Gedagte vir Vandag
Donderdag, 22 Junie 2023
Koos Espach
Eerste sendingreis: Barnabas en Saulus word uitgestuur (40)
Paulus en Barnabas in Antiogië in Pisidië (25)
Hoopvolle getuienis om God met blydskap te behaag
Hand. 13:52 – “Die gelowiges in Antiogië (in Pisidië) was vol blydskap en vol van die Heilige Gees.”
Vergelyk ook Rom. 15:9 – “Hy het ook gekom sodat die ander nasies God oor sy ontferming sou verheerlik, soos daar geskrywe staan: ‘Daarom sal ek U loof voor die nasies, en tot eer van u Naam sal ek ‘n lofpsalm sing.”
Deur die vervolging wat ontstaan, word hulle verdryf uit die streek. Paulus en Barnabas het toe as gebaar teen Antiogië in Pisidië, wat herinner aan wat Jesus as opdrag aan die dissipels gegee het (Matt. 10:14-15), die stof van hulle voete afgeskud en na Ikonium toe vertrek, ongeveer 130 km daarvandaan. Hierdie handeling van hulle was alleen teen die Jode gerig wat die vervolging veroorsaak het want hulle sou immers op hulle terugreis, weer die stad besoek om die Christene tot volharding aan te spoor (Hand. 14:21).
Paulus en Barnabas het egter ‘n lewenskragtige kerk in Antiogië in Pisidië agtergelaat. Lukas vertel dat die heidene wat dit aangehoor het – dié wat vir die ewige lewe bestem was – vol blydskap deur die werk van die Heilige Gees agtergelaat is. Dis ‘n aanduiding dat agter alles wat hier gebeur het, die Gees besig was om die oortuigingswerk te doen. Die Woord kan nie verdryf word wanneer die verkondigers daarvan verdryf word nie. Die Woord is nie gebonde nie, selfs wanneer die verkondigers daarvan verbied word om met die verkondiging voort te gaan.
Paulus en Barnabas se getuienis in Antiogië was nie tevergeefs nie. Die gebeure daar maak ons hoopvol oor ons getuieniswerk vandag. Hierdie getuienis kan kom deur toesprake, preke, gesprekke, een-tot-een kontakte, letterlik in honderde verskillende gestaltes. Niemand getuig tevergeefs van die werke van God deur Jesus Christus van Nasaret nie. Wanneer ons in Jesus Christus glo, vul sy Gees ons met ‘n innerlike vreugde om, soos Paulus en Barnabas, van sy geboorte, dood en opstanding, sy hemelvaart en wederkoms te getuig en met blydskap reageer wanneer ons sien dat mense die getuienis aanneem.
Om ‘n vreugdevolle kind van God te wees, is ‘n magtige getuienis teenoor die wêreld. Ons kan daarom uit dankbaarheid, verenig om soos een massakoor, God prys en tot Sy eer lewe! Die doel van ons bestaan, is immers om God se lof te verkondig. Al verskil ons van mekaar soos dag van nag, is ons gelowiges een liggaam: die liggaam van Christus. God het ons geskep en deur Christus herskep sodat ons vir Hom kan lief wees; kan dankbaar wees dat Hy uit genade, vir ons geloof geskenk het; kan dankbaar wees dat Hy deur sy Gees permanent teenwoordig is by ons; kan dankbaar wees dat God is wie Hy is: die groot “Ek is” en dat Hy ons Vader is. Wanneer die vrede van God in ons harte werk, sien die wêreld iets van sy liefde en begeer hulle om dit ook te besit. Só bring ons met blydskap, eer aan die Here.
Is dit nie wonderlik nie? God het nie nodig gehad om ons te skep nie, maar Hy het! Hy het elke mens geskep om Hom te eer en toe ons in sonde verval het, het Hy Jesus gestuur “sodat ons God oor sy ontferming kan verheerlik.” Die kruis verteenwoordig die doodgaan van al my en jou eie planne, al ons eie idees, ons eie begeertes, ons eie hoop en drome. Die belangrikste van alles, die absolute doodgaan van my en jou eie wil. Ons leef nou om God te behaag.
God het ons as waardevolle “kinders van Hom”, die gawe en vermoë gegee om dinge te geniet. Om die lewe te geniet en nie net te verduur nie, het Hy ons met vyf sintuie geskep, (‘n sesde bygevoeg vir die vrou), en boonop met emosies gevul sodat ons dinge kan ervaar! Deel van hierdie ervaring is om saam met Paulus en die Psalmis met blydskap God te “loof voor die nasies, en tot eer van sy Naam lofpsalms te sing.” Om God uit dankbaarheid te behaag, word aanbidding ‘n lewenswyse.
God se voorskrif vir ‘n gesonde geestelike lewe is ‘n gesonde verhouding met Hom. Bid, lees en bestudeer sy Woord, en gaan kerk toe. “Verdiep jou in sy Woord en sy wet (Jak. 1:25). “Volhard ook in die gebed” (Rom. 12:12). “Moenie van die samekomste van die gemeente wegbly soos party se gewoonte is nie, maar moedig mekaar eerder aan om daarheen te gaan” (Heb. 10:25).
Iewers wil ons voel ons behoort. Geluk en blydskap is liefdesgawes van God aan ons. Ek en jy kan dit met dankbare harte aanvaar en met ander deel en saam “God loof voor die nasies, en tot eer van Sy Naam lofpsalms sing.” Aanbidding is nie net ‘n deel van ons lewe nie, dit ís ons lewe! “Van waar die son opkom tot waar dit ondergaan, moet die Naam van die Here, geprys word!” (Ps. 113:3). Wanneer ons in die lig van die ewigheid leef, verander die klem van hoeveel plesier ek en jy uit die lewe put, na hoeveel plesier God put uit my en jou lewe.
“Die geheim van volkome vreugde is om nie te stry vir jóú wil nie, maar om jou volkome aan God se wil oor te gee en só jou vreugde en vrede te vind” (Evelyn Underhill).
Gebed: Here, dankie dat U my ‘n deel van U kerk op aarde gemaak het. As dit nie vir U leiding was nie, sou ek al lankal ‘n groot gemors gemaak het van alles wat ek aanpak. Besiel my deur die Heilige Gees dat ek met blydskap, onophoudelik ‘n getuie van U verlossing en liefde sal wees. Amen.
Comments