top of page

Gedagte vir Vandag

Donderdag, 21 Julie 2022

Koos Espach


Die vervolging van die apostels (1)


Jesus Christus is die volle boodskap van ‘n nuwe lewe


Hand. 5:17-20 – “Die hoëpriester en al sy ondersteuners, wat aan die party van die Sadduseërs behoort het, is met afguns vervul en het besluit om in te gryp. Hulle het die apostels oop en bloot laat vang en in die tronk gestop. Maar ‘n engel van die Here het in die nag die tronkdeure oopgemaak, die apostels uitgelei en vir hulle gesê: ‘Gaan staan in die tempel en verkondig aan die volk die volle boodskap van hierdie nuwe lewe.”


Vergelyk ook Joh. 6:68-69 – “Simon Petrus het Hom geantwoord: ‘Here, na wie toe sal ons gaan? U het die woorde wat ewige lewe gee. En ons glo vas en ons weet dat U die Heilige van God is.”


Die meerderheid van die Joodse Raad het bestaan uit die Sadduseërs en die hoëpriester het ook tot hierdie deel van die Raad behoort. Die Sadduseërs het ʼn hoë premie geplaas op die goeie orde by die tempel aangesien hulle in die goeie boekies van die Romeine wil bly. Hulle welvaart is afhanklik van die vrede en kalmte in Jerusalem. Die optrede van die apostels in weerwil van die verbod deur die Joodse owerheid vroeër, (4:18 en v. 21), was so geseënd, dat dit ’n nuwe aanslag teen hulle tot gevolg gehad het. Hierdie voortgesette verkondiging van die apostels in die Naam van Jesus, het nou gemaak dat die hoëpriester en die res van die Sadduseërs met nydigheid vervul was. Afguns en jaloesie het die oorhand by die Sadduseërs gekry.


Hulle kon dit nie verdra dat die verkondiging van die apostels al so ʼn groot merk in Jerusalem gelaat het nie. Veral nie nadat soveel tekens en wonders onder leiding van die apostels, plaasgevind het nie. Uit die volksmond het die storie dat Petrus iemand besonders was en dat mense selfs geglo het sy skaduwee hulle gesond sou maak. Die feit dat al hierdie wonders in die Naam van Jesus gebeur het, sou ook nie kon gebeur as Jesus dood was nie. Almal wat genees word, het juis hierdie feit dat Jesus leef, voorgehou as die wonder van hulle genesing! Daar is dus ʼn afgunstigheid teenoor die apostels oor die groot aanhang wat hulle verkondiging geniet. Hulle was briesend omdat die apostels openlik die bevel van die Joodse Raad minag en besig is om hulle “limelight” te steel.


“Die hoëpriester en die Sadduseërs het besluit om in te gryp,” hulle invloed by die volk was in gevaar. Deur die apostels in die gevangenis te plaas wat onder gesag staan van die Romeine, stuur die boodskap dat die Sadduseërs daadwerklike pogings aanwend om die vrede en orde in Jerusalem te handhaaf. God gryp egter op ’n wonderbaarlike wyse in deur ’n engel te stuur wat in die nag die deure van die gevangenis oopmaak, die apostels na buite lei en hulle beveel om met die verkondiging in die tempel voort te gaan. Hulle moet daar optree waar hulle gevange geneem is, “en aan die volk die volle boodskap van hierdie nuwe lewe gaan verkondig.” Die volle boodskap van hierdie nuwe lewe is die evangelie – “woorde wat ewige lewe gee– die boodskap van verlossing, die volle heil soos dit in Christus geopenbaar is, en deur die opstanding van Jesus werklikheid geword het.


Wat met Jesus gebeur het kan met niemand anders gebeur nie. Hy is gebore en het gesterwe soos alle ander mense, maar het soos niemand anders nie, opgestaan uit die dood. Niemand vóór Hom en tot op die dag van Sy wederkoms, sal iemand anders dit kan doen nie. Paulus skryf op grond van Jesus se opstanding: “Hy is deur die Heilige Gees aangewys as ‘die Seun van God’ wat met mag beklee is, Jesus Christus ons Here” (Rom. 1:4).


Johannes kon in sy evangelie nie ophou om klem te lê op verskillende seëninge wat geloof in die “Seun van God” vir ons bring nie, sodat hy selfs in sy briewe, voortgaan daarmee. God se allesomvattende en allesdeurdringende liefde word geopenbaar in die sending van Sy Seun na hierdie wêreld. Sy Seun moes nie net versoening tussen God en sondaars bring nie, Hy moes self die versoening vir ons sondes word! Die Ou Testamentiese soenoffer het ‘n priester en offerdier benodig, Christus Jesus was altwee! Die resultaat hiervan is ongekend en ongelooflik: Indien ek en jy glo wat die “Seun van God” vir ons gedoen het en steeds doen, ontvang ons die ewige lewe! Nie net ‘n nuwe wêreld gaan vir ons oop nie, maar ook die hemel – dit is die “volle boodskap van hierdie nuwe lewe”; dit is die evangelie – “woorde wat ewige lewe gee” – die boodskap van verlossing, die volle heil soos dit in Christus geopenbaar is, en deur die opstanding van Jesus werklikheid geword het, álles vir my en jou wat in Hom glo! WOW!


“Die genade, barmhartigheid en vrede wat van God die Vader kom en van Jesus Christus, die Seun van die Vader, sal by ons wees wat in die waarheid en die liefde is” (2 Joh. 3).


Gebed: Dankie Hemelse Vader, dat ek in geloof kan aanvaar dat Jesus U Seun is. Dit het geweldige implikasies want die ewige lewe kan niemand besit of verwerf nie, U skenk dit vir my deur U Seun, Jesus Christus. Dit is ‘n gawe wat ek nie kan verdien, kan koop of daarvoor werk nie, U skenk dit gratis uit genade. Dankie Jesus dat U die oorwinning gee. In diepe afhanklikheid buig ek voor U en bely saam met Johannes: “Wie die Seun het, het die lewe; wie nie die Seun van God het nie, het ook nie die lewe nie (1 Joh. 5:12). Dankiedankiedankie dat ek hierdie waarheid ontdek het. Vader, skenk aan hulle wat dit nie weet nie, die insig om Jesus as U Seun te aanvaar sodat hulle óók die Lewe kan hê. Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page