Gedagte vir Vandag
Donderdag, 20 Oktober 2022
Koos Espach
Filippus in Samaria (5)
Ons is vrygemaakte mense
Hand. 8:14-15a – “Toe die apostels in Jerusalem hoor dat die mense in Samaria die woord van God aanvaar het, het hulle vir Petrus en Johannes daarheen gestuur. Dié het toe gegaan en vir die mense daar gebid dat hulle die Heilige Gees mag ontvang ...”
In Samaria is die prediking van Filippus en die oorwinning van Christus só groot dat selfs ou Simon hom laat doop. Groot gebeurtenisse bly nie onopgemerk nie. Die gebeurtenisse en aanvaarding van die Evangelie in Samaria bereik Jerusalem waar die apostels nog altyd woon en werk. Petrus en Johannes word afgevaardig om die waarheid oor Jesus Christus in Samaria te gaan bevestig. Hulle was immers ooggetuies van ál die Jesus-gebeure.
Ons lees ook in vers 8 dat “daar groot blydskap in daardie stad was.” Dit is wat gebeur wanneer mense die verloste lewe wat die Koninkryk van God bring, ervaar. Die blydskap van ‘n herstelde gemeenskap wat verlos is uit ‘n towenaarsbestaan, deur die God van alle lewe, die ware lewe. Blydskap vanweë die voorsmaak van die ewige lewe. 'n Blydskap wat ook standhou in beproewing en verdriet omdat niks ons meer kan skei van die liefde van God in Christus nie. Dit is die krag van die Evangelie waarmee Christus die wêreld oorwin en die ryk van die duiwel uitroei, vandag nog!
Dit is nogal treffend dat Johannes saam met Petrus Samaria toe gestuur word “en vir die mense daar gebid het dat hulle die Heilige Gees mag ontvang ...!” Redelik onlangs het Johannes saam met sy broer, Jakobus, vir Jesus gevra of hulle twee nie “vuur uit die hemel moet afroep om Samaria te verteer nadat die inwoners van Samaria hulle toegang daar geweier het” (Luk. 9:54).
Ek wil dit waag om te sê dat baie mense het vandag steeds dieselfde opvatting oor God as wat die wraaksugtige dissipels, Johannes en Jakobus, daardie dag geopenbaar het. Hulle sien God as ‘n bestrawwende God wat ons die heel dag dophou en kyk waar ons ‘n fout maak sodat Hy ons kan oordeel. ‘n God wat sy blinde sweep uithaal en mense straf vir so lank terug as Adam en Eva se sondes. ‘n God wat dinge toelaat soos droogtes, misdaad, siektes, (redelik onlangs is Covid gekoppel aan God se manier om die mensdom te verminder), ag, en sommer enige ellende wat ons tref. Die ergste is wanneer ‘n geliefde aan die dood afgestaan word en ‘n “vroom” Christen vertel dat dit God se manier is om te toon dat die dood hulle op hul sonde wil wys!
Wel, daar bestaan glad nie so iets nie. God straf nie mense links en regs nie. God straf individue wat teenoor Hom rebelleer, mense wat steeds die wêreld verkies en hulle eie godjies wil wees. Ek dink die hele punt van die Evangelie is tog dat Jesus nie aarde toe gekom het om te kom vernietig nie, maar om te red. Die God van wie Jesus ons kom vertel, is nie ‘n God wat mense of hulle kinders laat doodgaan om vir hulle lesse te leer nie, of boere se oeste laat verdroog, of selfs ‘n damwal laat bars sodat mense in die slyk en modder omkom en alles in die pad daarvan, verwoes word nie.
Dit is tragies dat baie mense hulle lewe lank in vrees leef vir die oordeel van God. Hulle raak neerslagtig want hulle is daarvan oortuig dat God die hele tyd sit en wag dat hulle ‘n misstap begaan sodat Hy hulle kan straf. So ‘n beeld van God maak van godsdiens ‘n las en skep ‘n vernietigende gesindheid teenoor die lewe, omdat hulle nie waardering kan vind vir dit wat God geskep het nie. Dit voel asof hulle lewe een sieldodende roetine is. Wanneer iets opwindends in hulle lewe gebeur, dan onderdruk hulle dit want hulle is bang vir God wat al hierdie pragtige dinge geskep het.
Ons het nou ‘n doel in die lewe, ons is bevry van die dodelike vrees van God se “blinde sambok” oordeel. In plaas van vuur bring Hy ‘n doringkroon en spykers aarde toe sodat ons vir altyd gered kan wees. Jesus het self gesê: “Dit verseker Ek julle: Wie luister na wat Ek sê, en in Hom glo wat My gestuur het, het die ewige lewe. Hy word nie veroordeel nie maar het reeds uit die dood na die lewe oorgegaan” (Joh. 5:24).
Wanneer ons “luister na wat Jesus Christus sê en in God glo wat Hom gestuur het”, betree ons ‘n nuwe verhouding met God – die Regter word ons Vader, die toekoms word die hede, die onbekende word intimiteit met God en vrees verander in liefde. Wanneer ek en jy onsself in geloof aan Jesus Christus oorgegee het, gaan ons uit die dood oor tot die lewe. Watter wonderlike belofte en versekering dat óns, as ons “na die woorde van Jesus luister en in Sy Vader glo,” nie meer geestelik dood is nie en nóú reeds seker mag wees dat ons rééds uit die dood na die ewige lewe oorgegaan het!
“Ware geloof is harde werk en dit kos jou duur. Dis dóén in plaas van net sê ...! Dis jouself prysgee, soos Christus gedoen het” (Ferdinand Deist).
Gebed: Dankie Here vir U genade. Voordat ek oorgegaan het na “die lewe” en U eerste begin stel het, was ek die belangrikste persoon in my beperkte klein wêreldjie. Dankie dat U woede oor die sonde aan die kruis uitgeblus is. Dankie dat U my vrygemaak het van die straf én van die mag van die sonde. Amen.
Comments