top of page

Gedagte vir Vandag

Maandag, 17 Oktober 2022

Koos Espach


Simon die Towenaar en die apostels (1)


Filippus in Samaria (2)


Towery versus die evangelie


Hand. 8:9-11 – “In dieselfde stad was daar ‘n man met die naam Simon, wat die inwoners van Samaria met sy toorkunste verstom het. Hy het daarop aanspraak gemaak dat hy iets besonders is en almal, klein en groot, het hom aangehang. Hulle het gesê: ‘Hy is wat ons ‘Die Groot Krag van God’ noem.’ Hy het ‘n aanhang onder hulle gekry omdat hy hulle oor ‘n lang tydperk met sy toorkunste verstom het.”


Vergelyk ook Joh. 8:25-26 – “Hulle vra Hom toe: ‘Wie is jy?’ Jesus het hulle geantwoord: ‘Waarom praat Ek eintlik nog met julle? Ek kan baie dinge oor julle sê en ‘n oordeel oor julle uitspreek; maar Hy wat My gestuur het, is geloofwaardig, en net wat Ek by Hom gehoor het, sê Ek vir die wêreld.”


Voordat Filippus sy verskyning in daardie stad gemaak het, was daar ’n man met die naam Simon, wat die inwoners van daardie stad en landstreek Samaria met sy toorkunste verstom het. Dat Simon beweer het om iemand besonders te wees met sy bonatuurlike kennis en kragte, verwys na ’n soort superwese, ’n soort goddelike mens. Almal in die stad en streek, van klein tot groot het in hom geglo en blykbaar as die mensgeworde god beskou.


Simon, was vir die Samaritane amper soos Jesus – God wat tussen mense kom woon het. “Hy het ‘n aanhang onder hulle gekry omdat hy hulle oor ‘n lang tydperk met sy toorkunste verstom het.” Hierdie aanhang onder die Samaritane het tot ongeveer 150 nC voortgeduur. Hulle het van hom gesê: “Hy is die krag van God wat die Grote genoem word.” Die Samaritane het in Simon iets van die verwagte Messias gesien, maar Lukas sien in sy dade niks anders as toorkunste nie, waarmee hy die mense ’n lang tyd verstom het.


Daar is ongelukkig vandag steeds mense wat Jesus nie ken nie en Hom vra: “Wie is jy?” Mense wat hopelik “eendag” sal besef dat Hy Jesus Christus, ons Verlosser is. Solank hierdie ongelowiges net weet dat in God se kalender nie ‘n “eendag” is nie, net Maandag tot Sondag en Hy is ook nie ‘n towenaar, standbeeld of mooi skildery êrens in die wêreld nie. Hy is die lewende, opgestane Jesus.


Op die Corcovado-berg in Rio de Janeiro, Brasilië, is ‘n massiewe “Christus standbeeld verhoog” sodat al die inwoners in Rio dit gelyktydig kan sien. Daar is egter twee dinge wat vreemd is aan hierdie standbeeld – die oë het nie pupille nie, daar is net twee niksseggende gaatjies. Die tweede vreemde ding is die beeld se hart. Op die buitekant van die beeld se mantel is daar ‘n duidelike hart uitgekerf, ‘n hart van klip. Hierdie twee vreemde verskynsels laat mens onwillekeurig vra: “Watter soort Verlosser is dit dié?” Blind en met ‘n hart van klip, sonder liefde, ‘n stuk beton; ‘n blinde en hartelose verlosser – niemand kan tog so ‘n verlosser wil hê nie!


Daar is tog mense wat juis só ‘n verlosser het, ‘n tipe jesus wat gerieflik byderhand is wanneer hy skielik benodig word. Maak nie saak of jy hom regtig ken nie en jy hoef ook nie ‘n verhouding met hom te hê nie. Al wat nodig is, is dalk om ‘n transaksie met hom aan te gaan. Vir 52 Sondae ‘n jaar sal jy na iemand luister wat oor Hom preek en in ruil daarvoor soek jy genoeg genade vir ingang tot die hemel. ‘n Jesus met wie jy kan onderhandel, die gewer van alles wat jy vra, iemand wat iets vir jou kan doen en verkieslik ook net wanneer jy dit so wil hê. ‘n Simon Towenaar wat nie ‘n hart hoef te hê nie en ook nie kan sien nie, want jy sal vir hom sê wat jy nodig het en vra om nie alles te sien wat jy doen nie. Jy stel nie belang in sy liefdevolle hart nie en ook nie in oë wat jou lewe kan rig in die regte weë nie.


Of, alternatiewelik, Iemand soos ons Verlosser! Dankie tog, ons Verlosser is totaal en volkome ánders as die verlosser-beeld in Rio of Simon die towenaar. My en jou Verlosser het op Golgota, die plek van verskrikking, met uitgestrekte arms die bordjies vir altyd verhang. Hy is deur God verhoog om ons te red. Sy deurboorde hande is die bewys van God se liefde en genade vir ons as sondaarmens; Sy oë en gesig was pap geslaan vir my en jou; Hy was verlaat deur Sy vriende vir ons; Sy hart ken elke worsteling en hartseer van ons; Sy uitgestrekte arms is gerig na ons en Hy nooi ons uit met ‘n belofte: “Kom na My toe – Ek is by jou al die dae tot aan die voleinding van die wêreld.” Hierdie eensame bebloede Jesus van die kruis, het die swaard van die Waarheid, daarom kan ek en jy leef! By die kruis van Verskrikking, het Hy ons bevry en ons oë geopen vir God se genade.


“Christus het Sy eie hart gegee: gebroke, verwond, bloeiend; die offerande van Sy liefde, en dit na ons toe gebring as ‘n geskenk. Uit Sy eie lyding, vernedering, smart en worsteling het Hy ons verhef tot ewigdurende oorvloed en voordeel” (Henry Ward Beecher).


Gebed: Dankie Jesus dat die evangelie vir geen geld ter wêreld gekoop kan word nie. Dankie dat ek dit kan leef en glo. Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page