top of page

Gedagte vir Vandag

Donderdag, 7 Julie 2022

Koos Espach


Onderlinge mededeelsaamheid (3)


God gebruik elkeen se gewone gawes vir ‘n unieke bydrae


Hand. 4:36-37 – “Josef ‘n Leviet wat op Siprus gebore is en wat deur die apostels Barnabas genoem is – dit beteken iemand wat mense moed inpraat – het ook die grond wat hy gehad het, verkoop en die geld gebring en dit vir die apostels gegee.”


Dit blyk dat Lukas net so terloops vir Barnabas, ‘n Leviet, as een van die gemeentelede uitsonder. Ons kan nie anders as om nog ‘n slag by hom stil te staan nie. Hy verdien eintlik ‘n plek in die harte van Christene van alle eeue, insluitend ons Christene in die 21ste eeu. Hy was ‘n man wat uitnemend daarin geslaag het om sy gawes in diens van sy roeping in die kerk en God se koninkryk in te span. Sy familie het waarskynlik ’n tyd tevore uit Siprus gekom en hulle in Jerusalem gevestig het om daar te wees wanneer die Messias verskyn. Om hulle Messiaanse heil te verseker, het hulle ook in of naby Jerusalem ’n stuk grond gekoop, veral grond vir ’n familiegraf. ‘n Ander moontlikheid is dat die grond in Siprus was omdat die stam van Levi nie in Israel grond mag besit het nie, ons weet nie. Barnabas het egter “die stuk grond wat hy besit het, verkoop en die opbrengs daarvan gebring en vir die apostels gegee.”


Barnabas is moontlik een van die mees onvertelde en onderskatte verhale in die Bybel. Hy het ‘n fenomenale bydrae tot die eerste kerk en die vestiging van die koninkryk gemaak. Woorde ontbreek eintlik om sy bydrae na waarde te skat. Hy is vir almal van ons ‘n voorbeeld van iemand wat sy gawes tot voordeel van die kerk en in diens aan die Here aangewend het. Hy was veral ‘n bemoediger, soveel so dat dit sy bynaam geword het. Hy illustreer vir ons hoe ‘n Christelike lewenstyl werk. Daarom wil ons meer fokus plaas op wat die Heilige Gees deur die lewe van Barnabas gedoen het. As ons regtig luister na God en saam met ander Sy stem hoor, moet dit altyd ons ook lei tot ’n nuwe manier van leef, ’n nuwe lewenstyl aankweek.


Barnabas doen dus wat die ryk jongman in Lukas 18:18-30 nie wou doen nie. Hy doen afstand van sy besittings om Jesus te volg en vestig daarmee ‘n reputasie as iemand met ‘n groot en warm hart. Daarmee vestig hy ook ‘n baie belangrike beginsel van mededeelsaamheid en vrygewigheid wat die Christelike gemeenskap van alle tye sou beïnvloed. Natuurlik is hy nie die eerste wat dit doen, en ook nie die laaste nie.


Ons leer uit hierdie verhaal dat God spesifieke mense roep, dat Hy ons afkoms en gawes gebruik. God het elkeen van ons uniek “ontwerp” om seker te maak daar is nie duplikate in die wêreld nie. Toe God my klaar gemaak het, het Hy, met respek, die resep weggegooi. Net ek kan ek wees en net jy kan jy wees. Dit beteken niemand anders op aarde kan ooit die rol vervul wat God vir my en jou afsonderlik beplan het nie. As elkeen van ons nie ons unieke bydrae tot die Liggaam van Christus maak nie, sal dit nooit gemaak word nie. “Daar is ‘n verskeidenheid van genadegawes ... van bedieninge ... van kragtige werkinge ... Aan elkeen afsonderlik word ‘n werking van die Gees gegee tot voordeel van almal” (1 Kor. 12:4-7) – gawes en vermoëns wat God geskenk het aan my en jou om Hom te dien!


Ons moet soos Barnabas, net reageer daarop met ‘n basiese beginsel van “wat ons ook al doen, alles tot eer van God doen” (1 Kor. 10:31), en “tot voordeel van almal.” Die belangrikste kenmerk wat ons hier van Barnabas se lewenstyl in sy verhaal opmerk, is sy vrygewigheid. Daardeur het hy die eerste gemeente bemoedig en versterk in hulle eie mededeelsaamheid. Is dit nie maar ook deel van ons rentmeesterskap om God te dien nie? God het immers die blymoedige gewer lief (2 Kor. 9:6-7b)! Vrygewigheid is om in die praktyk te demonstreer dat alles wat ek en jy het en is, van God af kom (Ps. 24:1). Dit is om sistematies en doelbewus God se liefde aan ander te bewys deur ons gawes met hulle te deel.


Kom ons leer om in te val by God se voorskrifte met die bestuur van ons gawes, en gebruik Barnabas as voorbeeld van vrygewigheid. Maar hoe beplan ‘n mens die geestelike gewoonte van vrygewigheid? Ds. Johan het verskeie kere in ons gemeente ‘n eenvoudige voorbeeld voorgehou: “Wanneer iets in jou kas is wat jy die laaste jaar nog nie gebruik of gedra het nie, sal iemand anders dit wel kan gebruik.” Kom ons kyk wat ons regtig nie meer nodig het nie en oorweeg biddend met wie ons dié goed kan deel en gaan beoefen vrygewigheid deur hulle daarmee te seën. Die Here wil nie hê Sy kinders moet nood hê nie. Kom ons wees Sy hande en voete. “Lê jou daarop toe om jou tot beskikking van God te stel as ‘n arbeider wat die goedkeuring van God wegdra ...” (2 Tim. 2:15a). Hoeveel plek is daar in my en jou hart vir ander se nood?


“Geestelike groei is alleen moontlik wanneer ons ons gawes tot eer van God gebruik” (Jean Vanier).


Gebed: Dankie Heer dat U aan my voorsien. Open my oë vir mense in nood. Laat my help met ‘n gees van vrygewigheid en bemoediging, tot U eer. Amen.

Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page