top of page

Gedagte vir Vandag

Vrydag, 28 Oktober 2022

Koos Espach


Filippus in Samaria (11)


Leef onder leiding van die Heilige Gees en getuig tot God se eer


Hand. 8:25 – “So het die apostels dan kragtig getuienis gelewer en die woord van die Here verkondig. Hulle het na Jerusalem toe teruggegaan en onderweg die evangelie in baie dorpe van die Samaritane verkondig.”


Vergelyk ook 1 Kor. 14:1 – “Julle moet die liefde nastreef. Lê julle toe op die gawes van die Gees, maar veral daarop om God se boodskap te verkondig.”

Net soos Simon die towenaar die Samaritane met sy towerkunste besmet het, kan ons gedagtes, ons harte, ons woorde, ons dade, almal met wie ek en jy in kontak kom, besmet. Ons kan maklik deurtrek word deur die duiwel en sy invloed. Die duiwel kan veroorsaak dat ons nie meer meester is van ons doen en late nie! Maar wanneer die koninkryk van God, deur Jesus, in my en jou lewe teenwoordig raak, ontvang ons “Sy Goddelike krag wat ons alles skenk wat ons nodig het” (2 Pet. 1:3a).


Jesus het aarde toe gekom en mens kom word en tussen ons kom woon (Joh. 1:14). Hy weet daarom hoe uiters nodig ons vertroosting het, veral in ons pyn en smart. Die koninkryk van God het deur Jesus tot by elke gelowige gekom. Hierdie koninkryk is heeltemal anders as enige aardse koninkryk – dit mergel nie mense uit nie, Hy kry ons jammer. Daarom het ons die belofte dat Hy deur sy Gees, altyd by ons sal wees. Hy vertroos die gebroke hart wat my en jou so siek maak; Hy versterk ons verslae gees wat dood was; Hy reinig ons van die besmetting van die sondes en lei ons tot oorwinning in elke lewensituasie.


Paulus skryf in Romeine 16:19-20 dat hy “graag sou wou sien dat (ons) alles weet van die goeie (die evangelie), en niks wil weet van die slegte nie. God wat vrede gee, sal die Satan spoedig onder (ons) voete verpletter. Die genade van ons Here Jesus is by (ons)!” Die pad van ware geloof is nie altyd maklik nie. Wanneer alles goed verloop in ons lewe, is dit betreklik maklik om ‘n intieme verhouding met Christus te handhaaf, maar wanneer ons terugslae beleef en te veel “wil weet van die slegte”, is daar ‘n neiging om weg te dryf van God en vertroue te verloor dat die Heilige Gees, elke oomblik by ons is. Maar, maak nie saak hoe sleg die omstandighede ook al is nie, Jesus waarborg dat hy saam met ons op hierdie moeilike en smal pad sal stap. Sy Gees sal ons gids wees en ons vervul met “vrede”, want “God sal die Satan onder ons voete verpletter.”


Ons geloof in Christus, is nie ‘n versekeringspolis téén die “slegte dinge” in die lewe nie en as ons in Jesus glo omdat ons nie terugslae of probleme wil ondervind nie, dan glo ons om die verkeerde redes in Hom. As ons egter glo uit dankbaarheid wat Hy reeds vir ons aan die kruis gedoen het, ten spyte van ons slegte omstandighede, dan is ons by die regte adres. Dan sal ons weet, wanneer dit donker word oor ons, dit Jesus se skaduwee is wat oor ons daal terwyl Hy sy vertroostende deurboorde hande op ons skouers plaas en sê: “Ek gee jou die ewige lewe, en jy sal in alle ewigheid nooit verlore gaan nie. Niemand sal jou uit My hand ruk nie” (Joh. 10:28).


Dis maklik om ons geestelike spoor, ons getuienis spoor, ons sending spoor, byster te raak. Satan wil eerder hê ek en jy moet enigiets anders doen as om ons geloof te deel. Hy sal ons tot allerlei goeie aardse dinge laat doen, solank ons niemand saam met ons hemel toe neem nie! Maar, selfs in ons slegste dae, is ons veilig in Christus se hande. Die fynskrif op Sy “versekeringspolis” vir ons gelowiges bevestig dat selfs wanneer ons struikel, of twyfel, of die een of ander sonde begaan het, ek en jy veilig is in Sy hand (Joh. 10:28). “Die genade van ons Here Jesus is by ons”, dit omsluit ons ganse lewe! Ek en jy is deel van God se huisgesin en daarom is ons geroep om onder leiding van die Heilige Gees te leef en te getuig tot God se eer. Dit laat ons met die vraag: Waarom is ek en jy lidmate van ‘n gemeente? Wat maak ons harte so vol dat ons monde daarvan oorloop? Waar en teenoor wie getuig ek en jy buite die mure van die kerkgebou?


“Die evangelie is die mooiste, mees hartverwarmende woorde in die wêreld: Ons hoef nie op te klim na God toe nie, Hy het gekies om af te kom na ons toe, om mens te word, en by ons te bly tot aan die einde van alle tye” (Martin Luther).


Gebed: Dankie Here Jesus, dat U my heeltyd op die veiligste plek denkbaar hou, in U eie hande. Dit is hier waar U gedurig ‘n ogie oor my kan hou. En Here, wanneer dit voel dat ek uit U hande geval het, vergewe asseblief my kleingeloof. Weerhou my daarvan om te veel te probeer weet van “die slegte”, die lelike en sondige. Bewaar my van die vele versoekings wat daaruit kan voortspruit, “verpletter eerder satan onder my voete.” Dankie vir U “genade wat by my bly”, dit is onverdiende guns alleen. Amen.

Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page