Gedagte vir Vandag
- ngfochvillenoord
- May 11, 2023
- 3 min read
Donderdag, 11 Mei 2023
Koos Espach
Eerste sendingreis: Barnabas en Saulus word uitgestuur (14)
Barnabas en Saulus preek op Siprus (12)
Verlossing vir almal
Hand. 13:12 – “Die goewerneur was diep onder die indruk van die leer van die Here, en toe hy sien wat gebeur het, het hy gelowig geword.”
Dat Paulus met die Heilige Gees vervul was (v. 9) tydens die konfrontasie met Elimas, wys na sy onderwerping vir sy taak aan die leiding en krag van die Heilige Gees. Net soos die Heilige Gees op Jesus neergedaal het met Sy doop vir die begin van Sy openbare bediening (Luk. 3:21-22). Die goewerneur het besef dat wat hy nou gehoor en gesien het, nie die woorde en mag van mense was nie, maar van God self. Hy was so verbaas dat hy oorweldig is oor die leer van die Here. Ons moet egter daarop let, dit was nie die wonderwerk wat hom oortuig het nie, maar die “leer van die Here.” Deur die werking van die Heilige Gees aanvaar hierdie Romeinse goewerneur die leer omtrent die Here Jesus, nie as ’n woord van mense nie, maar as die woord van God.
Wanneer God by die mens se voordeur opdaag, is Hy daar om waarde toe te voeg. Waarde van dooie paaie wat ’n mens nie hoef te loop nie. Hiervoor het Jesus met Sy lewe aan die kruis by Golgota betaal. Dis lewensreddende waarde wat aan die mens toegevoeg word. Hierdie opsie is aan alle mense beskikbaar. Enigeen kan die deur oopmaak en Jesus in hulle lewe inlaat, sonder voorbehoud, sonder keuring, sonder enige toelatingsvereistes. Johannes beaam dit met Jesus se uitnodiging na die bruilofsmaal van die Lam: “Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop. As iemand My stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek by hom (haar) ingaan en saam met hom (haar) die feesmaal hou, en hy (sy) saam met my” (Op. 3:20).
God kies almal, vir die vooraanstaandes, die wat alles het, maar ook vir die wat in die oë van die wêreld nie veel werd is nie. Laasgenoemde het egter baie waarde in God se oë, want dis hulle wat Hom maklik aanvaar en toelaat in hulle lewens. Eintlik logies, sou ons reken, want Jesus was immers ook swerwer-timmerman-hawelose en uiteindelik die gekruisigde! Laat dit vir ons ook ’n voorbeeld wees van hoe ons na ander moet kyk. Ons kan nie volgelinge wees van Jesus wat uitgestoot is, terwyl ons sélf mense uitstoot wat nie vir ons reg “lyk” nie. Die mense wat die wêreld dink onbelangrik is, is in God se oë belangrik. Hulle is die kinders van God en hulle is op die ou end die mense wat werklik ryk is.
Jesus gooi eintlik die uitnodigingsdeure wyd oop – elkeen wat Hom aanneem en in Hom glo, dié wat Hom liefhet, is almal erfgename. Hier maak dit nie saak hoe dik jou beursie is of hoeveel grade of hoeveel toekennings op jou rak staan nie. Enige iemand wat Jesus aanneem, is welkom, selfs ‘n heidense Romeinse goewerneur. Dankie tog, dis mense soos ons vir wie Hy sê: “Kom, julle weglopers en rondlopers, julle eenkantsitters en buitestanders, kom na My toe. Julle hoort hier by My, julle is My familie. Elkeen wat My aanneem en in My glo, het die reg om kinders van God te wees” (Joh. 1:12).
Jesus nooi elkeen uit om deel te word van Sy binnekring. Dit is daar waar Hy ons kan leer om goed te kyk en te luister na wat Hy doen en sê. Dit is daar waar ons “diep onder die indruk van die leer van die Here kom en sien wat gebeur.” Hy weet ons leer swaar en is dikwels teësinnig om ons ou gewoontes te laat staan. Daarom is Sy aandrang om Hom te volg, deurslaggewend. Ons moet naby Hom bly. Dit is die beste manier om God se wil te leer en “gelowig te bly.” Laat ons maak soos Jesus en teenoor almal dieselfde optree. Mag ons manier van leef, die heerlikheid van God se liefde uitbeeld en vir almal wat ons pad kruis, die nodigheid laat sien om Jesus ook in hulle lewens toe te laat. Hy is die Een wat nie vaskyk in wêreldse goeters nie, maar ons harte raaksien.
“Christus het geen ander arms as ons s’n om die verstrooides en verdwaaldes nader te trek en te omhels, almal wat afhanklik is, te vertroos en aan hulle die boodskap van redding mee te deel nie” (Franciskus van Assisi).
Gebed: Here, dankie dat U my ingedra het in U koninkryk. Help my om ander wat soos ek is – bewus van ons afhanklikheid, bedroef oor ons oortredings, moeg van wegkruip – te kan wys dat ons rus kan vind by U, daar waar almal dieselfde behandel word, waar almal wat in U glo en U lief het, burgerskap van ons Vader se koninkryk mag kry. In Jesus se Naam. Amen.
Recent Posts
See AllVrydag, 25 Maart 2025 Koos Espach Die wet en die sonde (2) Die wet ontmasker die sonde Rom. 7:9-12 – “Voorheen, toe die wet nie daar...
Donderdag, 24 April 2025 Koos Espach Die wet en die sonde (1) God voorsien in ons behoeftes Rom. 7:7-8 – “Wat is dan ons gevolgtrekking?...
Woensdag, 23 April 2025 Koos Espach Bevry van die wet en in diens van God, diensbaar aan Christus (3) Diens vir my en jou is nie...
Comments