Gedagte vir Vandag
Vrydag, 3 Maart 2023
Koos Espach
Die gemeente in Antiogië (11)
Die Christene van Antiogië stuur hulp aan hulle geloofsgenote in Jerusalem (2)
Geloof en barmhartigheid
Hand. 11:29-30 – “Die gelowiges het toe besluit dat elkeen na sy vermoë sou bydra tot ‘n hulpfonds wat vir hulle medegelowiges wat in Judea woon, gestuur sou word. Hulle het dit gedoen en die geld met Barnabas en Saulus aan die ouderlinge in Jerusalem gestuur.”
’n Hongersnood word voorspel deur die profeet Agabus onder leiding van die Heilige Gees. Die ryk Antiogië wat as voorraadskuur van die Ooste beskou is, het egter nie baie gehad om te vrees nie. Agabus se profesie laat die gelowiges van Antiogië voorkomend reageer deur ’n hulpfonds te stig vir hulle medegelowiges in Judea. Elkeen van die gemeente het na sy vermoë bygedra en Barnabas, saam met Saulus, word gestuur om hierdie hulpfonds se bydrae vir die kerk in Jerusalem te neem. Die Antiogië gemeente neem self verantwoordelikheid en lewer ’n kragtige bewys van hoe omgee werk – ‘n ervaring wat natuurlik God se sorg verseker: “Hy sal die arme red wat om hulp roep, die verdrukte en dié wat geen helper het nie; hy sal hom oor die swakke en die behoeftige ontferm, die lewens van die arm mense beskerm” (Ps. 72:12-13).
Die belangrikste kenmerk wat ons hier van Barnabas se bediening sowel as van die gemeente van Antiogië opmerk, is hulle omgee. Hoe behoort ons hierop te reageer, ons eie maak. En dit geld nie net vir ons gemeente wie se jaartema “Oorgee – Omgee – Uitgee” is nie. Dit behoort elke Christen se leefstyl te wees. Wat beteken omgee: Omgee vir ander is die vervulling van die tweede gebod van liefde, om jou naaste lief te hê soos jouself (Luk. 10:27). Jesus het immers Sy hele bediening as ’n bediening van omgee verstaan wat uit hulpbetoon aan behoeftiges en noodlydendes bestaan het. Die verhaal van die Barmhartige Samaritaan is die meesterverhaal wat wys dat omgee belangrik is (Luk. 10:30-37). Omgee is in wese ’n prentjie van wie God is as die Barmhartige (Ps. 145:8-9). En Jesus het dit duidelik ook van ons verwag: “Wees barmhartig soos julle Vader barmhartig is (Luk. 6:36).
Omgee vra dus van ons om ‘n geloof wat uitmond in dade van liefde vir ons naaste: “Wie immers aardse besittings het en sy broer of suster sien gebrek ly, maar geen gevoel vir hom het nie – hoe kan die liefde van God in hom wees?” (1 Joh. 3:17). Omgee is ’n lewenstyl van dienslewering, waar ander se belange vir jou net so swaar weeg as jou eie. Geloof wat nie uitmond in dade van liefde nie, is onvrugbaar en nutteloos sê Jakobus: “Wat help dit, my broers (en susters), as iemand beweer dat hy glo, maar sy dade bevestig dit nie? Kan so ‘n geloof ‘n mens red? Sê nou daar is ‘n broer of ‘n suster wat nie klere het nie en dag vir dag honger ly, en sê nou een van julle sou vir hulle sê: ‘Mag dit met julle goed gaan; gaan trek julle warm aan en eet genoeg,’ maar julle gee nie vir hulle wat hulle nodig het om van te lewe nie, wat help dit dan? So gaan dit ook met die geloof: as dit nie tot dade oorgaan nie, is dit sonder meer dood” (Jak. 2:14-17).
Volgens Jakobus is geloof iets wat mens doen. Hy verwys na die mensewêreld in sy konkrete alledaagse ellende. Hoe sal die persoon met geloof, maar sonder werke reageer wanneer hy van aangesig tot aangesig te staan kom voor medegelowiges wat opsigtelik gebrek ly aan die mees basiese behoeftes van die menslike bestaan, wat nie hulle lyf behoorlik kan bedek teen die koue nie en nooit genoeg kry om te eet nie? Watter opsies het so iemand as hy konsekwent wil hou by altwee dele van sy teoretiese standpunt: dat hy glo, maar dat hy nie nodig het om (goed) te dóén nie?
Christenskap moet gedemonstreer word deur dade van geloof! Leë woorde wat voorgee dat dit kan bereik wat alleen deur dade van barmhartigheid reggestel sou kon word, is ‘n “geloof” wat nie deur dade gerugsteun word nie. Dit bly steeds leë woorde wat niks beteken nie. Dade bewys nie net deernis nie, maar ook geloof. Dit help nie om vir iemand te sê: “mag dit met jou goed gaan; gaan trek jou warm aan en eet genoeg,” en dan te gaan bid: “Gee ons vandag ons dag se brood,” nie. Die probleem kan nie as opgelos beskou word nie! Daar is nog niks aan die behoeftige se probleem gedoen nie! Die mooi geloofswoorde verander niks aan sy behoeftes nie.
Stephan Joubert skryf dat geloof slegs lewe, as dit gedoen word. Mens se geloof wys wanneer jy vir ander mense omgee, ander in hulle nood bystaan. Dit is wanneer jy jou tyd, energie, geld en besittings aanwend om ander te help. Hy sê geloof is iets wat jy heeltyd weggee daar waar jy werk en leef. Dit is daar waar jy ander dien met die liefde van Christus. Christenskap wen wanneer ‘n tiener byvoorbeeld van haar sakgeld deel met ‘n klasmaat wie se pa sy werk verloor het; ‘n gemeente sy beursie oopmaak vir werkloses; ons wegkyk van onsself en ons eie probleme, en die nood van ander om ons raaksien en iets daaraan doen. Is jou geloof lewend? Is jy ‘n doener?
“Die eenvoudigste goeie daad is beter as die edelste goeie voorneme” (Marthe Barmenthlo).
Gebed: Here, skenk my die lewende geloof om in bereidheid met liefde te sorg en te dien. Dit is immers “al wat van belang is, geloof wat deur die liefde tot dade oorgaan” (Gal. 5:6). Amen.
Commenti