top of page

Gedagte vir Vandag

Maandag, 19 Junie 2023

Koos Espach


Eerste sendingreis: Barnabas en Saulus word uitgestuur (37)

Paulus en Barnabas in Antiogië in Pisidië (22)


Deel van God se huisgesin


Hand. 13:48-49 – “Toe die heidene dit hoor, was hulle baie bly oor die woord van die Here en het hulle dit toegejuig. Almal wat vir die ewige lewe bestem was, het gelowig geword. 49 Die woord van die Here het dwarsdeur die hele streek versprei.” (3)


Vergelyk ook Rom. 8:28-29 – “Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens Sy besluit geroep is. 29 Dié wat Hy lank tevore verkies het, het Hy ook bestem om gelykvormig te wees aan die beeld van sy Seun, sodat sy Seun baie broers (en susters) kan hê van wie Hy die Eerste is.”


Ons het reeds gesien hoe Paulus en Barnabas teenstand van die Jode kry. Toe hulle sien hoe die nie-Jode die volgende sabbat na die sinagoge in Antiogië in Pisidië stroom om na Paulus te luister, was hulle jaloers en het hom probeer belaglik maak (v. 45). Die ewige God wat die ewige lewe deur Jesus gee, het eerste vir Sy volk die kans gegee om gered te word, maar hulle wou nie die voorreg gebruik nie. Paulus het geweet dat alle mense nie tot bekering sou kom nie, maar wel “dié wat vir die ewige lewe bestem was.”


Ons kan “weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet.” Dit beteken egter nie dat God nou alle teëspoed van ons af weghou nie, maar dat Hy alles tot ons beswil gebruik. Die feit dat “ons weet”, veroorsaak dat elke stukkie lyding, swaarkry, onregverdigheid en bedreiging wat ons nou mismoedig maak, nooit ons permanent van stryk sal en kan bring nie, want dit is deel van God se groter plan met ons.


God se pad met ons gelowiges is ‘n triomftog, die versugtinge van ons moeilikhede, verander nou in ‘n toejuiging van triomf. Ek en jy kan juig soos die destydse heidene omdat “ons weet dat God alles ten goede laat meewerk.” En dit sluit alles van ons in. As God se uitverkorenes het Hy ons “bestem om gelykvormig te wees aan die beeld van sy Seun.” Hoe meer ons as Christene groei, hoe meer verander ons na die beeld van Christus: “Die heerlikheid wat ons uitstraal, neem steeds toe” (2 Kor. 3:18b), en al is dit nou nog onvolkome, “sal God ons nederige liggame verander om soos Christus se verheerlikte liggaam te wees” (Fil. 3:21)


Ons gelowiges is dus bestem om in die toekomstige heerlikheid, aan Jesus se beeld gelykvormig te wees. God is besig om vir Homself ‘n huisgesin te skep en Hy gebruik alle lewensomstandighede en -gebeure as instrumente in die proses. God wil dit vir alle mense skep, maar ons weet mos, almal wil dit nie hê nie. Dit geld dus nie van alle mense nie. Dit is net waar van diegene wat vir “God liefhet.” Waaruit bestaan hierdie liefde? “Die liefde vir God bestaan daarin dat ons Sy gebooie bewaar” (1 Joh. 5:3). God begin Sy reddingsproses by dié wat Hy lank tevore “verkies” het. Hy het dus ‘n plan met ons: “om gelykvormig te wees aan die beeld van Sy Seun”.


Tydens ons lewe op aarde word ons dan deur God “geroep” – dit is God se skeppende en lewendmakende spreke wat die wedergeboorte in ‘n sondaar bewerkstellig en hom so uit sy geestelike dood opwek tot die ewige lewe in Christus. “Iemand wat aan Christus behoort, is ‘n nuwe mens. Die oue is verby, die nuwe het gekom. Dit alles is die werk van God” (1 Kor. 17-18a). Hy lei ons úit die versoeking en verleiding uit. Sy Gees lei ons verder deur die lewende Woord in die Waarheid na die Weg van die Lewe! Gelowiges in Jesus Christus is die eerste deel van God se herskepping wat bedoel is vir die hemel. God is vrygewig, God is genadig, God voorsien net die beste – daarop kan ons staatmaak. Daarvoor kan ons bid. Die verskil is die tydelike of die ewige lewe!

“’n Mens belewe jou kindskap van God die Vader nie deur diep daaroor te sit en peins nie; maar eers wanneer jy soos Christus begin optree” (Ferdinand Deist).

Gebed: Dankie vir U goedheid Heer. Dankie dat U my uit genade herskep het en nuut gemaak het deur Jesus, ons Vleesgeworde Woord. Help my o Gees dat ek as nuutgemaakte wese, standvastig in die geloof sal bly en sal leef as medewerker in U koninkryk. Amen.

Yorumlar


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page