lewe te verkry daarin veranker dat ons een of ander iets moet doen, of lê dit vas in God se genade en geloof in Jesus Christus? Dit is ‘n vraag wat elke opregte gelowige hom- of haarself een of ander tyd moet vra. Ons moet onsself dus in die skoene van hierdie jongman plaas. Is die aansien van mense só belangrik dat ons nie bereid is om ons afhanklikheid van aardse skatte prys te gee nie?


“Óf Jesus is die Koning van jou lewe, of iemand anders gaan dit wees” (Donald Coggan).


Gebed: Dankie Here vir die besef dat die belangrikste dinge in die lewe nie dinge is nie. Bevry my van die vervlietende vermaak wat mammon gee. Bevry my van die afhanklikheid van die tydelike bevrediging wat in die verganklike dinge van mammon te vinde is. Plaas my eerder in ‘n verhouding met U onbreekbare liefdesbande want dit is net U wat blywend kan versadig. Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page