top of page

Gedagte vir Vandag

Maandag, 1 Augustus 2022

Koos Espach


Die vervolging van die apostels (8)


Die groot name versus die Groot Naam


Hand. 5:42 – “En die apostels het nie opgehou om die mense elke dag in die tempel en in hulle huise te leer en die evangelie te verkondig dat Jesus die Christus is nie.”


Vergelyk ook Matteus 28:19-20a – “Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels: doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het.”


Die verkondiging van die evangelie van die kruis, dood en die opgestane Jesus Christus kan nie gestuit word nie! Kyk maar na die verloop van die geskiedenis: Die Joodse Raad het magteloos en tevergeefs probeer om die apostels te keer om in “die Naam van Jesus iets te verkondig of te leer” (4:18); Petrus en Johannes word in die tronk opgesluit vir ‘n nag; maar die krag van die Heilige Gees was sterker as die intimiderende bevele van die Raad en die apostels het voortgegaan met hulle leringe; al die apostels word weer in hegtenis geneem en word opgesluit in die tempeltronk; bewapende wagte op vaste ure en swaar tronkdeure staan op slot; God se gestuurde engel gaan ongesiens verby alles en almal, lei die apostels uit en stuur hulle terug tempel toe met ‘n spesifieke opdrag; hulle gaan voort om die mense te leer; hulle word deur ‘n briesende maar magtelose Raad laat haal, word gegesel en weer gedreig ...!

Géseling was ‘n verskriklike straf! Die beskuldigde is met sy naakte bolyf uitgestrek oor ‘n pilaar en daaraan vasgemaak. Hy is dan met ‘n driepuntige sweep wat stukkies staal en been aan die voorpunte ingevleg is, nege en dertig houe toegedien. Dit was ‘n geweldige ernstige en vernederende straf en meestal het die slagoffer daarvan gesterf. Wat ‘n spektakel! Vir die apostels was die doodservaring egter lewe – “hulle was bly dat hulle bevoorreg was om ter wille van die Naam van Jesus vernedering te ly (v. 41), enhet nie opgehou om die mense elke dag in die tempel en in hulle huise te leer en die evangelie te verkondig dat Jesus die Christus is nie.”


Net soos wat God ingegryp het 2 000 jaar gelede om te wys Hy werk in die destydse wêreld, wil Hy vandag hê ons moet by Hom aansluit! Om ‘n Christen te wees, beteken dat ek en jy as verteenwoordigers van Jesus Christus, net “soos die Vader Hom gestuur het, ons ook gestuur word” (Joh. 20:21). Jesus se sending op aarde is nou my en jou sending. Ons tree op as gesante van Jesus om ander van Hom te vertel sodat hulle ook die ewige lewe kan hê. En dis nie opsioneel nie. Jesus se “Groot Opdrag” in Matteus 28:19 is aan elke gelowige van Hom gegee. Aan elkeen wat deel is van God se familie, is dit dus nie die “Groot Voorstel” nie, maar die “Groot Opdrag.”


Indien ons die “Groot Opdrag” ignoreer, beteken dit eenvoudig ongehoorsaamheid en gaan ek en jy tot verantwoording geroep word: “Wanneer Ek vir ‘n goddelose sê hy gaan sterwe, en jy waarsku hom nie teen sy bose optrede om hom so in die lewe te hou nie, dan sal hy deur sy sonde sterwe, maar Ek sal van jou rekenskap eis vir sy dood” (Eseg. 3:18). Jesus het my en jou verlossing verseker en ons deel van Sy familie gemaak. Hy het ons selfs sy Gees gegee om ons te help om Sy verteenwoordigers (Gen. 1:26) in hierdie stukkende wêreld te wees. Dit is daarom eintlik ‘n voorreg om vir ander te vertel hoe hulle die ewige lewe kan verkry en terselfdertyd is dit ook my en jou belydenis “om eerder aan God gehoorsaam te wees as aan mense (v. 29).”


Elke Christen is geroep om ‘n verskil te maak en om instrumente in die hande van die Here te wees. Ons moet net bereid wees om te sê: “Hier is ek Here, ek is opsy gesit vir U gebruik, help my om te doen wat U seën!” En Jesus waarborg ons van Sy nabyheid en liefde, ongeag wat ons ervaar. Ek en jy kan daaraan vashou wanneer twyfel onverwags ons lewe binnesluip. Om te getuig vír Jesus en óór Jesus, is nie ‘n eenmalige heldedaad nie, dit is ‘n jare lange volgehoue doen van dade, liefde en opoffering wat dikwels heel onsmaaklik is. “Omdat ons Sy kinders is, het God die Gees van sy Seun in ons harte gestuur” (Gal. 4:6). As ek en jy wil hê God moet ons gebruik, moet ons omgee vir dinge waarvoor God omgee. Waarvoor Hy die meeste omgee, is elke mens wat Hy gemaak het, en hulle, moet nie verlore gaan nie! Hy wil hê Sy verlore kinders moet gevind word. Bid saam met my: “Here, wie het U vandag op my pad geplaas sodat ek hom of haar van U kan vertel sodat hulle nie verlore gaan nie?”


“Elke Christen het ‘n totale Christus vir sy verlossing; ‘n totale Bybel as ‘n staf; ‘n totale kerk vir sy broederskap en ‘n totale wêreld as sy arbeidsveld” (Chrustostomus).


Gebed: Hemelse Vader, dankie dat U nie verwag dat ek dinge bó my vermoë moet doen nie, maar wanneer U my roep, dit ‘n teken is van U vertroue in my dat ek wel vir die taak opgewasse sal wees. Dankie vir U wonderlike genade om ‘n onwillige en onbekwame mens soos ek, in U koninkryk te wil gebruik, terwyl U engele daarvoor kon aanwend. Hier is ek Here, ek is opsy gesit vir U gebruik, sonder U gaan ek nêrens nie! Here, help my om te doen wat U seën. Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page