top of page

Gedagte vir Vandag

Vrydag, 17 Maart 2023

Koos Espach


Jakobus word doodgemaak en Petrus gevange geneem (2)

Die gevangeneming van Petrus (1)


God se maar


Hand. 12:3-5 – “Toe Herodus sien dat dit by die Jode byval vind, het hy nog verder gegaan en ook vir Petrus gevange laat neem. Dit het tydens die fees van die ongesuurde brood gebeur. Nadat Herodus vir Petrus laat vang het, het hy hom in die tronk gesit en hom deur vier afdelings van vier soldate elk laat bewaak. Herodus wou hom ná die paasfees voor die volk bring. So is hy dan in die tronk bewaak, maar die gemeente het aanhoudend vir hom tot God gebid.”


Vir Herodus Agrippa 1 is die Jode se ingenomenheid met die moord van Jakobus die bewys dat hy hulle guns begin wen. Daarom gaan hy verder met die vervolging van die Christene en laat hy vir Petrus ook arresteer tydens die Paasfees waarmee die sewe dae Fees van die Ongesuurde Brood begin. Dit was die Fees wat die Jode aan hulle woestynreis herinner het. Aangesien Petrus die leier en woordvoerder van die Christene was, sou sy gevangeneming die Christene ’n gevoelige slag toedien. Die Fees is juis die tyd waarop groot skares Jode in Jerusalem bymekaarkom en elke gesin ’n lam slag ter herinnering aan hulle verlossing uit Egipte. Met dié tydsberekening wil Agrippa ’n groot slag slaan vir sy reputasie onder die Jode.


Petrus word voorlopig in die gevangenis gesit sodat sy saak ná die fees behandel kon word om langs hierdie weg die Jode se guns te wen. Om te verseker dat hy nie uit die tronk ontsnap nie, word hy bewaak deur vier afdelings, elk met vier soldate. Elke drie uur om die beurt, word hulle vervang met vier vars soldate. Petrus word vasgeketting aan ’n soldaat aan elke hand, en twee staan wag buite die deur. Sestien Romeinse soldate het dus die opdrag gekry om Petrus te bewaak. Wat ‘n hopelose situasie vir Petrus!


Op die oog af lyk dinge beroerd vir die Christene. Dit lyk of satan besig is om hierdie rondte te wen. Jakobus is met die swaard om die lewe gebring, talle Christene is gevang en gemartel, en toe word Petrus ook in die tronk gestop! God se wondermag sou egter juis hierdeur beklemtoon word, en dan kom die “maar” – “maar die gemeente het aanhoudend vir hom tot God gebid.” Die hele gemeente raak betrokke en bid dag en nag vir Petrus. En daardie soort biduur kan nie anders as om gevolge te hê nie, gevolge wat ons later sal sien.


Hoeveel keer het ons sake nie ook al so beroerd gelyk nie? Selfs hopeloos, soveel so dat ons begin twyfel in ons geloof! Hoeveel van ons kry dit regtig reg om te glo, sonder om soms te twyfel? Selfs Johannes Calvyn het ook daarop gewys dat “ware geloof dikwels ‘n tikkie twyfel bevat en aangeval word deur angs” (Calvyn Institudes). Dit is dan wanneer ek en jy God se “maar” moet onthou en nie moedeloos word, of twyfel – daar is ten minste ook vir ons op ons twyfeldae die troos dat die Here ons nie gaan veroordeel of verwerp nie (Jes. 41:10).


Ons egtheid van geloof word op vertroue gebou, vertroue op Jesus Christus. Dit is nodig dat ons Christene sal verstaan dat God se koninkryk verskil van aardse koninkryke. Aardse koninkryke kan jou ‘n belangrike posisie verseker as jy ‘n vriend of familie van die koning is of deel van die kaders is. En dan kan jy weet dat hierdie koninkryk jou sal beskerm, jou help, jou bevorder en bevoordeel – hulle noem dit nepotisme en kaderontplooiing. (Ons ken dit mos!). God se koninkryk werk nie soos ons Christene wil hê dit moet werk nie. Ons gelowiges beleef nie onder alle omstandighede sukses en voorspoed nie en nie almal is altyd wenners nie. Jesus waarsku ons van vervolging, van lyding, mislukkings, pyn, verwerping – alles dinge wat geloof in Christus, net nie laat sin maak nie.


Ongelukkig is daar vir ons gelowiges nie ‘n alternatief as ons Jesus wil volg nie. Met ons twyfel en al moet ons by Jesus se voete gaan sit en opreg glo, ons is by die regte adres. Daar by die voete van Jesus gaan dit nie oor ‘n groot bankrekening nie, ook nie oor populariteit nie, ook nie deel van die kaders nie. Dit gaan oor die koninkryk van God – dit is waar Gód regeer; waar daar reg en geregtigheid geskied. Dit is nie noodwendig waar mý behoeftes, mý verwagtinge en mý drome verwesenlik word nie. Dit is waar ek en jy herken word as Christene wat ons kruis met ons saamdra. En om ons daarmee te help, lei Jesus se Gees ons om te bid. En as ons bid, werk God, en as God werk, wie kan dit keer? Kom ons gebruik hierdie voorreg en gawe om te kan glo en te kan bid, ten volle.


“Christus soek nie halfpad-dissipels wat hulle voorneem om een aand per week, of ‘n naweek af en toe, of hulle aftreejare vir Hom gee nie. Hy soek dissipels wat Hom die eerste plek in hulle lewe gee” (William MacDonald).


Gebed: O Hoorder van gebede, daar is só baie dinge wat my van U af kan weglei, dinge wat my ook soms laat twyfel in my geloof, dinge wat verwarring saai. Help my deur U Gees wat in my woon om nooit van U pad af te wyk nie. Ek het U elke dag nodig. Gees van Waarheid, leer my in egtheid bid en lei my in U waarheid. Amen.

コメント


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page