Gedagte vir Vandag
- ngfochvillenoord
- Jan 15, 2021
- 5 min read
15 Januarie 2021
Koos Espach

JESUS ONDERWEG NA SY LYDING, DOOD EN OPSTANDING (31)
(Matt. 16:21–25:46)
Jesus se vierde toespraak; Verhoudings tussen gelowiges.
(Matt. 18:1-35)
Die plig om te vergewe (3)
Vergifnis het die regte Uitveër nodig!
Matt. 18:28-30 – “Toe daardie man buite kom, het hy een van sy medeamptenare raakgeloop wat hom net ‘n paar rand geskuld het. Hy het hom gegryp en gewurg, en gesê: ‘Betaal wat jy skuld!’ Sy medeamptenaar het voor hom neergeval en hom gesmeek: ‘Gee my tog uitstel, ek sal jou betaal.’ Maar hy wou nie en hy is daar weg om hom in die tronk te laat gooi totdat hy die skuld betaal het.”
Buite ontmoet die amptenaar 'n medeamptenaar wat hom ’n arbeider se loon vir 100 dae skuld, (as ons dieselfde berekening as gister gebruik), dus nie sommer niks nie. Maar as ons dink dat sy eie skuld miljarde rande meer was, is dit duidelik dat hier geen sprake van vergelyking kan wees nie. ‘n Bedraggie wat werklik as niks gereken kan word nie in vergelyking met die skuld wat hom kwytgeskeld is. Die amptenaar se optrede staan in ’n byna ongelooflike kontras met dié van die koning en vorm ’n presiese spieëlbeeld van die gelykenis se eerste deel.
Dan doen hy ‘n daad van onmenslikheid. Hy, die een wat die vergifnis tot “sewentig maal sewe keer” ondervind het, gaan voort om die lewensreël van ‘n oog vir ‘n oog, van sy ou lewe, op sy naaste toe te pas. Van toegeeflikheid is daar geen sprake nie en van vergewensgesindheid nog minder. Sy kollega smeek hom om uitstel met presies dieselfde woorde as wat hy gebruik het, maar tevergeefs. Sy ore is doof vir die smeking om genade en die hart is ongevoelig vir die nood van 'n ander. Die verhouding met sy medeamptenaar is duidelik nie vir hom so belangrik as wat dit vir die koning was nie. By implikasie is die verhouding met die koning self vir hom seker ook nie so belangrik nie. Hy deel die straf uit wat hy in die eerste plek moes ontvang het, en laat die man in die tronk gooi.
In die lig van wat met homself gebeur het, is sy ongevoeligheid teenoor 'n kollega onbegryplik. Eintlik word dit nou duidelik dat hy nie werklik deel van die hegte eenheid was nie. Is dit nie maar ook baie van ons mense van vandag se storie nie? Is daar nie soms mense ook soos die amptenaar in hierdie storie van Jesus nie? Hy het nie verstaan wat hy so pas van die koning ontvang het nie. Hy het gevra vir uitstel van sy skuld en die koning het in sy genade baie meer gegee as wat hy gevra het. Hy kon daar uitstap as ‘n vrygespreekte van ál sy skuld en sy vryheid gaan geniet. Hy kon die wêreld vertel van die genadige koning. (Hy het egter nie eers die huis gehaal om sy gesin te vertel nie want sy optrede teenoor ‘n medeamptenaar het hom in die tronk laat beland.)
Die Here is onwrikbaar oor vergifnis. As Hy ons nie vergewe het nie, was daar geen Christene op aarde gewees nie. Sondag na Sondag hoor ons hoe God vergewe uit genade. Ons lees daarvan in Christelike literatuur, bely dit in ons belydenis en liedere, en bid daaroor. Dit is die kern van ons Christelike geloof, GENADE, één woord vir alles wat God vir ons in Christus vir ons gee, die ewige lewe – “Die loon wat die sonde gee is die dood; die genadegawe wat God gee, is die ewige lewe in Christus Jesus ons Here” (Rom. 6:23). Ons is genademense omdat ons God ‘n God van genade is. Maar beleef ons dit?
Baie gelowiges verstaan, of aanvaar, nie die onverdienstelike, onvoorwaardelike genade en vergifnis van God nie, daarom leef hulle ook nie met onvoorwaardelike liefde en vergifnis vir ánder nie. God se onverdiende geskenk, die vryskelding van skuld, het nog nie werklik wortelgeskiet in baie se lewe en emosies nie. As ons nie kan besef en kan aanvaar dat ons vergewe is nie, kan ons nie hierdie onvoorwaardelike liefde en genade en vergifnis verder aangee nie. En die gevolg hiervan is verbrokkelde verhoudinge en emosionele krisisse binne in ons. Omdat God dit vir ons gedoen het moet ons ook dit aan ander doen, anders is ons skurke soos hierdie amptenaar. Om te vergewe is nie maklik nie, dis ‘n proses. Ons moet nie vergewe en probeer vergeet nie, maar vergewe en onthou dat óns mos vergewe is!
En dis tog so eenvoudig. Ons moet aanvaar dat God ons vergewe het. Sy genadegawe is ‘n hemelse geskenk en daarom kan ons dit diep in ons harte beleef dat ons vry is van ál ons skuld en dat ons niks hoef terug te betaal nie – “Almal (gelowiges in Jesus Christus) word, sonder dat hulle dit verdien, op grond van Sy genade vrygespreek vanweë die verlossing deur Jesus Christus” (Rom. 3:23b). God se vergifnis beteken dat Hy ons verlede met al sy foute, mislukkings en sondes, opgeskeur en weggegooi het. Dis betaal en gestempel – “Paid in Full!”
Vergifnis is nie ‘n vaardigheid of ‘n oorerflike eienskap nie, vergifnis is ‘n keuse! Jesus het afgekyk op mense wat Hom meedoënloos en spottend aan ‘n kruis vasgespyker het en tog, in Sy sterwensuur, met Sy laaste bietjie krag, vir hulle gebid: “Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie!” (Luk. 23:34). Hoe kan ons dan weier om mense wat teenoor ons oortree, te vergewe?
Die vergifnis van God stel die mens onder die verpligting om teenoor sy medemens met vergifnis op te tree. ‘n Ontvanger van barmhartigheid word verplig tot barmhartigheid. Wie hierdie verpligting nie as 'n wet van ons Koning begryp en onvoorwaardelik en onophoudelik gehoorsaam nie, stel hom daarmee onder die oordeel van die hemelse Regter. Om hierdie goddelike waarheid onuitwisbaar op die gemoed in te prent, verklaar Jesus: “Maar as julle ander mense nie vergewe nie, sal julle Vader julle ook nie julle oortredinge vergewe nie" (Matt. 6:15).
“Wie self Christus gevind het, moet vir sy medemens 'n Christus word” (Martin Luther).
Gebed: Hemel Vader, dit is ‘n onbeskryflike wonder dat U genadige liefde uitgestort word aan my wat niks besit nie behalwe die sonde. Ek is so geneig om anders te dink oor vergifnis. Ek dink eerder hoe om ‘n ander in eie munt terug te betaal wat ‘n onreg oor my gepleeg het, as om te onthou dat ek vergewe is. Dankie dat U die onvergeeflike in my ook vergewe het, dit toegeplak het en weggegooi het, vir ewig. Dankie dat U in genade my “jammer gekry het, laat gaan het en my skuld afgeskryf het.” Maak my daarom bereid om onverskoonbare dinge van ander te vergeef. Help my Here, om te vergewe omdat ek vergewe is. Amen.
Comentários