top of page

Gedagte vir Vandag

Donderdag, 9 Februarie 2023

Koos Espach


Die gemeente in Antiogië (1)

Die ontstaan van die gemeente in Antiogië (1)


Die Here is die enigste weg na ewige rus


Hand. 11:19-21 – “Deur die vervolging wat na Stefanus se dood ontstaan het, is die gelowiges uitmekaar gejaag. Party van hulle het na Fenisië, Siprus en Antiogië toe gegaan, maar hulle het die woord aan niemand anders as net Jode verkondig nie. Onder die vlugtelinge was daar sekere mense wat van Siprus en Sirene afkomstig was en wat in Antiogië gekom en daar ook aan die Griekssprekendes die evangelie dat Jesus die Here is, verkondig het. Die Here het die gelowiges gehelp, sodat daar baie mense tot geloof gekom en hulle tot die Here bekeer het.”


Lukas tel die draad van die verhaal in Handelinge 8:1 weer hier op. Die gelowiges in Jesus, wat uit Jerusalem moes vlug nadat Stefanus gestenig is, het die evangelie na Samaria, Sesarea, Lidda, en selfs Damaskus, gebring. Die verstrooide gelowiges het verder noord as Judea en Samaria gegaan, tot so ver as Fenisië, Siprus en Antiogië. Fenisië is op die kusvlakte van noordelike Palestina en die hoofstede in die streek is Tirus en Sidon. Siprus is die groot eiland in die Middellandse See, suid van Klein-Asië (die huidige Turkye). Antiogië met ’n halfmiljoen inwoners, die hoofstad van Sirië, wat onderskei moet word van Antiogië in Pisidië, is die derde grootste stad van die Romeinse ryk naas Rome en Alexandrië in Egipte. Later speel dit ’n belangrike rol as ontstaansplek van die sending na die heidenwêreld.


Die hand van die Here word sigbaar in die gelowiges uit Siprus en Sirene se handelinge. Hulle verkondiging “dat Jesus die Here is,” laat ’n groot aantal van die heidense Griekssprekendes in Antiogië gelowig word. Sonder enige geweld vestig God stelselmatig Sy koninkryk in al die stede wat genoem word op ‘n manier, wat die Romeine nooit sou verwag nie! Met Sy hand oor Sy getuies het die Here die groot getal Grieke tot geloof in Jesus as hulle Here gelei. So het hulle lewenswyse omgedraai en het elkeen hulle aan Jesus oorgegee om hulle te lei en hulle lewens met Sy liefde te beheer. So het Hy hulle gelei om Sy uitnodiging te aanvaar wat Hy, tydens Sy aardse omswerwinge, aan almal gerig het: “Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee. Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus kry vir julle gemoed. My juk is sag en my las is lig” (Matt. 11:28-30).


Jesus nooi elkeen uit om rus by Hom te kom vind. Jesus wat die volmaakte rus aanbied, gebruik die uitnodigingswoorde om na Hom te kom – weg te kom van die frustrasie en chaos van die wêreld en rus kom vind in Hom. Hy nooi my en jou uit om ons vertroue in Iemand buite onsself, Iemand wie ek en jy kan vertrou, Iemand wat die boodskap van Waarheid is, na te gaan. Jesus roep ons om ons selfsugtige begeertes af te sweer; Sy wil na te kom; die juk van die wêreld te los en “Sy juk op te neem en van Hom te leer.” Jesus se juk leer vir ons hoe om van ons laste ontslae te raak, die dinge wat skaaf en skuur, laste wat ondraaglik raak. Dit sluit onder andere die sondelas in; die las van hopeloosheid en hooploosheid; die las van skuldgevoel. En bowenal, die las van skeiding van God!


Jesus nooi vir my en jou uit om ons seerkry-gebeure en laste van terneergedruktheid, stres, depressie, dood van ‘n geliefde, verandering in ons finansiële toestand, ag, sommer enigiets wat ons “uitput en oorlaai”, op papier te plaas, en ‘n tydjie in te ruim om met Hom daaroor te praat. Los dan die lys met die swaardrukkende-juk net daar by Hom. Jesus belowe ons as ons dit doen, “sal Hy vir ons rus gee.” Hierdie belofte was ‘n waarborg wat Jesus met Sy lewe nagekom het. Met Sy dood het Hy sy kruis onder ons laste ingeskuif en álles, op Homself geneem. Hy het met Sy kruis-uitveër, ál ons seerkry en foute reggemaak.


Die Here weet van ons vrese. Ons het Hom mos al baie daarvan vertel en om uitkoms gesmeek. Dit help egter niks om ons probleme na Hom te bring, en dit dadelik weer terug te neem nie. Vertrou die Here en laat Hom toe om ons denke te vernuwe (Rom. 12:2), en ek en jy sal ervaar hoe Sy vrede in my en jou, ons rus gee, oplossings gee, koers, moed en krag gee. Dis immers Hy wat die wêreld laat draai, nie ons nie. “Dis Hy wat ons gehelp het om tot geloof te kom en tot die Here te bekeer.”


Geloof en vertroue in Christus, verlos ons van die worstelstryd onder die sondejuk van satan, en plaas ons oor in ‘n ander kategorie, die kategorie by Jesus wat “sagmoedig en nederig van hart is. Dáár sal ons rus kry vir ons gemoed, want Hy belowe ons: Sy juk is sag en Sy las is lig.” Jesus nooi ons uit om rus te kom ervaar wat net Hy kan bied. Hy nooi ons uit om onvoorwaardelik te kom en rus midde-in ons daaglikse lewe, te aanvaar. Die rus wat Jesus bied is nie van gunstige omstandighede afhanklik nie, dis ‘n permanente rus, ‘n rus van kalmte en innerlike vrede. Ons moet net Sy uitnodiging onvoorwaardelik aanvaar!


“God het ons vir Homself gemaak en ons gehelp om tot geloof te kom in Hom wat ons pas vertraag. Ons harte sal egter onrustig bly totdat dit rus vind in Hom” (Augustinus van Hippo).


Gebed: Here, U het gesê ek moet na U toe kom wanneer ek uitgeput en oorlaai is en U sal my rus gee. Wel Here, hier is ek, ek is inderdaad uitgeput en fisiek doodmoeg. My stresvlakke is hemelhoog, my bekommernis oor my familie, my land, die ekonomie, ag, sommer alles is in ‘n warboel. Vertraag asseblief my pas Here en dankie vir die rus en vrede wat ek by U kan vind soos nêrens anders nie. U Naam ter eer. Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page