top of page

Gedagte vir Vandag

Donderdag, 18 Mei 2023

Koos Espach


Eerste sendingreis: Barnabas en Saulus word uitgestuur (19)

Paulus en Barnabas in Antiogië in Pisidië (4)


Die son kom oor almal op


Hand. 13:17b-20a – “God het die volk deur sy groot mag daarvandaan (uit Egipte) uitgelei 18 en hulle in die woestyn ongeveer veertig jaar lank geduldig verdra. 19 Daarna het Hy sewe nasies in die land Kanaän uitgewis en hulle land aan die Israeliete gegee. 20 Dit alles het omtrent vier honderd en vyftig jaar geduur.”


Vergelyk ook Titus 2:11 – “Die genade van God wat verlossing bring, het immers aan alle mense verskyn.”


Terwyl ek vanoggend gister se dagstuk weer deurlees, besef ek hoe groot God se genade werklik is om ou Saulus te verander na Paulus en hom boonop betroubaar geag het om in Sy diens te stel. Ek staan eintlik verwonderd oor God se groot genade. Eintlik is die grootheid daarvan eenvoudig vir my net te groot om heeltemal te verstaan. Hoe kan God vir ’n sondige ou soos ek sommer net so lief wees? Maar meer nog, hoe kan God die pak vat vir al die verkeerde dinge wat ek al aangevang het? En dan nog vir al daai dinge wat ek moes doen en eenvoudig net te lui was om te doen. Maar dan onthou ek vir Paulus.


En, soos die Gees werk, preek Ds. Pieter Sondagaand oor God se genade wat verlossing bring ... (Titus 2:11-15). Treffend! Dit is nou presies wie ons God is. ’n God wat Homself nie kan keer nie en nie vrae vra wanneer Hy Sy genade uitstort nie. Ons kan genade nie verdien nie en kan dit ook nie koop nie. Maar as ons aan God behoort, is Sy genade reeds ons s’n. Terloops, die woord “genade” kom honderd drie en sewentig keer in die Bybel voor. Keer op keer en nog ‘n keer, verseker God ons van Sy genade. En om seker te maak ek en jy onthou dit, beklemtoon God dit met die heel laaste vers in Sy woord: “Die genade van die Here Jesus sal met almal wees” (Op. 22:21).


Ons toer saam met my swaer en skoonsus in Namibië, slaan oral kamp op en beleef ‘n wonderlike andersheid. Dit is asof die sonsopkoms net soveel mooier en rooier is. Alles lyk soveel helderder. Alles lyk so skoon. Dis asof dit weer ’n nuwe begin aankondig. Asof gister toegeverf is en ons ’n splinternuwe kans kry om weer te probeer. En op ’n manier is dit presies hoe Jesus dit gedoen het. Sy dood aan die kruis het die son weer oor ons laat opkom. Daar waar ons in die donker rondgeploeter het, met geen vooruitsig na redding, het Jesus die lig aangeskakel. Ons kon die kolle in ons lewe raaksien, maar meer nog, ons kon die genade en vergifnis ook raaksien. God se liefdesson het oor ons almal opgekom en dié wat Hom aanvaar as hulle Verlosser, is deur Sy reddende genade oorstroom.


“Die genade van God wat verlossing bring, het immers aan alle mense verskyn.” Soos die son elke oggend opkom en vir geeneen wegkruip nie, skyn God se reddende genade en liefde oor elke liewe mens wat lewe. Maak nie saak watter nasie, taal, kleur, grootte, lengte, gewig, vermoë, status, ek en jy is of het nie, God se son kom oor ons op. God het Sy goedheid aan alle mense bekendgemaak. Almal het nou die kans om Sy verlossing te beleef. Dis die beste nuus ooit vir my as sondaar! Vir elkeen van ons. God se genade het nie grense nie. Dis nie net vir sy uitverkore volk nie, maar vir ons almal. Dit is ook nie beperk tot “goeie” mense nie, maar vir alle sondaars. Ons almal wat oor die grense van die lewe foeter.


Ek was in ’n stadium skaam omdat ek ’n Christen is. Ek het my Christenskap onder my mou gedra en nie eintlik die moed gehad om dit met ander te bespreek nie. Veral wanneer ek by die rowwe ouens gestaan het, was my mond tjoepstil. Ek was seker bang hulle lag vir my. En dan – if you can’t beat them, join them – dan word jy en praat jy soos hulle. Daar was nie altyd goeie tye nie en die rowwe tye was skurf. Maar, God se son het oor my geskyn. Dit het my hier binne getref dat God vir my, wat soms so rof en onbeskof deur die lewe geloop het, lief is, dat Hy Sy seun laat sterf het vir my. Ek glo dat God se son, God se vergifnis oor almal opkom. Ons moet dit net vir almal gaan vertel. Ja! Dit is die opdrag vir ons almal wat glo. Ons mag nie die boodskap net vir onsself hou nie. God se boodskap van genade is vir elke liewe mens, want die son kom oor almal op. Kom ons gaan leef dit vandag!


“God se genade is sedert Jesus Christus elke dag nuut. Elkeen wat in Hom glo, groei met Sy son, met Sy Gees” (Jörg Zink).


Gebed: Here, ek wil net oor geloofsdinge praat met “goeie” mense wat ek as veilig beskou. Maar U genade is vir almal – ook die wat ek kan sien so toe is onder die sonde. Help my om U lig met hulle te deel. Amen.





Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page