top of page

Gedagte vir Vandag

Woensdag, 15 Februarie 2023

Koos Espach


Die gemeente in Antiogië (5)

Barnabas en Saulus Preek in Antiogië (3)


Alles in ‘n naam


Hand. 11:26b – “In Antiogië is die gelowiges die eerste keer Christene genoem.” (2)


Vergelyk ook Kol.3:17 – “En wat julle ook al sê of doen, sê en doen dit alles in die Naam van die Here Jesus en dank God die Vader deur Hom.”


Elkeen van ons het name van ons ouers af ontvang. Sommige is trots op hulle name, ander minder trots. Die trotses huiwer nie om hulle voor te stel aan ander nie, terwyl die ander eintlik wens hulle kan hulle name verander. Ek weet van ‘n paar mense wat hulle name verander het. Wat egter belangrik is, ‘n goeie reputasie moet jou naam vergesel – dit bepaal hoe mense optree as hulle jou naam hoor. Toets byvoorbeeld jou reaksie met die aanhoor van die volgende name: Moeder Teresa; Osama Bin Laden; Audrey Hepburn; Elvis Presley; Jacob Zuma; Judas Iskariot; Adof Hitler – almal name van geëerde ikone of name van smart.


As gelowiges in Jesus Christus het ons ‘n naam aangeneem wat ons ten alle koste moet beskerm. Ek en jy moet die naam “Christen” met trots, eer en waardigheid dra! Hierdie naam is nie sommer enige naam wat aan ‘n klomp gelowiges 2 000 jaar gelede in Antiogië gegee is nie. Dit is ‘n naam wat aan ons gekoppel is die dag met ons doop. My en jou doopname is doopdag aan die drie-enige God vasgemaak! Van daardie dag af is dit asof Jesus ons dophou en ons maan om Sy Naam met eer te dra.


Paulus moedig ons aan om “alles in die Naam van die Here Jesus te sê en doen.” Dit herinner ons om elke dag van ons lewe die stempel van Jesus se Naam te dra. Ons moet niks doen of sê wat sy Naam skade aandoen nie. Ons behoort die soort woorde te sê en dade aangee wat sy Naam verheerlik. Ek en jy is as Christene, Christus se advertensie. Geweldig né!


Miskien is dit nodig dat ons die advertensie weer so bietjie afstof sodat ander beter kan sien en ook advertensies vir Christus wil word. Wanneer ons afgestof is, behoort ander Christus op ons gesig te sien – elke plooi wys vriendelikheid, liefde, vrede, geduld, goedhartigheid, nederigheid, selfbeheersing, alles vrugte van die Gees. Ons aksies stuur die boodskap van Christen-wees uit. Dit maak ons Christene, ‘n eensgesinde familie – “En mag God, die bron van alle standvastigheid en bemoediging, gee dat (ons) eensgesind onder mekaar sal wees soos Christus Jesus dit wil hê. Dan kan (ons) almal eensgesind uit een mond lof toebring aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus” (Rom. 15:5-6).


As ‘n eensgesinde ‘familie’ behoort buitestaanders te kan sien ons is afstammelinge van dieselfde Vader, ons is burgers van die hemel, onvolmaakte mense wat almal genade nodig het. Buitestaanders moet kan sien ons is afkomstig van dieselfde “God, die bron van alle standvastigheid en bemoediging.” Ons is familie afkomstig van dieselfde ‘stamboom’, wel nie soos in bloedfamilie nie, maar soos geestelike familie. Daar is verskille maar baie meer ooreenkomste, ons is “een in liefde, een van hart, een in strewe, ons kan almal eensgesind uit een mond lof toebring aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus.”


Vir ons Christene is daar ook ‘n belofte: “Sy Naam sal op ons voorkoppe wees” (Op. 22:4). As ‘n beloning vir ons strewe om “alles in die Naam van die Here Jesus te doen,” word die gelykvormigheid aan Jesus se beeld in ons sigbaar en sal Sy Naam op ons voorkoppe wees. Andrew Murray sê as die Naam van Christus op ons harte en voorkoppe gegraveer is, word ons deur die Gees van die Here na Sy beeld verander, van heerlikheid tot heerlikheid. Dankie Here, vir U genade, vir U Naam. Ek dra dit trots as Christen!


“Die Woord van God lewe in my as Christen. Dit praat met my in elke nuwe lewensituasie. Dit het hande, want dit gryp my vas. Dit het voete, want dit haal my in wanneer ek probeer wegkom van wat dit sê” (Martin Luther).


Gebed: Here, dit is só maklik om eensgesindheid te beskryf, te praat en te dink. Maar wanneer dit by die toepassing daarvan kom, is dit nie altyd so maklik nie. Maak my deel van ‘n kerkfamilie waar die ‘ek’ verander in ‘ons’. “Laat my nie my eie voordeel soek nie, maar dié van ander” (1 Kor. 10:24). Amen.

Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page