top of page

Gedagte vir Vandag

Woensdag, 17 Augustus 2022

Koos Espach


Stefanus word gevange geneem (2)


Wees tot seën vir ander


Hand. 6:8 en 10 – “Stefanus, aan wie God baie genade en krag gegee het, het groot wonders en tekens onder die volk gedoen ... Die Jode het met Stefanus begin redeneer. Hulle was egter nie opgewasse teen die wysheid wat hy van die Gees ontvang het en waarmee hy gepraat het nie.”


Gister het ons gesê ons Christene moet uit dankbaarheid vir dit wat Jesus vir ons gedoen het, elke geleentheid benut en ons Christelike geloof uitleef in ons woorde, dade en gesindhede – dit is eintlik ons plig en voorreg! Wanneer ek en jy dit doen in die krag van die Heilige Gees, dra ons by om van die plek waar God ons geplaas het, ‘n beter plek te maak. Dit is miskien nie soortgelyk aan Stefanus se “groot wonders en tekens wat hy onder die volk gedoen het nie,” maar ons behoort steeds die seën wat God ons skenk, nie tot onsself te beperk nie. Ons weet wel nie wat ander nodig het om geseënd te kan lewe nie, maar ons almagtige Vader weet. My en jou plig is om te bid sodat Hy ons in staat kan stel om kanale te wees waardeur Sy seën na ander kan vloei.


Ons deel graag wat Ds. Gerjo-Ben onlangs vir ons gestuur het: “’n Joodse professor vertel dat hy as weeskind in ’n kibboets gebly het. ’n Amerikaanse sendeling het daar aangekom en hy was gefassineer deur die manier waarop hierdie vriendelike sendeling, waarlik omgegee het vir ander. Hy het geleef wat hy geglo het. Hy het soos ‘n engel die gesindheid van Jesus Christus in hierdie wêreld openbaar. ’n Paar jaar later het daar weer ’n “engel” sendeling uit Korea daar aangekom. Sy het presies dieselfde gedoen as die Amerikaanse sendeling en net Jesus geleef.


Hy kon nie anders as waardering en lof aan die twee sendelinge se dade te betuig nie en dit het die professor die brug van ongelowige, na gelowige oor laat steek – dit deur twee mense wat hulle geloof in dade uitgeleef het, en nie eintlik daaroor gepraat het nie. Die twee sendelinge het elkeen hulle opdrag gaan uitleef om Jesus se verlossing vir ander, in ’n ander land, te gaan wys.” Hulle het saad gaan saai, nie deur hulle monde nie, maar net op die wyse waarop hulle in die vreemde land geleef het. Hulle het die saad gesaai en die Heilige Gees het natgegooi! So het God baie planne vir baie ongeredde mense en Hy wil gewone mense soos ons gebruik om die planne te laat uitwerk. Ek vermoed dat as die twee sendelinge geweet het dat God hulle roep om engele te wees, sodat ’n seun uit ’n kibboets tot bekering sal kom en op die ou end ’n wêreldbekende Christenprofessor gaan word, hulle heel waarskynlik nie hulle hande sou opgesteek het nie.


Ek en jy kan ook soos “engele” wees. Dit begin deur vir ander ‘n seën te wees omdat God se seën in ons lewe so oorvloedig is. Die Hebreërskrywer sê ons moet mekaar versterk: “Versterk daarom die slap hande en die lam knieë en loop die reguit pad. Dan sal wat lam is, nie uit lit raak nie maar gesond word” (Heb. 12:12-13). Dit laat my dink aan die Comrades marathon wat oor elf dae oor ‘n afstand van ongeveer 90km vanaf Pietermaritzburg na Durban gehardloop gaan word. Een van die mooiste kenmerke van die Comrades is die onderlinge kameraadskap op en rondom die pad: die aansporing en toejuiging, die ondersteuning, die slukkies lafenis, die entjies saamdraf en mekaar ophelp, ondersteun en bid, en bid, en bid! Ek weet. Ek was al daar.


Net so word ons in die Christelike wedloop gedra deur die aansporing van ons medegelowiges. Soms voel dit of ons skouers begin hang, “hande slap en knieë lam raak.” Juis dan het ons ware Comradeship nodig om mekaar te ondersteun met ‘n kloppie op die rug, ‘n inspirerende woordjie, ‘n stukkie saamdraf en miskien selfs ‘n entjie skouerdra. Dis darem glad nie ’n moeilike een nie. Eintlik wil ek dit opsom met een sinnetjie: “Wees net nice!” En is dit nou so moeilik? Maak dit vir almal lekker om in my en jou bubble te klim. Gee om vir ander. Wees lief vir ander.


Ons belewe ‘n tyd van ongeëwenaarde moedeloosheid in ons land – selfs Christene het min moed vir die toekoms. Werkloosheid, korrupsie, misdaad, onbekwame gesagvoerders, swak ekonomie en, en, en ...! Baie gryp terug na die verlede toe alles sóveel beter was, ons sóveel veiliger was, sóveel minder geweld was, ons land sóveel meer aansien van die wêreld geniet het – maar, was dit? Aanbid ons nie vandag steeds dieselfde wonderlike God as in die verlede nie? Ontvang ons nie dieselfde "wysheid wat Stefanus van dieselfde Gees ontvang het en waarmee hy gepraat het nie."


Dit is daarom nodiger as ooit dat ons saam ons visie op Jesus Christus sal terugkry. Hy wag daar voor met die unieke lourierkrans wat elkeen van ons sal ontvang (Op. 2:17). Hy self sal dit vir ons omhang (2 Tim. 4:7-8). Daarom kan ek en jy moed skep en vasbyt. Die tyd waarin ons leef, is ‘n goeie tyd. Die toekoms is nog steeds, soos wat dit in die verlede was. My en jou tyd as God se kinders, is soos altyd, steeds in God se hand! Wees nice, wees ‘n seën vir ander! Praat met wysheid van die Gees!


“Die grootste daad van ‘n mens vir sy hemelse Vader is om barmhartig te wees teenoor sy ander kinders” (Henry Drummond).


Gebed: Vader, baie dankie vir die opdrag om nice te wees. Dis eintlik nie so moeilik nie en dit kan so ‘n groot impak op ander maak. Help my om ten alle tye so op te tree dat ander mense by my wil wees. Stel my in staat om ‘n kanaal te wees waardeur U seën na ander kan vloei. Ek vra dit in Jesus se Naam. Amen.

Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page