top of page

Gedagte vir Vandag

Saulus preek in Damaskus (1)


Glo in Jesus Christus en leef


Hand. 9:19b-21 – “Saulus het ‘n paar dae daar by die gelowiges in Damaskus gebly en dadelik in die sinagoges begin verkondig dat Jesus die Seun van God is. Almal wat dit gehoor het, was verbaas en het gesê: ‘Is dit nie die man wat in Jerusalem die mense wat hierdie Naam aanroep, wou uitroei nie? En het hy nie ook hierheen gekom om hulle gevange te neem en voor die priesterhoofde te bring nie?”


Saulus se bekering is radikaal en verbasend. Hy vertoef ‘n paar dae in Damaskus en bly by gelowiges – die mense wat hy vroeër wou arresteer is nou sy geloofsbroers en verskaf huisvesting aan hom. Met dieselfde vurige ywer as wat hy kort tevore Jesus se volgelinge vervolg het, begin hy om in Damaskus se sinagoges te preek. Omdat hy ’n skrifgeleerde van formaat was wat onder Rabbi Gamaliël in Jerusalem studeer het, kon hy dit met baie groot oortuiging doen. En die ontmoeting met die lewende Jesus het ’n passie in hom aangesteek wat nooit weer sou verflou nie.


Daar was heelparty Jode in Damaskus en gevolglik heelwat Joodse sinagoges. Saulus se reputasie het hom vooruit geloop, en sy verlede was ook bekend by die Jode in Damaskus, daarom het sy optrede hulle baie verbaas. Hulle het geweet dat dit hy was wat die Christene in Jerusalem wreed vervolg het, en dat hy vir daardie besondere doel na Damaskus gekom het, om ook daar die gelowiges in die sinagoges gevange te neem en hulle geboeid voor die Joodse Raad te bring. Almal wat Paulus se boodskap gehoor het, was uitermate verstom oor die radikale verandering van hierdie gevreesde man.

Die eerste deel van Saulus se preek, verkondig hy aan die Jode dat “Jesus die Seun van God is.” Toe die hoëpriester Kajafas, Jesus voor die hele Joodse Raad tydens Sy belaglike verhoor, gekonfronteer het met die vraag of “Hy die Christus, die Seun van God is, het Jesus geantwoord: Dit is soos u sê ...” en hulle het Hom met veragting verwerp, en vir godslastering laat kruisig” (Matt. 26:63-66). Nadat Jesus egter persoonlik met Saulus uit die hemel gepraat het, was hy oortuig dat Jesus waarlik die Seun van God is!


Waar laat dit ons? Elkeen van ons beland in situasies waarin ons ‘n antwoord moet gee. Elke mens word voor ’n beslissing gestel. Elke mens kry die geleentheid om te glo of “Jesus die Seun van God is”, of om Hom te verwerp. Op grond van die mens se keuse kom daar skeiding want sommige weet nie wat geloof is nie. Die Hebreërskrywer het ‘n poging aangewend om geloof te definieer in Heb. 11:1; Oswald Chambers het in die 19de eeu al gesê: “Geloof kan nie gedefinieer word nie, dit is ‘n geskenk van God self, waarvan ek net kan sê dat dit my die vermoë gee om God agter alles te sien, en wat my vul met die verwondering van ‘n kind”; Martin Luther se weergawe: “Geloof is om te sien wat jy nie sien nie, en nie te sien nie, wat jy wel sien”. Daar is ook al duisende boeke deur die eeue oor geloof geskryf – soveel boeke, soveel menings, soveel definisies!


Jesus stel dit eenvoudig in die Boek van die lewe: As ek en jy nie in Hom glo nie, sal ons die gevolge van die oordeel moet dra. Ons hoef nie eers te wag tot die oordeelsdag om dit te hoor nie. As ons “nie in Jesus glo nie, is (ons) reeds veroordeel omdat (ons) nie in die enigste Seun van God glo nie” (Joh. 3:18). Ons weet dus in Wie ons moet glo, maar wat is geloof? Geloof is nie 'n lekker gevoel wat ons so nou en dan ontwikkel, of 'n werk wat ons moet doen nie. Geloof is om die geskenk van God se genade met leë hande te ontvang. Ek en jy kan niks tot ons verlossing bydra nie. Dit werk nie so dat hoe meer ons glo, hoe meer sal Christus vir ons aan die kruis sterf nie. Geloof is nie net om te wéét dat Christus vir ons aan die kruis gesterf het nie, dit is om Hom met ons hele lewe te vertrou, om in ‘n persoonlike verhouding met Hom te leef!


Kan ’n mens ’n passie vir God hê as jy nie in Jesus Christus glo nie? Kan ’n mens ’n passie vir God hê as jy nie seker is van jou verlossing in Jesus Christus nie? Nee! Jesus sê vir ons dat ons geloofsekerheid kan hê en in duidelike taal beklemtoon Hy dit in Johannes 3:16: “... sodat die wat in Hom glo nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê.” Ons gaan nie hemel toe omdat ons goeie Christene is nie. Ons gaan hemel toe omdat ons die beloftes van die Woord persoonlik aanvaar het. “Wie in Hom glo, word nie veroordeel nie; wie nie glo nie, is reeds veroordeel omdat hy nie in die enigste Seun van God glo nie” (Joh. 3:18). Ons wat in Christus glo kan uitsien na die oordeelsdag, want die oordeel oor sondes is reeds deur Christus gedra. Die oordeel gaan daaroor of ons in Christus glo. Sy kruis staan bo-oor ons sondes geskryf! Glo dit! Vertrou dit!


"You think of Jesus as the Judge who is there to condemn; and well he might for he has won the right. But you are wrong; he is not there to be our prosecuting counsel but to be the advocate to plead our cause"

(William Barclay)


Gebed: Dankie Gees van God dat U my in die waarheid lei sodat ek my geloof in Jesus Christus kan lééf en dóén, al maak ek foute. Amen.


Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page