top of page

Gedagte vir Vandag

Maandag, 13 Februarie 2023

Koos Espach


Die gemeente in Antiogië (3)

Barnabas en Saulus Preek in Antiogië (1)


Eretitel


Hand. 11:25-26 – “ ... en Barnabas is na Tarsus toe om vir Saulus te gaan soek. Toe hy hom kry, het hy hom na Antiogië toe gebring, en hulle twee het ‘n hele jaar lank saam in die gemeente gewerk en baie mense onderrig. In Antiogië is die gelowiges die eerste keer Christene genoem.”


Nadat Barnabas vir ‘n ruk in Antiogië gewerk het, het die kerk uit sy nate begin groei. Die werk het groot moontlikhede ingehou, maar hy het nie kans gesien om alles alleen te doen nie en besluit om een van sy ou vriende te gaan haal om hom te help. Hy vertrek na Tarsus en spoor Saulus op waar hy hom oorreed om sy kollega in Antiogië te word. Hy was geskool in die Joodse en Griekse geleerdheid en daarom die regte man vir ’n wêreldstad soos Antiogië. Hiermee word Barnabas dan ook die man wat Saulus inlei tot sy lewenswerk, die wêreldsending om die evangelie aan die heidene te verkondig – die vervulling van Handelinge 1:8: “Getuie wees ... tot in die uithoeke van die wêreld.”


Daar het ongeveer 10 jaar tussen Saulus se eerste besoek aan Jerusalem, na sy bekering (Hand. 9:26), en sy koms na Antiogië verloop. Vir ’n hele jaar was hulle saam met die gemeente in Antiogië en het ’n aansienlike skare onderrig. Dit is ’n aanduiding van ’n groot groeiende gemeente wat deeglik onderrig word in die geskiedenis, prediking en lewe van Jesus.


Die getal van die gelowiges het al meer geword en het as groep meer prominent op die voorgrond getree, met die gevolg dat daar ’n naam vir hulle ontstaan het. Hier in Antiogië het die Romeinse- en Griekse heidene die volgelinge van Jesus Christus vir die eerste keer, afkeurend, Christene (Christianoi in Latyn) genoem om hulle as ’n afsonderlike groep, van die Jode te onderskei. Die gelowiges het egter die naam aanvaar met ’n nuwe voller betekenis – volgelinge van God se Gesalfde, Jesus die Christus!


Op ‘n vraag van ‘n Moslem aan een van sy kollegas of hy ‘n Christen is, het die kollega nee geantwoord, hy is ‘n volgeling van die lewende Jesus. Vir die Moslem beteken die naam “Christen” die sedelose dronklappe en skelms wat hulle in die Amerikaanse films en TV ken. Ai, hoe ver is daar nie afgedwaal van die oorspronklike betekenis van hierdie erenaam nie, ‘n eretitel wat elke Christen eintlik met trots en eer kan dra.


Philip Yancey, bekende Amerikaanse skrywer van Christelike boeke, vertel van ‘n debatspunt by ‘n konferensie oor verskillende godsdienste wat handel oor die uniekheid van godsdiens. Met ‘n vraag of daar iets is wat die Christelike godsdiens uniek maak tussen ander gelowe, het hulle gewonder of dit Christus se menswording was (Joh. 1:14). Nee, ander gelowe het ook verskillende weergawes van gode wat in menslike vorm verskyn het. Prof. CS Lewis was in die gehoor en vra of die Christene teenwoordig by die konferensie, dan vergeet het dat genade die Christelike geloof skei van alle ander gelowe!


As iemand ooit vir my en jou vra wat is die kern van die Christendom, kan ons maar net hierdie vers vir die persoon lees: “Christus Jesus, wat vir ons ons saak met God regmaak, het aarde toe gekom en nou kan ons almal duidelik sien hoe goed God vir ons is. Christus Jesus het die dood wat so ’n houvas op ons almal gehad het, se mag kom breek. Hy het die pad na die ware lewe vir ons oopgemaak sodat ons geestelik vir ewig kan lewe. Dit is die goeie nuus wat Jesus vir ons gebring het” (2 Tim. 1:12 – Die Boodskap.)


Dit is al, maar ook alles waaroor die evangelie gaan. Ja, dit is net die Christendom wat dit waag om God se verstommende en onvoorwaardelike genade wat ons glad nie verdien nie, of kan koop nie, of selfs kan steel nie, kan erken en aanvaar. Daarenteen wil ander gelowe almal iets dóén om by God uit te kom. Ek vermoed dis normaal om soms by ’n kruispad te wonder oor God se bestaan. Dis menslik, ons gedagtes is soms te kort om by God uit te kom. Ons gedagtes en denke word deur die wêreld se dinge kortgeknip. Die antwoord om hierdie twyfel hok te slaan, is om God se Woord nader te trek.


Twyfel kom maak so maklik woning in ons lewe, omdat ons so min kennis van God se Woord het en die duiwel weet dit. Daarom dat hy ons kort-kort kom pla met vrae wat die twyfel laat opspring. Kom ons maak ’n punt daarvan om elke dag ons kos uit God se Woord te kry. God het in Christus alles gedoen wat vir ons redding nodig is. Dit staan in sy Woord en dit laat ons twyfel by die deur uitvlieg. Wat maak my en jou anders as dié wat nie in Jesus glo nie? Dink daaroor na.


“Alle ander godsdienste draai om wat die mens nog moet doen om vryspraak te kry en by God uit te kom, terwyl God reeds in Christus na ons toe gekom het” (Malcolm Smith).


Gebed: Here Jesus, ek weet dat U Naam op die spel is elke keer as ek iets sê of doen. Help my om U in alles te eer en as Christen U Naam te verheerlik. Amen.

Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page