top of page

Gedagte vir Vandag

Woensdag, 8 Februarie 2023

Koos Espach


Die begin van die heiden-sending (25)

Petrus verantwoord hom voor die gemeente in Jerusalem (2)


Volg waar God lei


Hand. 11:4-5a en 17-18 – “Petrus het toe vir hulle alles mooi uiteengesit: 5 ‘Ek was in Joppe besig om te bid toe ek in geesvervoering ‘n gesig gesien het ... (Lees asb. self verder vanaf vers 6 tot 16). 17 Hulle het net soos ons in die Here Jesus Christus geglo, en God het aan hulle ook dieselfde gawe as aan ons gegee. Wie was ek dan om God te probeer verhinder?’ 18 Toe die gelowiges dit hoor, was hulle tevrede. Hulle het God geprys en gesê: ‘God het selfs mense wat nie Jode is nie, tot inkeer gebring om aan hulle die lewe te gee.”


Met Petrus se terugkeer na Jerusalem, loop hy hom vas teen ‘n baie beswaarde klomp Joodse gelowiges wat hulle daarvoor beywer het om die Joodse wette streng na te volg. Vir hulle was dit ondenkbaar dat ‘n “rein-Jood” by ‘n “onrein nie-Jood” aan huis was en ook kos geëet het wat nie aan die Israelitiese reinheidsvoorskrifte voldoen het nie. En Petrus beland op die rooi tapyt! Maar wat hierdie beswaarde Joodjies nog nie geweet het nie, is dat God hier aan die werk was. Petrus het begin om aan hulle stap vir stap te verduidelik wat gebeur het, soos die Here hom stap vir stap oortuig het om op te tree en te volg waar Hy hom heen lei!


Petrus is nie eintlik besig om homself te verdedig nie, maar met vreugde te getuig van wat die Here alles gedoen het, en hom daarvoor gebruik het. Lukas stel vir Petrus self aan die woord om ’n verhaal te herhaal waarmee die lesers reeds bekend is. Hy doen dit omdat hierdie gebeurtenis só belangrik in die geskiedenis van die kerk was. Jesus se Pinksterbelofte van Hand. 1:5 dat hulle met die Heilige gees gedoop sal word, is vir die heidene in Sesarea net so vervul soos op die Joodse Pinksterdag in Jerusalem. En daarom is hulle volwaardige lede van die kerk van Christus.


As God dan aan die nuwe Christene dieselfde gawe van die Gees gee as aan die Jode wat in die Here Jesus as hulle Messias glo, wie was Petrus dan dat hy God kon verhinder of belet – om die evangelie aan die heidene te laat verkondig en hulle in die Naam van die Here Jesus Christus deur die doop by die kerk van die Here Jesus in te lyf? Toe die gemeente te Jerusalem hierdie dinge hoor, was hulle tevrede en het hulle alles wat gebeur het, as die uitvloeisel van God se wil gesien. Hulle het God selfs daarvoor begin verheerlik en in verwondering oor God se verlossingsplan vir die wêreld, gesê: “God het selfs mense wat nie Jode is nie, tot inkeer gebring om aan hulle die lewe te gee.”


Wat beteken Petrus se verduideliking vandag vir ons? Elke gelowige in Jesus Christus, is nou ook mense wie se lewenswyse deur God se genadegawe omgedraai is na Christus toe, na Hom wat die weg na God toe is, en die waarheid oor onsself en oor God, en na die ware lewe soos God dit bedoel het (Joh. 14:6). Die groot visioen van iets wat op die aarde neerdaal soos ’n groot linnedoek met rein en onrein diere in en weer in die hemel opgeneem word, is duidelik ’n teken wat God gee dat Hy Jode en nie-Jode uit die hemel saamvoeg in Sy kerk op aarde, om saam in die hemel opgeneem te word om ewig by Hom te bly. Wat God deur die liefdesoffer van sy Seun aan die kruis rein gemaak het, mag ons nie as onrein beskou nie!


Hierdie verhaal leer ook ‘n belangrike les vir my en jou. Dit gaan nie oor ons nie. God se prentjie is baie groter as wat ons kan sien. Daarom moet ons gewillig wees dat die Here nuwe paaie met ons loop. Die Gees waai waar Hy wil. Ek en jy moet net sorg dat ons ons seile na Sy wind span, anders staan ons net in Sy pad. Die wind van die Gees het alle menslike vooroordele uit die pad gewaai. Die nuus van hierdie verhaal, vandag nog, is direk uit die hemel: God trek nie meer die Jode voor nie. Godsdienstige eksklusiwiteit is vir altyd iets van die verlede. Die goeie nuus oor Jesus is vir mense uit elke taal, volk en nasie bedoel. Niemand mag in die pad van hierdie fantastiese boodskap staan nie!


Ons moet daarom ingestem bly in God se plan met ons. Ons moet raaksien wat die kragtige werking is van die Heilige Gees. Dit moet ons lewe en die lewe van diegene om ons heen laat nuut word en opbloei. Want ‘n lewe vervul met die Gees plaas ons nie net op ‘n ander vlak van bestaan nie; nee, dit vat ons terug na die gewone lewe van huwelik en gesin, van kollegas en medemense, van winkels toe gaan en kerk toe gaan – en dit maak daardie gewone lewe ongewoon mooi! Jesus Christus word die nuwe versamelpunt van die ware aanbidding van die Vader. Hy is die nuwe tempel, Hy is die kerklike sentrum van die Nuwe Testament. Die Gees bring alle ware gelowiges by Hóm bymekaar. Wie Jesus ken, ken God; wie in verhouding met Jesus is, is in verhouding met God! “God wil almal tot inkeer bring om aan hulle die lewe te gee.”


“As ons nie verander nie, kan ons nie groei nie. As ons nie groei nie, lewe ons nie werklik nie” (Gale Sheeby).


Gebed: Gees van God hier binne my, ek kan nie maar net ’n lewe leef waar ek doen wat ek wil nie. Ek weet ek moet my bes probeer om binne God se wil vir my lewe te leef. Ek weet wat reg en verkeerd is. Daardie stemmetjie hier binne sê dit hard en duidelik vir my. Dis ek wat my baie keer doof hou vir U rigtinggewing. Hou my asseblief op koers deur U werking. Amen.

Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page