top of page

Gedagte vir Vandag

Dinsdag, 21 Junie 2022

Koos Espach


Petrus en Johannes voor die Joodse Raad (13)


Jesus Christus: Die skeidingmaker


Hand. 4:21-22 – “Nadat die Raad die apostels daarby nog ernstig gedreig het, het hulle hulle losgelaat. Hulle het dit gedoen omdat hulle geen rede kon vind om hulle te straf nie en vanweë die houding van die volk, want al die mense het God geprys oor wat daar gebeur het. Die man wat deur hierdie wonder gesond geword het, was immers al oor die veertig.”


Vergelyk ook Joh. 15:18-21 – “As die wêreld julle haat, onthou: Hy het My voor julle gehaat. As julle aan die wêreld behoort het, sou die wêreld julle as sy eiendom liefgehad het. Omdat julle egter nie aan die wêreld behoort nie, maar Ek julle uit die wêreld uitgekies het, daarom haat die wêreld julle ... As hulle My vervolg het, sal hulle julle ook vervolg. As hulle My woorde ter harte geneem het, sal hulle julle s’n ook ter harte neem. Maar hulle sal dit alles aan julle doen omdat julle my Naam bely en hulle Hom nie ken wat My gestuur het nie.”


Met die lees van vandag se teksvers, kon ek nie anders as om die kontras daarvan te besef nie: die volk het verstaan waaroor alles gegaan het en “het God geprys oor wat daar gebeur het.” Die sogenaamde godsdiensleiers-elite van die volk, ons kan amper sê die “algemene sinode” van daardie tyd, verstaan nié! Die volk het die wonder van die verlamde se genesing gesien, of moontlik daarvan gehoor, en God daaroor geprys. Hulle het begryp dat daar iets besonders gebeur het, wat alleen God se handewerk was. Daarom het hulle God geëer, en nie die apostels nie. Die Joodse Raad daarenteen, wou niks van Jesus weet nie. Al wat hulle doen, is om die apostels te laat gaan, nadat hulle Petrus en Johannes met verdere dreigemente verbied het om met hulle prediking voort te gaan, indirek, eintlik op te hou om God te prys.


Die volk moes diep onder die indruk van hierdie wonderwerk verkeer het. “Die man wat gesond geword het, was immers al oor die veertig,” sodat sy genesing ná so ’n lang siekte, alleen die gevolg van ’n wonder kon wees. Die wonder wat dus gebeur het, wys heen na iets anders – in hierdie geval dat Jesus leef! En Petrus het die Raad reeds meegedeel dat “Jesus Christus wat God uit die dood opgewek het” (v. 10), vir die genesing verantwoordelik is. ‘n Dooie kan tog nie iets aan die toestand van ‘n man doen wat al 40 jaar verlam was nie!


Hierdie vertelling van Lukas oor die wondergenesing en die gevolge daarvan, vind ons dieselfde situasie as in die geval van Jesus. Petrus en Johannes ontvang sommer vroeg in hulle bediening, dieselfde teenstand as Jesus. Die vyandige Jode was destyds die verteenwoordigers van die wêreld, en omdat hulle die Ou Testament besit, meen hulle dat hulle God ken. Tog weier hulle om te erken dat Hy Jesus gestuur het. Hulle lê geen verband tussen God en Christus nie en haat hulle almal, wat deur Christus die ware kennis van God verkry het en openlik daarvan getuig. In die antieke wêreld was die gedagte dat mense wat nie in jou groep behoort nie, eintlik jou vyande is. En dit is vandag nog so – dit gaan om die vyandige mag wat hom stel teenoor die koninkryk van die lig!


Hoekom is dit so maklik vir ongelowiges om Christene te haat en te beledig? Wat is dit dat Christen-regverdigheid, ongelowiges laat aanstoot gee en selfs laat verag? Omdat Christene anders is as die wêreld! “In die verlede toe julle nog heidene was, is julle lewe lank genoeg beheers deur julle heidense begeertes: losbandigheid, wellus, dronkenskap, swelg- en drinkpartye en afskuwelike afgodery. Nou vind die heidene dit vreemd dat julle nie langer met hierdie stroom van losbandigheid saamgaan nie, en hulle beswadder julle” (1 Pet. 4:3-4). Hulle is kwaad omdat hul pelle nie meer saam kuier nie en beskou die pelle selfs as dwase wat die “lekker lewe” verruil het vir ‘n onsienlike God.


Haat vererger wanneer daar nie gedeel word in ander se korrupte lewenswyse nie. ‘n Broer-in-misdaad maak dit makliker om te erken dat “almal dit tog doen.” Die ongelowige staan dan skielik alleen wanneer “almal” Christene is of Christene word. Die haatdraendes se gode is hul sondige wellus en dit skei hulle van die “skynheiliges.” Die keuse lê by elke mens. Al wat Jesus vra is dat ek en jy ons lewe vir Hom moet gee: “As die wêreld julle haat, onthou: hy het My voor julle gehaat ...” Jesus sal vir die res sorg. “God het ons die voorreg gegee om Christus te dien, nie alleen deur in Hom te glo nie, maar ook deur vir Hom te ly” (Fil. 1:29). Die heerlikste vrug van geloof is die sekerheid dat God by ons is en ons liefhet. Dit laat alles wat in my en jou lewe gebeur, sinvol in hulle regte plek val, en ons as oorwinnaars in Christus laat leef.


“Daar is net twee soorte mense: dié wat vir God sê: ‘Laat U wil geskied’, en dié wat dit nie wil doen nie en vir wie God uiteindelik sê: ‘Laat jou wil geskied” (CS Lewis).

Gebed: Dankie God van hemel en aarde, dat ek kan vashou aan ‘n belofte wat ewigheidswaarde het. Dankie Jesus dat ek ‘n lewe saam met U kan hê al is dit nie ‘n probleemlose aardse lewe nie. U maak egter die lewe vir my ‘n oorwinning, ten spyte van my probleme. Dankie o Gees dat U in my woon, nie om my van ‘n gemaklike lewe te verseker nie, maar juis om my in moeilike tye by te staan. Amen.

Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page