top of page

Gedagte vir Vandag

Woensdag, 8 Junie 2022

Koos Espach


Petrus en Johannes voor die Joodse Raad (6)


Geen ander naam vir verlossing nie


Hand. 4:12 – “Toe het Petrus, vol van die Heilige Gees, vir hulle gesê: Hý bring die verlossing en niemand anders nie. Daar is geen ander naam op die aarde aan die mense gegee waardeur God wil dat ons verlos moet word nie.”


Petrus staan voor die hoogste godsdienstige en regsprekende liggaam van Israel se leiers. Ál die belangrike manne wat betrokke en aandadig was by Jesus se kruisiging, was ook daar. Hulle was genoeg om enige Jood bang te maak! Maar Petrus is nie bang nie, hy is immers “vol van die Heilige Gees!” Te midde van vervolging, kyk hy hulle vierkantig in die oë en met vrymoedigheid bevestig hy dat “daar geen ander Naam op die aarde aan die mense gegee is waardeur God wil dat ons verlos moet word nie: net Jesus s’n!” Hierdie Jesus leef en dis nét Hy wat mense in die regte verhouding met God kan bring. Daar is letterlik geen ander een op aarde na wie toe mense kan draai nie – “Hy bring die verlossing en niemand anders nie.” Dít is wat Jesus so anders maak as enige ander godsdienstige leier. Al die ander is dood en begrawe. Net Jesus Christus van Nasaret se graf is leeg! Petrus, Johannes en baie ander was getuies dat Hy opgestaan het uit die dood (Joh. 20-21).

As Messias is Jesus Christus die hoeksteen van God se volledige heilsplan. Daarom is daar alleen bý en déúr Hom verlossing. Dit is een van die laaste geleenthede hierdie dat aan die Jode baie duidelik gestel word dat verlossing alleen by Jesus te vind is, en dit lei ook die krisis in wat uitloop op die losmaking van die band tussen die Christene en Jodedom. Die Jode het gedink dat hulle die saligheid kon verwerf deur die doen van goeie werke of op grond van hulle afstamming van Abraham af, (Matt. 3:7 e.v.). Maar dit word baie duidelik gestel dat daar net een weg en moontlikheid, ook vir hulle, bestaan: deur Jesus Christus van Nasaret.


Deesdae is dit mode om te sê dat alle godsdienste gelyk is en dat een nie beter is as ‘n ander nie. Ons Grondwet maak selfs voorsiening vir godsdiensvryheid, en in ‘n diverse staat, veral soos Suid-Afrika met sy verskillende kulture, is dit reg en word dit ook so respekteer. Maar dit veroorsaak ongelukkig dat baie mense en instansies ook “godsdiensgelykheid” voorstaan, maak nie saak want volgens hulle, “aanbid ons tog almal dieselfde god.” Dan het ek ook al iemand hoor sê dat ons Christene vermetel is om te dink dat ons die enigste godsdiensgroep is wat die waarheid beet het.


Het jy al gewonder of jy die regte godsdiens beet het? Wanneer ek so na al die ander godsdienste kyk en sien hoe dedicated hulle is, hoeveel moeite hulle doen en die ure wat hulle opoffer vir hulle geloof, het ek ook al gewonder of ons op die regte paadjie is. Was ek dalk net gelukkig om in ’n Christelike huis groot te word? Waar sou ek vandag gewees het as ek van jongs af aan ander godsdienste blootgestel was? Laat mens wonder? Ek sluit gewoonlik die warboel van gedagtes af met vertroostende denke oor wat Petrus hier getuig. As wat hy en Johannes hier as ooggetuies van Jesus Christus se opstanding getuig, waar is, kan die ander mos nie waar wees nie! Wonder jy ook soms?


Gelukkig hoef ons nie ons koppe te breek hieroor nie. Wat sê die Bybel? God se Woord kom gee vir ons gemoedsrus: “Oor een ding hoef ’n mens nie te twyfel nie, naamlik dat ons godsdiens nie iets is wat ons kon uitgedink het nie. Dit was God se geheim en gaan oor Jesus: ‘Jesus het mens geword en die Gees het dubbel en dwars beklemtoon dat Jesus aan die regte kant staan. Die hemelse wesens het Hom gesien, sy boodskappers het al die nasies van Hom vertel en deur die hele wêreld het mense in Hom begin glo. Hy is na God toe in die hemel waar almal kan sien hoe belangrik Hy is” (1 Tim. 3:16 – Die Boodskap).


Hoe het ons as kinders gesê? Dit is “true soos nannies!” Ek en jy kan nou maar ophou wonder of ons in die regte God glo. Hier sê Paulus dit vir ons in ’n brief wat amper 2 000 jaar gelede geskryf is. En sentraal in ons geloof hang Jesus aan die kruis waar Hy vir my en jou die hekke van die hemel oopgesterf het. Petrus bevestig dit ook in een van sy briewe: “Ons het ons verseker nie op mites verlaat toe ons vir julle vertel het van die krag van ons Here Jesus Christus en sy wederkoms nie. Met ons eie oë het ons Hom in al sy koninklike prag gesien” (2 Petrus 1:16).

Nou kan jy vir my sê dat al die ander godsdienste het ook sulke “redders” en heilige boeke. Waar lê die verskil dan? In die feit dat Jesus nie aan ’n kruis bly hang het of in ’n graf bly lê het nie. Nee, ons Jesus is anders, want God het Hom laat opstaan uit die dood. Hy het Hom laat opvaar na die hemel, waar “Hy aan die regte kant staan”. Jy sien, God is sterker as die dood. Vir al die ander godsdienste is hierdie laaste hekkie die een waaroor hulle elke keer val. Kom ons wees verdraagsaam teenoor ander standpunte en skep ruimte vir ander godsdienste. Gaan maak ’n verskil aan alle mense daar buite – maak nie saak waarin hulle glo nie. Kom ons leef ons lewe as verloste kinders van God op grond van, en in die Naam van Jesus Christus wat die verlossingswerk vir ons aan die kruis gedoen het.

“I am an historian, I am not a believer, but I must confess as an historian that this penniless preacher from Nazareth is irrevocably the very centre of history. Jesus Christ is easily the most dominant figure in all history” (H.G. Wells).


Gebed: Here, dankie dat ek in U, die enigste lewende God kan glo. Help my om so te leef dat dit my geloof weerspieël. Mag ander anders wees, omdat ek juis daardie geloof uitleef. Help my om gehoorsaam te wees aan wat U vir my sê. Dankie Jesus, dat U redding vir my genoeg is. Amen.

Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page