Gedagte vir Vandag
Woensdag, 9 November 2022
Koos Espach
Saulus se bekering (1)
Jesus Christus, ‘n vervloekte?
Hand. 9:1-2 – “Intussen het Saulus soos ‘n besetene voortgegaan om die volgelinge van die Here met die dood te dreig. Hy het na die hoëpriester toe gegaan en van hom bekendstellingsbriewe aan die sinagoges in Damaskus gevra. Sy doel was om al die aanhangers van die leer van die Here wat hy daar kry, mans sowel as vrouens, gevange te neem en na Jerusalem toe te bring.”
Die gebeure waarvan in hierdie gedeelte van hoofstuk 9 vertel word, is ongetwyfeld van die belangrikste in die geskiedenis van die Christendom en die wêreld. Hierdie verhaal is só belangrik vir Lukas, dat hy dit by nog twee geleenthede herhaal (hfst. 22 en 26). Die drie beskrywings het hier en daar verskillende aksente en moet saam gelees word, want hoewel Petrus hierna die eerste treë na die heidene sou gee, is dit veral Saulus, (Paulus), wat die evangelie oor sy Joodse grense sou laat bars, en waarmee die wêreld, onherroeplik verander is.
Ietsie meer oor Saulus: Sy familie was uit die stam van Benjamin. Hulle het voor sy geboorte uit Galilea na Tarsus in Silisië (Turkye) verhuis, waar Saulus gebore is. Vroeg na sy geboorte het hulle na Jerusalem verhuis aangesien daar ook ’n suster van hom gewoon het. Daar het hy aan die voete van die beroemde Rabbi, Gamaliël, uit die skool van Hillel, gestudeer. En in sy eie woorde: “Hy is besny op die agste dag, van geboorte ‘n Israeliet, uit die stam van Benjamin, ’n egte Hebreër; wat die wet betref, ’n Fariseër; wat ywer betref, ’n vervolger van die gemeente; wat die onderhouding van die wet van Moses betref om vryspraak te kry, onberispelik” (Fil. 3:5-6).
Met Saulus is reeds kennis gemaak toe Stefanus se steniging beskryf is (7:58). Daarna het hy baie prominent op die voorgrond getree: “Saulus het die kerk probeer uitroei. Hy het van huis tot huis gegaan, mans en vrouens laat uitsleep en hulle in die tronk laat sit” (8:3). En “intussen het hy soos ’n besetene voortgegaan om die volgelinge van die Here met die dood te dreig. Hy het na die hoëpriester toe gegaan ...”
Hy was briesend vir hierdie mense wat hulleself navolgers van Jesus van Nasaret genoem het en boonop vir almal vertel het dat Hy die Messias is. Die stories dat Hy uit die dood opgestaan het en na die hemel toe opgevaar het, kan mos nie waar wees nie. Jesus kon onmoontlik die Messias wees. Alle Godvresende Jode, hyself inkluis, weet dat God almal verag wat aan ‘n paal opgehang is (Gal. 3:13).
Gevolglik het Saulus teen hierdie “dwaalleer” opgetree en mans en vrouens in die tronk gestop – (ek wonder wat van die kinders geword het wat sonder versorging gelaat is?) Saulus was die man van die oomblik. Hy sou seker maak die suiwere leer van die wet waarin hy gestudeer het, word toegepas.
Die eintlike dwaalleraars het geglo daar is net een pad na God toe – die wettiese pad – mens kan slegs by God uitkom as jy die wet van Moses streng onderhou. Mens moes as’t ware boekhou van jou geestelike vordering. Steel jy – kruisie teen jou naam; pleeg jy egbreuk – nog ‘n kruisie; steel jy of pleeg jy nie egbreuk nie – regmerkie teen jou naam. As jy dan teen die einde van jou lewe meer regmerkies het as kruisies, gaan jy hemel toe. Maar, ons weet mos, niemand kan die hele wet van God volkome hou nie. Daarom gaan ons meer kruisies as regmerkies teen die einde van ons lewe aangeteken hê, tensy mens verneuk het. (Dis ook moontlik met al die korruptes om ons). “Daar rus ‘n vloek op elkeen wat nie stiptelik alles doen wat in die boek van die wet geskrywe staan nie (Gal. 3:10). Daar rus ‘n vloek op elkeen ... die dood is ons voorland! Die wettiese pad is dus nie ‘n opsie nie.
Daar is gelukkig ‘n alternatiewe pad om by God uit te kom – Jesus Christus – die enigste Weg (Joh. 14:6). Hy het in ons plek die vervloekte geword en daardeur die vloek se mag gebreek. Toe Jesus, die Seun van God, aan daardie vervloekte paal opgehang is (Deut. 21:23; Gal. 3:13), het Hy daardeur die vloek namens ons gedra. Dit is die werklikheid van God se liefde en genade. Elke berouvolle sondaar soos ek en jy, kan ons nou verheug in die vaste versekering dat die vloek vir ewig verwyder is van almal wat in Jesus Christus glo. Daar is nou vir ons hoop op ‘n toekoms by God. Ons kan agter Jesus kom skuil. Jesus se bloed het ons doodsvonnis bedek. Ek en jy kan nou vry uitgaan op die pad wat Jesus vir ons geskep het na God toe.
“Jesus gee nie vir ons ‘n resep om die weg na God aan te wys – soos leiers van ander godsdienste doen – Hy is self die Weg” (Karl Barth).
Gebed: Genadige Vader, ek loof U vir die verlossing deur die kruis. Omdat Jesus in my plek U vloek gedra het, kan ek nou as vrygespreekte voor U staan. Dankie Jesus, dankiedankiedankie! Amen.
コメント