top of page

Gedagte vir Vandag

Woensdag, 10 Mei 2023

Koos Espach


Eerste sendingreis: Barnabas en Saulus word uitgestuur (13)

Barnabas en Saulus preek op Siprus (11)


Moenie dat die vyand met jou kop smokkel nie


Hand. 13:9-12 – “Maar Saulus, dit is Paulus, vol van die Heilige Gees, het (Elimas) skerp aangekyk 10 en gesê: ‘Duiwelskind! Deurtrapte skelm en bedrieër! Vyand van alles wat reg is! Sal jy ophou om in die pad van die Here te staan! 11 Die Here gaan jou nou straf. Jy sal blind word en die son ‘n tyd lank nie sien nie.’ Onmiddellik het alles vir hom vaag en donker geword, en hy het rondgetas na iemand om hom aan die hand te lei. 12 Die goewerneur was diep onder die indruk van die leer van die Here, en toe hy sien wat gebeur het, het hy gelowig geword.”


Lukas stel ons vir die eerste keer aan Saulus se Latynse naam Paulus voor en noem hom verder in Handelinge op hierdie naam. Sy Latynse naam Paulus, beteken ‘klein/gering’ (vgl. 1 Kor 15:9 – “Ek is die geringste van die apostels…”). Na hierdie konfrontasie met Elimas neem Paulus ook die leiding tydens die sendingreise by Barnabas oor en gebruik Lukas konsekwent die naam Paulus omdat hy van daardie tydstip af in die Grieks-Romeinse wêreld opgetree het.


Die Heilige Gees het Paulus deur die hele konfrontasie gelei. Hy bestraf en ontmasker Elimas as ’n handlanger van die duiwel, kyk hom skerp aan en spreek ‘n harde oordeel oor hom en sy optrede uit. As vyand van alle geregtigheid, verdraai hy sonder ophou die reguit paaie van die Here en probeer hy nie net die goewerneur weglei van die woord van God nie, maar die werk van God op Siprus tot ‘n einde bring. Dit het nie alleen om die heil van Sergius Paulus gegaan nie, maar veral om die voortgang van die evangelie wat bedreig was.


Met Paulus se deurdringende kyk en woorde is hierdie towenaar ontmasker. Paulus illustreer dan op ‘n sigbare manier dat geen towenaar sterker is as die evangelie nie – “En op daardie oomblik het hy blind geword en hy het rondgesoek na iemand om hom aan die hand te lei.” Die gevolg van sy duistere teenstand teen die lig van die evangelie word deur blindheid geëggo. Die moontlikheid van herstel indien hy tot besinning kom, word oopgelaat, maar Lukas vertel nie wat later met Elimas gebeur het nie. (Laat my dink aan die straffende mag van die Here op Paulus toe hy voortgewoed het om dissipels van die Here in Damaskus se sinagoges met geweld te gaan arresteer {Hand. 9:8}).


Elimas slaag nie in sy doel nie. Inteendeel, meteens staan die persoon van die duiwel ook daar. Paulus skel hom uit as “duiwelskind! Deurtrapte skelm en bedrieër ...” Kan hy manalleen die uitbreiding van God se koninkryk stuit? Die duiwel gebruik Elimas om die kerk van die Here Jesus aan te val – net soos hy homself verskans het in die slang van die paradys om Adam en Eva, asook Judas om Jesus te verraai, gebruik het. Die vader van die leuen slaan toe met die oersonde van eiegeregtigheid wat hy self uitgedink het. Daarmee maak Satan Elimas ‘n direkte vyand van God.


So tragies is die gevolge van die sonde. Ons moenie onsself mislei nie: “God laat nie met Hom spot nie, Wat ‘n mens saai, sal hy ook oes. Wie op die akker van sy sondige natuur saai, sal van die sondige natuur dood en verderf oes. Maar wie op die akker van die Gees saai, sal van die Gees die ewige lewe oes” (Gal. 6:7-8). Dit is oorlog. Ons moet dit weet. Ons moet weet dat die magte van die donker, elke oomblik van die dag met alles in hulle, probeer om ons wat dagmense is, mense wat agter die ware Lig aanstap, te probeer afrokkel. “Ons wat van die dag is, moet nugter wees; ons moet geloof en liefde as borsharnas dra en die hoop op verlossing as helm” (1 Tess. 5:8). Dit is ‘n “wapen” wat die Heilige Gees ons gee, ’n vaste oortuiging hier binne-in ons dat ek en jy onderweg is na die Here se adres.


Baie mense sukkel vandag om op die regte geloofspad te bly. Dit is nie maklik om ‘n Christen te wees nie want dit beteken kruisdra soos Jesus. Dan kom die vrae: “Hoekom druk die lewe mens soms dat jou oë traan?” Want dis oorlog! Met alle mag word ons op alle fronte aangeval. Die duiwel en sy trawante het nie ’n lui haar op hulle koppe nie. Met alles in hulle sal hulle keer op keer probeer om my en jou met allerlei slinkse maniere, weg te rokkel van God af. Hulle is slim en weet waar ons swak plekke is. Meedoënloos sal hulle daardie plekke keer op keer teiken, ons teëstaan omdat hulle wil verhoed dat ons in Jesus glo, soos Elimas vir Barnabas en Saulus “teëgestaan het omdat hy wou verhoed dat die goewerneur in Jesus glo.”


Ek is so dankbaar dat God aan ons kant is. Maar hoe moet ons staande bly in die stryd tussen lig en donker? Ons is dagmense wat die Here se spesiale wapens moet aantrek. Om in hierdie oorlog staande te bly, moet ons eerstens glo. Ons moet vasstaan in ons geloof dat ons ’n God dien wat die grootste en sterkste is en dat Jesus klaar die vyand aan die kruis oorwin het! Satan se mag is gebreek! Ons dagmense is aan die wenkant, want ons Vader is die ware Heerser, die begin en die einde. Die Alfa en die Omega. Hoe lyk jou geloof; glo jy in Jesus se verlossing?


“Dit bly ‘n raaisel waarom mense so ‘n geweldige prys wil betaal om verlore te gaan, as Jesus se verlossing gratis is” (Anoniem).


Gebed: Vader, ek weet van die aanvalle en die bose wat probeer om op verskeie fronte met my kop te smokkel. Dankie dat U my lankal oortuig het dat geloof in die hart is, en nie in die kop nie. Ongelukkig is ons denke en denkvermoë te klein om alles van U Almag te begryp. Daarom staan ek bewapen in die geloof dat Jesus klaar die valse bose oorwin het. Dankie dat ek nooit hoef te twyfel dat Jesus ook my Verlosser is nie. Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page