Gedagte vir Vandag
- ngfochvillenoord
- Oct 7, 2022
- 4 min read
Vrydag, 7 Oktober 2022
Koos Espach
Epiloog en Stefanus se steniging (4)
‘n Nuwe kontrak met ‘n magdom voordele
Hand. 7:56 – “Kyk,’ het Stefanus gesê, ‘ek sien die hemel geopen en die Seun van die mens wat aan die regterhand van God staan.”
Stefanus se toespraak fokus op God se werk met die Israeliete deur die eeue. God berei 'n volk voor vir wie Hy God wil wees en hulle Sy volk sal wees. Israel bly egter faal. Uiteindelik kom Jesus as Gestuurde van die Vader om hierdie doel te verwesenlik, die volk na hulle heerlike bestemming te lei en om 'n seën vir die nasies te wees. Maar, Israel bly ontrou. God se tugtiging deur die eeue loop op bitter min uit. Die weerstand teen God en die onvermoë om God se werk te herken, lei tot die kruisiging en dood van Jesus. Jesus is egter uit die dood opgewek, het opgevaar hemel toe en ‘n nuwe bedeling, ‘n nuwe kontrak, ‘n verbond of testament, as tussenganger tussen God en mens bekragtig. God se Seun wat mens op aarde kom word het (Joh. 1:14), was eers aan die ontvangkant, maar “staan nou aan die regterhand van God,” aan die geekant!
’n Kontrak word opgestel tussen twee partye om seker te maak dat die een nie die ander benadeel nie. Soos die tyd verloop, moet daar soms aanpassings in die kontrak gemaak word, want dalk bring die een party nie sy kant nie en noop dit die ander een om die kontrak te wysig of selfs heeltemal tot niet te verklaar.
Die kontrak, of verbond wat God met Moses en die Israeliete aangegaan het, het nie meer gewerk nie. “As die eerste ooreenkoms volledig en sonder probleme was, sou ’n tweede een mos nie nodig gewees het nie. Dat alles nie met die eerste ooreenkoms reg verloop het nie, kan ons daarin sien dat God ontevrede met sy mense was” (Heb. 8:7 – Die Boodskap).
En dis nie dat God nie Sy kant nagekom het nie. God was die party wat heeltyd Sy kant gebring het. Dieselfde kan egter nie van die mense gesê word nie. Hulle kon net nie hulle deel van die kontrak nakom nie en het kort-kort weggebeur van God af. Daarom het God Hom van die kontrak onttrek: “Maar hulle het nie hulle deel van die ooreenkoms nagekom nie. Daarom het Ek ook nie meer my deel van die ooreenkoms nagekom nie en my rug vir hulle gedraai” (Heb. 8:9).
Dis skrikwekkend net om te dink dat dit moontlik is dat God sy rug op ons kan draai! Ek en jy het nêrens meer ’n plekkie om heen te gaan nie, nooit nie! As dit swaar gaan, is dit net ons en ons eie swaar. Nêrens kan ons aanklop vir hulp nie. Ons kan nie na iemand draai en vra: “Wat nou?” nie. Ons moet elke krisis wat in ons lewe opdaag, eiehandig uitsorteer. Sonder God se beskerming, sal krisisse elke dag by ons deur kom aanklop!
Dit sal ’n vrek alleen plek wees, en dis vir ewig. Vir ewig is ‘n baie lang tyd, nie waar nie? Mag dit nooit met ons gebeur nie. Gelukkig weet ons dat die storie nie daar eindig nie. “Ek sal in die toekoms ’n nuwe ooreenkoms met my mense maak. Ek sal seker maak dat hulle nooit sal vergeet wat Ek van hulle wil hê nie. Wat Ek van hulle verwag, sal Ek deel van hulle lewe maak. Ek sal vir hulle hulle God wees en hulle sal my mense wees” (Heb. 8:10).
Ons weet van die nuwe ooreenkoms wat God kom maak het. Op ’n manier het Hy die een wat die vorige ooreenkoms laat skipbreuk ly het, uit hierdie ooreenkoms kom haal. Of liewer nie die mens verwyder nie, maar net die rol wat hy moet speel in die ooreenkoms, omtrent heeltemal tot niks verander. God neem alles wat in die ooreenkoms gedoen moet word, op Sy eie skouers. Vir die ooreenkoms om suksesvol te wees, hang dit nie meer van die mens af nie. God het alles gedoen. Jesus het na die aarde gekom en Sy lewe as offer gebring. ’n Offer wat oorgenoeg is, afgehandel is, ‘n offer wat nooit weer hoef gebring te word nie.
God se aandeel in die ooreenkoms hou egter nie hier op nie. God los ook Sy Heilige Gees as hulp vir ons, om so te verseker dat ons in die ooreenkoms kan bly. Wanneer ons vashaak en nie weet hoe verder vorentoe nie, help die Heilige Gees ons met die regte raad en wysheid. Dit is ’n heel eensydige ooreenkoms, waar God alles doen en ek en jy al die pad bevoordeel word. ’n Eensydige resep vir ’n groot sukses. God het alles gedoen en ons kan net terugsit en uit genade al die voordele van die wonderlike ooreenkoms, elke dag ervaar. Al wat ons kan doen is om te vra: Wat beteken die nuwe ooreenkoms vir my en jou? Watter invloed het dit op ons manier van lewe? Hoe deel ons dit met ander?
“Soos ‘n motor gemaak is om met brandstof te werk en op niks anders behoorlik kan loop nie, só het God die menslike masjien ontwerp om Hom as brandstof te gebruik. Niks anders kan ons ooit so volmaak laat funksioneer as Hy wat ons ontwerp het nie” (C.S. Lewis).
Gebed: Ons Vader, dankie vir die nuwe ooreenkoms. Dankie dat U alles doen en die ooreenkoms nie afhanklik is van wat ek doen of nie doen nie. Ek wil so graag meer en meer van die ooreenkoms uitleef. Mag ander dit in my lewe raaksien. In Jesus se Naam. Amen.
Recent Posts
See AllVrydag, 25 Maart 2025 Koos Espach Die wet en die sonde (2) Die wet ontmasker die sonde Rom. 7:9-12 – “Voorheen, toe die wet nie daar...
Donderdag, 24 April 2025 Koos Espach Die wet en die sonde (1) God voorsien in ons behoeftes Rom. 7:7-8 – “Wat is dan ons gevolgtrekking?...
Woensdag, 23 April 2025 Koos Espach Bevry van die wet en in diens van God, diensbaar aan Christus (3) Diens vir my en jou is nie...
Comments