Gedagte vir Vandag
Woensdag, 18 Januarie 2023
Koos Espach
Petrus en Kornelius (6)
Petrus se visioen (4)
Dink voor jy praat
Hand. 10:13-16 – “Petrus hoor toe ‘n stem vir hom sê: ‘Kom, Petrus, slag en eet.’ Maar Petrus sê: ‘Nooit nie, Here! Ek het nog nooit iets geëet wat onheilig of onrein is nie.’ Hy hoor die stem toe weer, die tweede keer, vir hom sê: ‘Wat God rein verklaar het, mag jy nie onrein ag nie.’ Dit het drie keer gebeur, en daarna is die doek weer in die hemel opgetrek.”
Dit blyk dat Petrus nie maklik van sy ou tradisies en vooroordele ontslae gaan raak nie. Tydens sy gebed ervaar hy hierdie visioen dat die Here hom beveel om onrein diere te slag en te eet, en dit verwar hom. Hy is op Pinksterdag met die Heilige Gees vervul; hy het onverskrokke voor die Joodse Raad getuig; hy het Tabita uit die dood teruggebid. Alles nuwe dinge, tog klou hy steeds vas aan sy ou Joodse opvattings dat jy nie met iets wat onrein is, meng nie, dit kan jou met onreinheid aansteek. Die Here het egter ander planne vir Petrus gehad.
Jesus het op ‘n keer verduidelik dat niks wat in die mond ingaan ’n mens onrein maak nie, maar wel wat by die mond uitkom – dat dit uit ’n bose en onbarmhartige hart is (Mark. 7:14-23). Reinheid is iets aan die binnekant van ’n mens, nie iets aan die buitekant nie. Daar is nou nie meer vir die swaarmoedige godsdiens van selfgeskepte moets en moenies van die destydse Fariseërs plek nie. Dit help nie om aan die een kant die koms van Jesus te vier, terwyl mens nog vaskleef aan die ou godsdienstiges tradisies nie.
Die mens is “baie goed geskep” (Gen. 1:17), wonderlik, slim en feitlik in staat om enigiets te kan beheer maar “ons struikel almal in baie opsigte” (Jak. 3:2). Die gevaarlikste slaggat en dilemma wat meeste mense het, is om te “struikel in wat hy sê” (Jak. 3:2b). Die struikeling van dit wat ons sê, kan maklik weg geredeneer word as ‘n “menslike swakheid. Dit is tog nie só erg nie, dit gebeur met almal!” Inteendeel, dit is véél erger, want God het ons nie só geskep nie. God maak nie foute nie. Hy het ons geskep as Sy verteenwoordiger, Sy beeld. Ons is geheilig vir Sy diens en diens aan ons naaste. Ons is nie beter as ander nie, en tog verrinneweer dit wat by ons mond uitkom, dikwels nie net ons eie lewe nie, maar ook ander mense s’n.
Die manier hoe ons mense druk kan hanteer, is ook ’n toets. Dis in tye van druk wanneer ons terugval na ons vurige geaardheid en doen soos ons geprogrammeer is. Dan dink ons nie wat ons moet doen of sê nie. Dan word daar nie doekies omgedraai nie en word ons “keel soos ‘n oop graf, en kom woorde oor (ons) lippe so giftig soos slange, (ons) mond is vol vervloeking en bitterheid” (Rom. 3:13-14). Dit is wanneer ons ekstra versigtig moet wees wat uit die mond oor die lippe kom, want dit wys die prentjie hoe ons hart lyk.
Kahlil Gibran het gesê: “Woorde is tydloos en jy moet hulle uitspreek met die volle wete dat, eenmaal gebruik, hulle nooit weer vergaan of verdwyn nie.” Woorde kan gevaarlik wees, as dit eers by jou mond uit is, kan jy hulle nie weer herroep nie. Woorde is kosbaar, veral God se woorde wat uit sy Woord straal – woorde van Sy liefdesversekering, woorde van die wonder van Sy Evangelie, woorde van verduideliking om as sondaarmense by ons Heilige Vader te kan uitkom.
Kom ons gebruik die woorde wat by die mond uitkom, eerder as voorbidding vir mekaar. Kom ons wend ‘n daadwerklike poging aan dat ons mondsondes nie die lewenseenheid versteur en die karakter van die Christelike lewe aantas nie. Kom ons gebruik ons woorde wat by die mond uitkom, as beitels om die koninkryk van God mooi uit te bou. Kom ons spreek tot mense en oor mense, soos wat God dit graag sou wou hoor! Buitendien, “waar die hart van vol is, loop die mond van oor” (Matt. 12:34). Deur die woord wat ons spreek, maak ek en jy onsself aan ander bekend. Dit is tog onaanvaarbaar dat dieselfde mond terselfdertyd God kan loof en elkeen wat Hy na Sy beeld geskep het, kan verkleineer.
“Ons woorde is wapens of medisyne. Óf ons skiet ander se lewe met ons skerp, gevaarlike woorde aan flarde, óf ons verbind hulle wonde en seerkry met sagte, genesende woorde” (Stephan Joubert).
Gebed: Hemel Vader, ek plaas vandag my mond in U hande. Verander my woorde in goeie medisyne vir elkeen binne hoorafstand daarvan. Gee dat my woorde vir ander meer sal leer van U liefde vir hulle. Amen.
Comments